![]() |
Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012) This is the LitNet archive (2006–2012) |
||||
|
Johann Lodewyk Marais - 2008-11-04 Vader Bonaventure Hinwood, of Ted soos hy onder sy vriende bekend is, het my gevra om vanmiddag oor Seevlak tot savanna (Bent, 2008) te praat.[1] Die rede is dat die bundel "gedigte oor die natuur bevat". Ek het die uitnodiging onmiddellik aanvaar, aangesien ek oor 'n tydperk van byna 'n kwarteeu met vader Bonaventure se werk vertroud geraak het. My eie belangstelling in en betrokkenheid by die poёsie is immers baie deur hierdie literêre vriendskap gevoed. Daarom wil ek begin deur 'n een en ander oor my kennismaking met vader Bonaventure en sy werk te vertel. Dit gaan terug na die begin van 1986 toe ek 'n besoek aan hom by die Sint Johannes Vianney-kweekskool gebring het. Voor die besoek het ek uit verskillende oorde verneem van die rol wat hy sedert die 1960's gespeel het om aan jong, opkomende digters die geleentheid te bied om hulle werk te bespreek. Die meeste van hierdie digters het in 'n meerdere of mindere mate 'n rol tydens Sestig gespeel. Ek dink veral aan die vernuwende rol wat die prosaskrywers van dié era gespeel het, maar sedert Breyten Breytenbach, Ingrid Jonker en DPM Botes sou ook die poёtiese landskap nooit weer dieselfde wees nie. In Pretoria lok die "digterlike bidure" onder leiding van vader Bonaventure digters soos Pirow Bekker, Marié Blomerus, DPM Botes, Stephan Bouwer, Phil du Plessis, Louis Eksteen, Jeanne Goosen, Marlise Joubert, Wilhelm Knobel, Wessel Pretorius, Coenie Rudolph, Casper Schmidt, De Waal Venter en 'n klompie ander wat onder meer in tydskrifte soos Sestiger, Izwi, Wurm en Worp gepubliseer het. Behalwe dat hierdie gesprekke sekerlik 'n groot inspuiting vir die literatuur was, lei dit ook tot 'n lewendige kulturele lewe waarby selfs beeldende kunstenaars betrokke was. Hierdie faset moet nog een of ander tyd behoorlik ondersoek word. 'n Mens hoef byvoorbeeld net na die tydskrif Izwi (wat terloops ook sterk bande met Mosambiekse skrywers gesmee het) te kyk om te sien hoe lewenskragtig hierdie wisselwerking was. Elke maand het vader Bonaventure gesorg dat daar so vier of vyf gedigte van 'n digter is wat hy dan per pos aan die verskillende digters gestuur het. Sy briewe met die mooi handskrif (waarna wyle prof Elize Botha ook 'n keer verwys het) was elke keer iets van 'n verrassing. Die besprekings is om die beurt by die huise van die verskillende digters aangebied. Dan is die gedigte "anoniem" bespreek, maar eintlik was dit gewoonlik 'n ope geheim wie se gedigte aan die beurt is. Al het die skrywers se name ontbreek, het die digter van die gedig wat bespreek word, elke keer kans gekry om sy/haar gedig self te lees, waarna een van die ander deelnemers die gedig nog 'n keer gelees het. Op hierdie manier kon die betrokkenes met die tekste vertroud raak voordat die bespreking begin. Wanneer die bespreking klaar was, het jy dus gewoonlik heelparty wenke gehad oor hoe om jou gedig te verbeter. Al hierdie wenke het jy boonop gratis ontvang! Vandag vier ons die publikasie van Bonaventure Hinwood se sesde bundel, Seevlak tot savanna, en dit is natuurlik gepas om meer oor die gedigte in die bundel te vertel. Ek doen dit graag, maar wil dit tog weer eens binne die verband van die gereelde digtersbyeenkomste doen. Dit is immers dáár waar ek in die eerste instansie en die intiemste met sy gedigte kennis gemaak het en nog maak - veral omdat my eie ervaring van sy gedigte juis binne daardie kritiese, besprekende en waarderende ruimtes van 'n aantal Pretoriase sitkamers plaasgevind het. Tydens hierdie gesprekke het een en elkeen van ons mekaar se voorkeure, hebbelikhede en benaderings leer ken. Van die begin af was dit vir my duidelik dat vader Bonaventure 'n besondere oor vir die poёsie gehad het. Dit het hom klankpatrone in gedigte laat raaksien wat by my verbygegaan het (selfs in my eie gedigte!) en trefseker die vinger op swak ritme in 'n gedig laat lê. Dié van ons wat dalk gedink het dat min of meer enigiets ná Sestig in die poёsie aanvaarbaar sou wees, moes gou van deuntjie verander. Een en elk van ons het by hom in hierdie verband geleer en is vandag bedag op die wyse waarop die leier van ons digterlike bidure sélf met klank in sy gedigte omgaan. Het hy dan nie ook 'n voorste bewerker van die Psalms vir gebruik in die Katolieke Kerk geword nie?
