![]() |
Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012) This is the LitNet archive (2006–2012) |
||||
|
Morné Malan - 2009-09-03 ![]() Ek lees met groot belangstelling Jaco Barnard-Naudé se dinkwerk oor Fritz Gaum se publieke verskoning aan Joan Hambidge in Rapport, Weekliks van 8 Augustus 2009. Hy skryf onderhoudend en vermaaklik hieroor en lees daarmee saam Jacques Derrida se idees rondom die transaksionele aspekte van vergifnis. Hy verwys spesifiek na die teks “Derrida, On Forgiveness” in J Derrida, M Dooley en M Hughes se On Cosmopolitanism and Forgiveness (2001). Ek sal onmiddellik toegee dat ek nie met hierdie teks “bekend” is nie, maar wil in dieselfde asem sê dat ’n dekonstruktiewe benadering tot etiese begrippe nooit ’n netjies-voltooide teorie is wat in ’n enkele teks “vasgevat” of “opgesom” staan, of onvoorwaardelik en uitsluitlik aan Derrida toegedig kan word nie. Nie dat dit Barnard-Naudé se bedoeling is nie – ek wil bloot aandui dat Derrida hom ook op verskeie ander geleenthede oor vergifnis uitgelaat het, onder andere in ’n reeks lesings wat hy gedurende Augustus 1998 by verskeie Suid-Afrikaanse universiteite gelewer het. (Kyk byvoorbeeld hier.) Ek neem dus aan dat Barnard-Naudé met my sou saamstem dat ’n dekonstruktiewe lesing van enige diskoers “uiteraard” (die aanhalingstekens hier is opsetlik) onvoltooid en voorlopig bly, juis omdat dit begrippe soos voltooidheid, essensie, suiwerheid, “aard” en die absolute ondermyn – ja, selfs by die lees van Derrida, óf by Barnard-Naudé se lesing van die Hambidge-Gaum-kwessie, óf hier by my eie lesing van Barnard-Naudé. Dit verhoed my dus nie om uit eie geledere ’n paar dekonstruktiewe stokke speels in Barnard-Naudé se wiele te steek en te kyk wat val af nie. Ek is dit heeltemal met hom (en Derrida) eens dat die begrippe vergifnis en versoening “verskillend” is en nie met mekaar in publieke en politieke diskoers verwar moet word nie. Ek is dit ook met hom eens dat dit wil voorkom asof Gaum se apologie die versoeningsaspek daarby wil betrek as ’n soort ruiltransaksie. Maar wanneer Barnard-Naudé die konsep van suiwer vergifnis bespreek, is daar na my mening ’n belangrike nuansering wat in sy lesing van Derrida verlore gaan – ’n soort blindekol wat Barnard-Naudé se argument oopstel vir verdere dekonstruksie. Hy is korrek wanneer hy aanvoer dat Derrida die begrip van suiwer vergifnis teenoor gekontamineerde vergifnis stel, met ander woorde, die Jesus-vergifnis wat niks in ruil daarvoor verwag nie, teenoor die ruil-vergifnis wat voorwaardelik en kontraktueel is. Hy is ook oortuigend in sy bespreking van die “radikale” kwaliteit van suiwer vergifnis wat nie “in diens” staan van “enige pragmatiese uitkoms nie”, en dat suiwer vergifnis slegs die onvergeefbare kan vergeef. Maar dan versuim hy tog om te noem dat Derrida dié soort vergifnis as onmoontlik sien. Ek haal die vertaalde Derrida direk uit die aangehegte You Tube “clip” aan: “The gesture that I make when I talk of pure forgiveness, is a different gesture. I try to explain that any type of pure forgiveness is impossible and that one can only truly forgive that which is unforgiveable” (my kursivering). Hoekom is die woord impossible hier belangrik, en waarom is die weglating daarvan in Barnard-Naudé se lesing beduidend? Omdat dit die indruk mág skep dat hy wil glo dat absolute vergifnis wél op een of ander wyse moontlik is. Dit kom duideliker aan bod wanneer hy die teenoorgestelde, transaksionele vergifnis beskryf as “die meer algemene vorm van vergifnis wat vandag die rondte doen” (my kursivering). Moet dit nie eerder as die "enigste moontlike" vergifnis beskryf word nie? Die vraag wat hieruit volg, is ooglopend: Is daar so iets soos “absolute” vergifnis, selfs in die Jesus-ideaal? As Barnard-Naudé wil beweer dat so iets wel moontlik is, loop hy die gevaar om weer eens ’n aanvegbare opposisie en, daarmee saam, ’n soort valse hiërargie in sy argument te probeer vooropstel: absolute vergifnis teenoor transaksionele vergifnis. Jesus se kwytskelding teenoor polities-kerkse kwytskelding. In al twee gevalle word die eersgenoemde by implikasie effens bokant, effens beter as, die ander gesien en dit wil voorkom asof hy Gaum voor ’n onmoontlike ideaal daag. Gaum se apologie aan Hambidge, argumenteer hy, is transaksioneel omdat dit in die “openbaar” (sy woord) gemaak is sodat almal – Hambidge