Harry Kalmer - 2008-07-28
Deel 1: e-pos van Hertzog-pryswenner
Hertzog-pryswenner het dit eerste gewaar. Hambidge se galbraak oor Erika Murray-Theron, ekselwers en die Sanlam/Insig Groot Romanwedstryd waarin Erika en ek onderskeidelik die wenner en naaswenner was.
Gaan jy daarop reageer? vra Hertzog.
Ek lees.
Glad nie.
Ek sou dieselfde reageer het, antwoord Hertzog.
Hertzog en my reaksie en die dawerende stilte uit alle oorde wat volg op Hambidge se poging tot kontroversie laat my besef meeste mense voel dalk oor haar skrywes soos wat ek oor Modern Talking voel: die wêreld sou moontlik 'n beter plek gewees het daarsonder, maar helaas, die wêreld is ons woning nie.
Voorverlede week gesels ek egter met 'n baie goeie jong skrywer en besef skielik iets. Hertzog en ek kan maar lekker giggel oor Hambidge en ons skouers ophaal. Toe ons gedebuteer het, is ons geresenseer deur 'n André P Brink, 'n Elize Botha, 'n Hennie Aucamp, 'n Ampie Coetzee of 'n Gerrit Olivier. (En 'n nuwe Toyota Corolla het R4 200 gekos!!) As jy in 2008 debuteer, kan jy dalk deur 'n Hambidge geresenseer word. Selfs al het niemand haar gevra om dit te doen nie. (En 'n nuwe Corolla kos meer as R160, 000! Come back, Rob Antonissen, all is forgiven!)
Deel 2: So van Hertzog-pryswenners gepraat
Kan mens Ingrid Winterbach se Die Boek van Toeval en Toeverlaat resenseer sonder om na Perec se Monsieur wat-is-sy-naam-nou-eintlik (wat presies dieselfde werk doen as Helena Verbloem) in Life – A user’s manual te verwys?
Kan mens dieselfde boek resenseer sonder om na DeLillo se Cosmopolis te verwys?
Natuurlik kan jy. Jy kan enigiets doen.
Jy kan doodsberigte skryf en die leser laat voel dat jy meer oor jouself en jou digwerk as oor die dooies sê.
Deel 3: Plagiaat en parafrase
Daar was drie laggende Tao-meesters. Hulle het ander geleer deur grappies te maak op die markplein. Toe die een sterf, het mense gewonder hoe die ander twee gaan reageer en na die verassing gestroom. Die dooie meester het opdrag gegee dat hy op die stapel geplaas moes word in die klere waarin hy dood is. Sy sakke was vol klappers. Op sy brandstapel het hy sy laaste les gegee. Goeie skryfwerk is klappers in 'n begrafnisvuur.
Deel 4: Vir die jong en senuweeagtige skrywer
Daar is een ding wat jy baie meer moet vrees as 'n slegte resensie deur Joan Hambidge – dit is 'n goeie resensie deur Joan Hambidge.
Deel 5: Joseph Campbell rehashed
Ons kan die poortwagters probeer oorwin of bondgenote van hulle maak. Ek verkies laasgenoemde. Dié wat ons uitdaag, konfronteer en ons motiewe bevraagteken is dikwels ons beste leermeesters. Maar ek het oor die skouer van Hambidge geloer. Die poort wat sy oppas lei na 'n leë kamer. Dit eggo met die klank van haar stem. Op die vloer lê haar opinies, uitasem soos flou grappe. Dis al. Daar is geen ander uitgang nie. Nie eers 'n venster nie.
Vir my, as gereelde en waarderende leser van koerantresensies, is Hambidge se bydraes nogal eenduidig en voel dit al hoe meer of haar skrywes net twee benaderings het – verminderende neerhalendheid of sikofantiese entoesiasme. En vir beide leser en skrywer is altwee ewe nutteloos. As geresenseerde het ek al beide ervaar – altwee ewe onverkwiklik.
Deel 6: Hersenskimmel
Op 29 het ek by die graf van Rumi gestaan sonder om te weet wie hy was. Een-en-twintig jaar later was ek by 'n werkswinkel van 'n Britse storieverteller en Rumi-kenner. Terwyl hy besig was om te praat oor raakpunte tussen Rumi en Hafiz het daar agter hom 'n grys gepleisterde muur met 'n opening verskyn. Deur die kosynlose deur was 'n vyeboom sigbaar. Ek het dadelik geweet dat ek nie deur daardie deur gaan stap nie. Ten spyte van beloftes van ’n uitsig op 'n landskap vol hoop, drome en die soetste Karoovye. Die aand het ek een van die storieverteller se vertonings bygewoon en besef hy het 'n sonderlinge talent. Hy kan selfs Rumi (of juis Rumi) banaal laat klink. 'n Gebrek aan insig, empatie en intellektuele flair kan self Bataille, Freud en Bart Simpson banaal laat klink. En soos die geskiedenis en Jerry Springer bewys – teen die banaliteit het ons min verweer.