Met hierdie klankbewustheid is vader Bonaventure goed toegerus om oor 'n tema soos die see te skryf en daarin die sintuiglike en geestelike ervaring van sy besondere belewenisse sensitief in hoofsaaklik kort gedigte weer te gee. In die tweede gedig in die bundel, "Hervorming", word bowendien duidelik uitgespel hoe sy besinning oor die wese van die see met sy siening van God skakel:
In byna al die seegedigte getuig die digter van die krag en beweging en grootsheid van die see, wat dan ook met allerlei hewige menslike emosies en selfs dwaalweë verbind word. In die gedig "Verkrag" word die kus self deur die mens verkrag, maar slaag die see daarin om as 't ware terug te slaan en hom weer te laat geld:
Nie vreemd nie is natuurlik die wending dat berusting ook in terme van die see geformuleer word, soos in die gedig "Beweeglik":
Waar daar in die eerste afdeling, "Seespieël", oor die aard van die see en die mens se verhouding tot hom besin word, word daar in die tweede afdeling, "Strandverskynsels", effens weg van die strand af beweeg. Spesifieke plekke (ook in die buiteland) kom hier aan die orde. Opmerklik is die sterk ekologiese perspektief oor wat die mens se verhouding met die aarde en in die besonder die see oplewer, soos in die ironiese gedig "Ontreiniging":
Soos die titel van die bundel in die vooruitsig stel, is daar ook gedigte wat oor die "savanna", of dan meer spesifiek die binneland, handel. 'n Hele afdeling word aan die "Boland" gewy en lewer 'n gedig soos "Proses" op:
Ná hierdie Bolandse draai is hy uiteindelik in die vierde afdeling terug in die "Binneland" met 'n gedig soos "El niño", waarin natuurwaarneming, omgewingsbewustheid en Godsbesef al drie vernuftig verweef is:
Dat die digter teen die einde van die bundel in 'n gedig soos "Busrit" alweer in Zoeloeland is en waarskynlik weer 'n draai by die see gaan maak, hoef die leser van vader Bonaventure se gedigte nie te verbaas nie. Bonaventure Hinwood se gedigte is heel dikwels vol van die mistieke en godsdienstige belewing wat hom in dieselfde kategorie as 'n digter soos Sheila Cussons plaas. Soms vind die mistieke wending eers in die slot van 'n gedig plaas, maar vir iemand wat vertroud is met vader Bonaventure se gedigte, is hierdie wending selde totaal onverwags en/of ongemotiveerd. Daarom miskien ook dat daar nie werklik 'n fenomenologiese omgang met die werklikheid is nie en die ding as sodanig die digter se verwondering ontlok nie. Dit is nie "natuurgedigte in die gewone sin van die woord nie", soos TT Cloete by geleentheid tereg opgemerk het. Op die keper beskou, besing hierdie gedigte die lof van God in al sy gedaantes in die skepping. Die ironiese toon in meer as 'n hand vol gedigte sorg dat die geheel nie stroef voorkom nie. By die digterlike bidure het ek vader Bonaventure as die digter van die kort gedig leer ken, die digter wat onvermoeid een kort gedig na die ander skryf om ons telkens daaraan te herinner dat God in 'n besondere verhouding tot die mens en die skepping staan. Ek vermoed dat daar in sy laai nog honderde sulke gedigte is - dikwels kort gebede en "gebede" wat hom herinner aan die krag van die poësie wat ons opnuut na die werklikheid om ons laat kyk. Met sy gedigte waarin hy, nes heelparty Sestigers, voortgaan om min leestekens en hoofletters te gebruik, laat vader Bonaventure ons iets na wat die moeite werd is om te bewaar. Vir sy bydrae tot die bevordering en uitleef van Afrikaans in die Katolieke wêreld het vader Bonaventure Hinwood al lankal 'n eredoktorsgraad verdien. Meer as tien jaar gelede was ek bevoorreg om 'n temanommer van die tydskrif Ensovoort aan hierdie bydrae van hom te wy. Vandag bring ek graag hulde aan die verrykende blik wat hy my op die lewende wêreld om my bied. Hy, meer as talle groot kokkedore in die Afrikaanse letterkunde, het dit vir my die moeite werd gemaak om in hierdie digterlike tradisie te probeer voortwerk. [1] Rede gelewer by die bekendstelling van Bonaventure Hinwood se Seevlak tot savanna (Bent, 2008) op 29 Oktober 2008 in Pretoria.
|