![]() |
Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012) This is the LitNet archive (2006–2012) |
||||
|
Petrovna Metelerkamp - 2008-10-03
Liewe Audrey, na ek die laaste essay in Die Plesierboom gelees het, dink ek: nou is dit ʼn voldonge feit. Audrey Blignault is ʼn instelling, ʼn nasionale besit. Sedert sy in 1944 redaktrise van Die Huisvrou geword het, het Audrey in die hart van die Afrikaanse vrou in geskryf - en ook gepraat, toe sy die radioprogram Vrouerubriek begin. Die rykdom van die letterkunde wat sy as kind by haar Ierse ma geleer het, wou sy met haar lesers en luisteraars deel, later ook deur haar rubriek "Uit die dagboek van ʼn vrou" in Sarie Marais en Sarie. Wat haar geliefd gemaak het, was dat sy in haar essays persoonlike ervarings, ook van haar swakhede, met haar lesers gedeel het. Dié vrolikheid is allermins ʼn oppervlakkige glimlag vir die gehoor. Uit aantekeninge in haar dagboek en in notaboekies gemerk "Nuwejaarsvoornemens" blyk Audrey haar tyd heel vooruit te gewees het. Om te dink, bewustelik te dink, helder te dink en om in die oomblik te leef, was telkens haar voorneme - naas gewig verloor en nie te praat as haar man, Attie, koerant lees nie! Sy het haar daarop toegespits om positief te wees en in die oomblik te leef, soos die entoesiastiese aanhangers van Eckart Tolle se Power of Now en The New Earth vandag leer doen! In haar 92ste jaar is Audrey se gewildheid as skrywer weer eens bewys met die publikasie van haar persoonlike briewe aan vriende en familie. Die eerste oplaag van ʼn Blywende vreugde - Briewe van Audrey Blignault is vinnig uitverkoop en die boek, wat meer as 200 briewe en foto's bevat, word tans herdruk. Navrae kom nie alleen van ouer lesers, dié wat van Sarie se dae af Audrey-liefhebbers was nie, maar van hulle kinders wat grootgeword het met Die blye dae, Pasop vir Jantaterat, ʼn Oulap se rooi, Nogtans sal ek jubel. Die tydskrif-essays het in een bundel na die ander verskyn en is in oplae van duisende versprei. Een van Audrey Blignault se merkwaardigste werke is Die goue vreugde - ʼn Keur uit jare se leesgenot. Dit open met ʼn hoofstuk oor "Die betowering van die boek", waarin sy vertel van haar liefde vir die wêreldletterkunde. "My vreugde in die woord, in die boek, wil ek elke dag van my lewe met iemand deel," skryf sy. Die boek bevat ʼn magdom aanhalings uit die werke van die mees gewaardeerde skrywers in Afrikaans en ander tale (in Afrikaans vertaal) - ʼn bloemlesing van skatte deur Audrey versamel. In Mei 1987 kry Audrey ʼn brief van haar geliefde vriend Hennie Aucamp, pas nadat ʼn dokumentêre TV-program oor haar uitgesaai is. Audrey antwoord: "Jou liewe brief na aanleiding van die dokumentêre TV-film oor my was en is vir my tot groot, genesende vreugde en gerusstelling ... Jy doen my onverdiende eer aan deur my in die ‘linie van aristokrate van die gees' te laat staan en my waarlik te vergelyk met Boudier-Bakker, Lagerlöf, Olive Schreiner en MER. Ek buig voor dié huldeblyk in nederigheid." Dit was Audrey Blignault, een van Suid-Afrika se grootste groot geeste: opreg nederig, en hardwerkend toegewyd aan haar groot liefde en lewenstaak: die woord.
|