Deel 7: The Harry doth protest too much
My vriend wat graag gedigte lees sê: “Onthou jy wat sy in die 1980’s publiseer het?” (Ek moet erken, ek kan nie. Maar my vriend was 'n internationally rejected poet in die ‘80’s en het 'n grief teen almal – selfs Les Murray, Ted Hughes en Breyten Breytenbach – wat wel in die 1980’s publiseer het) “Poems oor James Dean. Of was dit nou Marilyn Monroe? Wie wou haar lees as jy jonges soos Marlene van Niekerk, Theunis Engelbrecht, Dan Roodt, Letoit en Johan van Wyk kon lees? Why waste your time?”
My vriend begin om "Struisbaai Blues" op te sê. (Weird, I know.) Ek sluit my oë. Ons is 25 jaar oud, onsterflik en baie slimmer as wat ons ooit weer sal wees. Ons sit in Koos Prinsloo se sitkamer in Rondegeluk. Koos se buurman, Mervin die kitaarmaker, leun oor die onderdeur.
En op pad huis toe wonder ek – “Indeed, why waste your time?”
Is dit daarom dat meeste mense liewer stilbly?
Deel 8: Die tuinier van Bagdad. (Gewaande synchronicity) met dank aan The Ford Foundation, the American University of Beirut, die Hakawati-gildes van Kaïro, Amman, Damaskus en Beiroet, asook Egypt Air)
"Daar was of daar was nie – 'n tuinier in Bagdad,” begin die hakawati. Die snaakse sinskonstruksie laat my geliefde en ek aan ons Frans twyfel. Ons kyk na mekaar. Die hakawati bly geïrriteerd stil. “There was or there was not,” vertaal ons gasheer, ’n Libanese uitgewer. “It is a traditional Arabic way of starting a tale – a hakawati way.”
Die hakawati kyk oor my skouer. Die sokker game tussen twee Beiroet-klubs op die TV aan die anderkant van die koffieshop en een van die neonligte in die dak weerkaats in sy goedkoop sonbril. Daar is grys stoppels op sy ken. Droë eier op sy baadjiekraag. Daar was of daar was nie – 'n tuinier in Bagdad,” begin hy weer. “Sy bure het 'n hond gehad wat nooit ophou blaf nie. Die hond het dikwels in die middel van sy tuin kom kak. Wanneer sy nie gekak het nie, het sy na sy hand gelek. Die man het soms gewonder of die optrede die gevolg was van 'n gebrek aan liefde. Elke maal was hy verstom deur die grootte en die stank van haar drol. Een oggend was daar weer 'n groot grillerige, gele langs die spuitfontein. Die tuinier het 'n stok langs sy voordeur gegryp en uitgestorm. In sy verbeelding het hy die hond drie maal geslaan. Een maal teen die kop, een maal op die ribbes en een maal op die kruis. Bloed het uit haar mond gestroom. Die man het na sy buurman se binnehof ingestorm. Hy het sy stok opgelig en dadelik weer laat sak. Die hond was glad nie die groot, woedende hond van sy wraakgedagtes nie, maar 'n eensame steekhaar wat opgewonde haar stert geswaai het omdat iemand van haar notisie neem. Haar oë het geblink soos dié van 'n jong maagd op soek na goedkeuring. Die man het huistoe gestap. Die drol was nog steeds in sy tuin. Maar hy het besluit om dit te laat lê. Blomme was nog altyd mooier as drolle.”
Deel 9: Ten slotte (The book of my enemy)
The book of my enemy has been remaindered.
And I am glad. – Clive James
In 1998 publiseer Perskor 'n boek genaamd Die Judaskus. Die outeur was Joan Hambidge. Ek het dit op 'n uitverkoping by CNA raakgeloop. Met groot schadenfreude het ek die R1.50 wat die boek gekos het, betaal. Ek het vinnig my grinnik gesluk. Die Judaskus was 'n lekker boek. Sy kom met die sekelmaan meets Fatal Attraction meets How to fake your way into literary discussion.
Beslis soetsappig, maar 'n bietjie patos het niemand nog ooit seergemaak nie. Sonder Dolly Parton was Nashville beslis 'n armer plek. Ek twyfel of Hambidge haarself as die Dolly Parton van die Afrikaanse Lettere beskou, maar die dag as haar seepkis-skrywes so medemenslik, vreesloos en opreg soos Die Judaskus is, sal ek haar met graagte lees.
Intussen doen ek maar wat ek klaarblyklik veronderstel is om hierdie keer op hierdie aarde te doen. Vertel die stories wat na my kant toe kom op die eerlikste manier moontlik. Want ek is eerder die “pret-” in “pretensie” as die “-versie” in “kontroversie".
Groete
Harry Kalmer