Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Onderhoude | Interviews > Afrikaans

Nuwe Stemme 4: Shané Kleyn gesels met Bibi Slippers


Bibi Slippers - 2009-09-29

Hoe sou jy jou skryfstyl beskryf?

Ek dink my skryfstyl vloei direk uit my huidige swerwersleefstyl ... ’n vermenging van Engels en Afrikaans, bekende en vreemde elemente, rympies uit die oude doos en visioene uit die toekoms, ’n mash-up van natuur en tegnologie. Dis ’n kleivoet-rondtrappery terwyl ek ’n pad soek wat werk en nie te vinnig vervelig raak nie.

Wie is jou gunstelingdigter of grootste inspirasie?

Ek het 700 gunsteling-digters en my lys hou aan groei – maar die Kanadese digter Elizabeth Bachinsky is tans boaan die lys. Haar boek God of missed connections is net so ’n groot inspirasie soos kos, verhoudings, seer spiere, riviere en die verlang van elke dag.

Wat sou dit vir jou beteken om opgeneem te word in Nuwe Stemme 4?

Ek het die skrywers in Nuwe Stemme 1 bewonder, ek was verlief op die Stemme in nommer 2 en verskriklik jaloers op dié in nommer 3. Nadat nommer 3 verskyn het, het ek myself stilweg êrens in my hart belowe dat ek ten minste sal probeer vir nommer 4. Om in Nuwe Stemme 4 opgeneem te word sal vir my ’n persoonlike sirkel voltooi, en hopelik ook die weg aanwys na die begin van die volgende sirkel.

Hoe voel jy oor die standaard van die Afrikaanse digkuns op die oomblik?

Dis soos om te vra hoe mens voel oor die standaard van jou geliefde. Ek sukkel om dit so te kwantifiseer. Elke nuwe Afrikaanse stem is soos ’n nuwe aspek van die geliefde se persoonlikheid wat jy ontdek, en mens reageer verskillend op verskillende ontdekkings. In die afgelope paar jaar was daar ’n paar sulke ontdekkings wat my asem weggeslaan het – Carina Stander en Danie Marais se debuutbundels is twee wat uitstaan. ’n Ander ding wat my opgewonde maak, is dat ek wéét daar is nog soveel talent wat sluimer en broei. Ek ken ’n paar van die mense in wie my hoop rus, persoonlik, en ek wag in spanning om te sien hoe en waar en wanneer hulle met mening gaan ontwaak.

Dink jy die nuwe performance poetry op kunstefeeste lewer ’n belangrike bydrae tot die bekendstelling van die poësie, en woon jy self poësievoorlesings by?

Ek kan nie regtig praat oor wat in Suid-Afrika aan die gang is nie, maar ek was onlangs by die Queensland Poetry Festival in Brisbane en het ook voorlesings in Auckland bygewoon, en ek het gemengde gevoelens oor die performance poetry wat ek daar beleef het. Ek het na ’n paar sessies by die QPF buite gaan sit en in trane uitgebars – ek wou regtig nie meer ’n digter wees as dit die stand van sake is nie. Ek sukkel om verby die posers en pretensieuses te sien en die woorde te hoor. My oë werk nou maar eenmaal beter as my ore, maar ek dink nie dis vir almal waar nie. En daar is digters met ’n gawe vir performance wat werklik hulle woorde laat lééf (hulle is bietjie skaars aan dié kant van die wêreld; ek hoop daar is meer in Suid-Afrika!). Soos met alles is dit ’n smaak-saak, en my smaak neig na die "less-is-more"-voorlesings van daardie digters wat genoeg vertroue in hulle eie woorde het om dit nie te probeer opdollie nie. Die ander maak my bietjie naar. Maar ek glo dat daar mense is wat meer hou van luister as lees, en in daardie opsig is performance wonderlik, want ten minste maak dit die woordwêreld ’n bietjie wyer.

 

<< Terug na Nuwe Stemme 4-blad <<