inkluis – daarvan kon notisie neem en op voorwaarde daarvan dat Hambidge Gaum vergewe. “Sou ’n verskoning in die pos of per e-pos nie gedeug het nie,” vra hy, en as daar nie van Hambidge verwag is om haar vergifnis daarvoor in ruil aan te bied nie? Ek wil egter die volgende vrae hierop stel: Is dié soort private (my woord) verskoning wat Jaco hier wil hê, nie alreeds transaksioneel bloot omdat dit Hambidge daarby betrek nie, ongeag wat haar reaksie daarop mag wees? Tweedens, en dit sluit by die eerste vraag aan, wat presies is die verskil tussen “privaat” en “openbaar”? Hoeveel mense is nodig vir iets om “openbaar” te wees, en hoeveel is betrokke by die “private”? Is “absolute” (en die aanhalingstekens is weer opsetlik) privaatheid nie juis iets waarby slegs ’n enkele persoon – en nie ’n tweede nie – betrokke is nie? Voor ons verder oor hierdie vrae besin, moet ons eers terugkeer na die idee van ’n hoër vorm van vergifnis: Jesus as die voorbeeld van ’n “onvoorwaardelike” vergewer van die Ander, sonder om enigsins daarvoor vergoed te wil word. As ’n mens egter mooi daaroor dink, is selfs die onvoorwaardelikheid van die-ander-wang-draai ’n illusie. Al “doen” die oorspronklike kwaaddoener niks om die gawe van die vergewer se vergifnis te aanvaar nie, betrek dit hom/haar nog steeds by die transaksie bloot omdat dit ten aanskoue van hom/haar aangebied word en hy/sy dus daarvan kennis neem. Die effek daarvan kring uit: Ek gee vir jou ’n geskenk. Of jy dit vat of nie, maak geen verskil nie. Al laat val ek my aalmoes by jou voete terwyl jy jou hande agter jou rug hou en jou kop wegdraai, het ek dit nog steeds gegee. Ek het my kant van die saak nagekom. Ek het my ander wang vir jou gedraai en jy het dit gesien. Nou kan ek beter voel daaroor. Ek kry dus tóg iets in ruil vir my gawe, al is dit dan net genoegdoening, tevredenheid, klaarheid, en al neem jy bloot kennis daarvan sonder om my noodwendig iets in ruil daarvoor te gee. Die implikasie hiervan vir die Gaum-Hambidge-onderonsie is dan selfs nog meer “radikaal” (ook ’n glibberige term wat nie netjies aan ’n dekonstruktiewe klerehanger wil hang nie) as wat Barnard-Naudé se oplossing wil voorstel. Sou ’n groter, beter, hoër vergifnis dan nie een wees waarvan die kwaaddoener nie eens kennis neem nie? Een wat in die absolute privaatheid van die slagoffer se eie self gebeur sonder enige herkenbare teken wat deur iemand anders (in die openbaar) gelees kan word nie? Dan is die ope vraag natuurlik: Kan mens dit nog vergifnis nóém as hoegenaamdgeen ander persoon daarby betrokke is nie? Maar weer eens is die ontransaksionele hier ’n illusie. Nog steeds bly dit ’n transaksie. Selfs al vergewe ek iemand in my kop sonder dat die oortreder daarvan weet – byvoorbeeld ’n persoon wat reeds oorlede is – betrek dit nog steeds daardie persoon in sy afwesigheid en neem ek self nog steeds daarvan kennis. (Lees hier ook Derrida oor die aanvegbare teenstelling “teenwoordigheid” teenoor “afwesigheid”.) Ek begeef my al klaar weer in ’n soort ruiltransaksie, al is dit net met myself: ek vergewe, en ek kry berusting in ruil daarvoor. Sal die “innerlike” vergifnis dan nie weer noodwendig sekere “uiterlike” tekens meebring wat vir ander leesbaar sal wees nie? As ek reg onthou, het Derrida ook oor die teenstelling “innerlike” teenoor “uiterlike” – “binne” teenoor “buite” – ’n paar gedagtes gehad. Niks is ooit volledig binne, of volledig buite, nie. Die een impliseer en betrek onmiddellik en noodwendig die ander. Ten slotte (of om mee af te skop?): die idee van vergifnis blyk dus deurgaans en tegelykertyd ’n private én ’n publieke, ’n transaksionele én ontransaksionele verskynsel te wees, en nooit uitsluitlik die een of die ander nie. Of Gaum nou sy apologie aan die groot klok wou hang of nie, en of Hambidge dit by hom wou vat of dit wou los, die transaksie is reeds beklink. Ek sou dus versigtig wees om Gaum se openbare apologie as “niksseggend” te beskryf, juis omdat dit dan die moontlike latere apologie van Gaum aan al die veronregte “gay mans (en vroue)” onmiddellik in twyfel sou trek. Hoe veronderstel Barnard-Naudé sou Gaum anders om verskoning kon vra as noodwendig in die publiek? Ek is ook ’n gay man en voormalige lidmaat van die NG Kerk en ek wag self gretig op daardie ekskuus. Maar ás dit kom, sal ek nie omgee as dit in die openbaar gemaak word nie. Solank dit kom.
|