Rudolf Stehle - 2008-04-08
Rudolf Stehle, 'n derdejaarstudent in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Stellenbosch, het tydens die pas afgelope Woordfees op dié dorp die huldigingsgeleentheid vir John Miles bygewoon. Hy deel sy indrukke met LitNet-lesers.
“Sensuur deur die regering is dalk nader in die toekoms as wat ons dink,” was hoe Abraham de Vries André P Brink se waarskuwing aan die gehoor beaam het tydens Kroniek van John Miles: sewentig jaar! in die Sasol Kunsmuseum op Stellenbosch. John Miles word vanjaar sewentig en dié huldigingsgeleentheid vir die skrywer van onder meer Kroniek uit die doofpot het beloof om een van die hoogtepunte van vanjaar se Woordfees te wees. Die skrywers en letterkundiges wat oor hul vriendskap met Miles en sy werk vertel het, was Chris van der Merwe, André Brink en Ampie Coetzee.
Aanbieder Dorothea van Zyl het ‘n vlugtige waardering van Miles se vroeë kort-kortverhale ,“Voorgevoel” en “Liefs nie op straat nie”, uit sy 1970-debuutbundel Liefs nie op straat nie gegee. Hierna het Chris van der Merwe in die tien minute wat hom gegun is, gefokus op Miles se laaste drie gepubliseerde romans, Blaaskans (1983), Kroniek (1991) en Die buiteveld (2003). Hy het die gehoor daarop gewys dat die hoofkarakters in hierdie werke telkens “nee sê vir magstrukture” en dat die romans hulle bemoei met die lotgevalle van die gewone mens. John Miles se speelse hantering van ernstige gegewens dra volgens Venter by tot die spanning in sy romans, wat omgeef is van die politiek van die dag.
Ampie Coetzee was volgende en met sy ongeërgde houding, verskonings dat hy nie meer kan onthou nie, en gereelde vrae aan Miles of laasgenoemde ook sekere gebeure onthou, het hy die gehoor laat skud van die lag. Hy het meelewend vertel van sy en Miles, ’n baie private mens, se “eienaardige” vriendskap: dat hy en Miles, hoewel intiem bevriend, nooit hul persoonlike geheime met mekaar gedeel het nie. Hy het sy herinneringe gedeel van Taurus, die ondergrondse uitgewery wat deur hom en sy mededosente aan die Departement Afrikaans by Wits, Miles en Erns Lindenberg, gestig is om boeke wat onder die sensuurbedeling verbied is, te publiseer. Ook hoe hulle geld bymekaar gemaak het om die boeke te druk, onder meer deur skilderye wat aan hulle geskenk is, in ’n plaasskuur uit te stal. Sy onthulling dat hulle ’n Indiër-drukker van Ventersdorp gekry het om hul boeke te druk, aangesien dié nie Afrikaans kon verstaan nie, was veral kostelik. Hy het ook met genoegdoening onthou van hulle kuiers saam aan huis van NP van Wyk Louw, wat kwansuis al hoe gemoedeliker sou word soos die wyn gevloei het.
André Brink het sy waardering vir Miles en die ander Taurus-stigters uitgespreek en hulle geloof omdat hulle die enigste mense was wat bereid was om iets daadwerkliks omtrent sensuur te doen. Hy het ook tong-in-die kies vertel van Miles se vergeetagtigheid wat hulle by meer as een geleentheid so byna in die tronk laat beland het. Verder het hy meegevoer vertel van die “elektrisiteit”, “avontuur” en “opwinding” wat die sensuurbedeling tot die maak van boeke bygedra het. Brink het ook die feit dat Afrikaanse boeke deesdae in groot getalle verskyn, betreur, aangesien die element van “elektrisiteit” volgens hom tans afwesig is. Verder het hy, nes die ander sprekers, gemaan dat sensuur in die toekoms nie uitgesluit is nie en dat die jeug van vandag hulle nou al moet staal vir die moontlike terugkeer daarvan.
Miles self het laaste aan die beurt gekom. Dit was dan ook gepas, aangesien menige literatuurvrate al lank daarna uitgesien het om Miles self te hoor praat – iets wat hy baie selde doen. Hy het vertel dat hy met huiwering na die verlede terugkyk en baie toekomsgerig is. Om dit te benadruk het hy Smerski in Die Buiteveld aangehaal: “Jy voltooi nie jou lewe nie, jy kry nie klaar daarmee nie.” Hy het ook die gekonstrueerde, clichéagtige werklikheid wat deur ideologieë soos apartheid in stand gehou word, vergelyk met ’n gordyn wat die skrywer moet skeur ten einde deur te dring tot die realiteit.
Die verrassing van die aand was egter sy voorlesing van ’n bladsy uit die manuskrip van sy byna voltooide nuwe roman, Voetstoots. Hieruit was dit duidelik dat John nog baie “miles” oor het op sy pad deur die landskap van die Afrikaanse letterkunde wat hy alreeds sóveel verryk het.