Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Rubrieke | Columns > André Crous: Nabyskoot

Invictus sal Suid-Afrikaner én buitelander boei


André Crous - 2009-12-11

Regisseur: Clint Eastwood
Kamerawerk: Tom Stern
Rolverdeling: Morgan Freeman, Matt Damon, Marguerite Wheatley en Adjoa Andoh
Speeltyd: 130 minute
Uitreikingsdatum in Suid-Afrika: 11 Desember 2009



Blykbaar vind buitelandse toneelspelers die aksent van Afrikaanssprekendes wat Engels praat een van die moeilikstes om te bemeester. Ek weet nie hoeveel waarheid daarin steek nie, maar ek weet dat ek dit nog nie met volslae sukses uitgebeeld gehoor het nie. Thomas Jane in Stander was nie heeltemal onbekwaam nie, maar Leonardo diCaprio in Blood Diamond is deur talle kykers uitgejou. In Clint Eastwood se jongste film, Invictus, kom Matt Damon (wat Francois Pienaar vertolk) egter baie na daaraan om dié breker van ’n aksent baas te raak.

As Suid-Afrikaner kan ek die gevoel en die gebeure rondom die 1995 Wêreldbeker-rugbytoernooi baie goed onthou en as sulks word hierdie resensie meer as gewoonlik deur my eie herinneringe gekleur – des te meer omdat dit nie net ’n eenmalige gebeurtenis is wat deur die film aangespreek word nie, maar ook die algemene kultuur van die land waar ek die grootste deel van my lewe woon.

Dikwels veroorsaak sulke raakpunte dat ’n resensent negatief reageer op hierdie of daardie verdraaiing van die werklikheid. Daar is wel sulke gevalle, en ek sal hulle aanspreek, maar ek moet erken dat die film ’n emosionele slag slaan wat dit ’n verrassend suksesvolle uitbeelding maak van een van die kerngebeure in die onlangse Suid-Afrikaanse geskiedenis – en dit nogal deur ’n buitelander.

Hoewel ek nie rugby kyk nie, het 1995 sonder twyfel die hele Suid-Afrika betower (my inkluis) en onthou ek die deurweekte halfeindstryd tussen Suid-Afrika en Frankryk in Durban goed. Tree vir tree het die Springbokke die nasie se verwagtinge oortref en uiteindelik (dit is die film se effens idealistiese sentrale boodskap) die volk verenig, ten spyte van sy veelbewoë verlede. Óf dit nou die film self óf my nostalgie is wat sulke emosies by my losmaak, is nie van belang nie – ek weet ek gaan nie al kyker wees wat hoendervleis kry wanneer die SAL-vliegtuig voor die eindstryd oor Ellispark seil nie.

Dit beteken dat die film werk vir dié kykers wat gewoonlik die moeilikste is om tevrede te stel: Dié wat die oorspronklike gebeure ervaar het. Selfs al is die eindtelling lankal bekend, is die reis deur die verlede steeds interessant.



Die verhaal draai om Nelson Mandela se wens om deur middel van rugby, ’n sport wat dekades lank eerder met wit as met swart verbind is, die land te verenig in ’n gees van post-apartheid-patriotisme. Dit is natuurlik ’n simplistiese lees van die geskiedenis, maar as basis vir hierdie film werk dit heel goed.

Die enigste groot beswaar wat ek het, is dat die einde te netjies is. Die land het, danksy dié oorwinning, ’n groot tree vorentoe gegee, maar wonderwerke kon dit nie verrig nie. Die uitbundigheid van alle Suid-Afrikaners by die eindstryd is korrek, maar die skielike ommeswaai in rasseverhoudinge – die wit polisiemans wat ’n swart seuntjie die lug in optel – vind net plaas in Eastwood se droomwêreld.

Só ook die feit dat daar byna geen ou landsvlae by Ellispark te sien is nie, terwyl byna alle ondersteuners nog die ou vlag by die openingswedstryd teen Australië gewaai het. Dit alles beeld die temas van versoening en vooruitgang baie mooi uit, maar is filmies eerder as histories korrek.

Morgan Freeman se vertolking van Nelson Mandela is puik – hy het Mandela se maniërismes fyn bestudeer en daar is ’n warmte aan sy interaksie met almal om hom. Matt Damon, wat in die onlangse Steven Soderbergh-film, Che: Part Two, slegs Spaanse dialoog gehad het, kwyt hom ook goed van sy taak in Invictus en die Afrikaanse frases wat hy hier en daar gebruik, val goed op die oor. Die fokus op Mandela se karakter en persoonlike lewe beteken ongelukkig dat Francois Pienaar as mens tot ’n groot mate afgeskeep word.

Solank dit buitelanders is wat films oor Suid-Afrika maak, sal dit moeilik wees om ’n akkurate uitbeelding van die land en van sy mense te kry, maar Eastwood se film vang die gees van 1995, en van die plek en van sy mense, baie goed vas in ’n verhaal wat Suid-Afrikaner sowel as buitelander sal boei.

Klik hier om die voorprent op YouTube te kyk.