Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Koos Kombuis: Kaalkop die waarheid

“Someone’s braaiing, my Lord, Kumbaya ...”: Waarom die idee van ’n reënboognasie skadelik geword het vir ons kollektiewe psige


Koos A Kombuis - 2008-03-04

Hoe ouer mens word, hoe meer mites ontgroei jy.

Toe ek in my tienerjare was, het ek baie mites geglo. Ek het geglo mens kan al die onregte van die wêreld oplos met harde rockmusiek. Ek het geglo moffies gaan hel toe. Ek het geglo ek en Susanna Zeeman gaan eendag mekaar warm vry.

Noudat ek 53 jaar oud is, ontgroei ek ander mites. Ek weet vandag dat as ’n loodgieter of sleutelmaker “24 uur diens” adverteer in die Geel Blaaie, hy nie noodwendig sy selfoon beantwoord as jy hom drie-uur in die oggend bel nie. Ek weet dat die bottel vol bruin gemors wat in die advertensies beskryf word as ’n “nuwe wonderdieetmiddel”, absoluut geen verskil aan mens se gewig maak nie, en slegs jou hele koskas laat stink. En ek het uitgevind – pas verlede week – dat as jy ’n nuwe toiletdeksel koop in plek van die een wat pas gebreek het, dit nie noodwendig op jou ou toilet sal pas nie, selfs al sê hulle op die plastiek-omhulsel: “Fits all toilets”.

Om enige mite te ontgroei is traumaties. Ek het empatie met mense wat ru wakker geskud word uit hulle illusies. Ek weet presies hoe my vyfjarige dogtertjie gevoel het toe ek haar verlede jaar na ’n Babela-konsert toe vat en sy halfpad deur in my oor fluister: “Pappa, dis nie rêrig Babalela nie, dis ’n tannie in ’n costume! Ek het die zip op haar rug gesien …”

Wanneer mites sneuwel, voel ’n mens verneuk. Jy wil iemand hof toe vat. Jy voel verraai. Jy vertel vir almal wat tyd het om te luister van jou ontnugtering. “Ek kon sweer Dagga-Dirk was ’n nice ou.” “My ma-hulle het gedink hulle geld is veilig in Fidentia.” “Wat? Staan DIT rêrig in Louis van Wyk se boek?”

Tog … soos die groot eksistensialistiese filosowe reeds in die vroeë twintigste eeu ontdek het, kan die verlies aan mens se kinderlike sekerhede ook lei tot ’n nuwe soort gemoedsrus, die gemoedsrus waarin jy gelate aanvaar, en jou verbly in die feit dat chaos meer waarskynlik is as orde, dat daar kreatiewe moontlikhede is in negatiewe gevoelens soos sinisme en ongeloof, en dat wanneer alles om jou kantel, wanneer selfs God sy rug op jou draai, jy steeds die geborgenheid het van ander lydende siele om jou.

Ek het dit op die harde manier geleer, destyds in die army; die gemeenskap van die gefolterdes. Swart mense noem dit “ubuntu”. Ek noem dit bloot “ballasbak”.

Nie dat ek slimmer is as swart mense nie. Wel, nie noodwendig geneties slimmer nie.

Inderdaad, as daar een mite is wat in hierdie tyd en dae deeglik die nek ingeslaan is, is dit dat die ANC nie die land kan regeer nie net omdat hulle swart mense is. En wie het daardie mite eiehandig die nek ingeslaan? Alec Irvin. Kyk, hier is sonder enige twyfel die mins bevoegde ou van die hele spul – die een minister wat so besluiteloos en bleeksielig optree dat hy selfs Marthinus van Schalkwyk na Chuck Norris laat lyk – en hy is WIT! Ek vra julle met trane in my oë: Weet daai Khoza-dude van hom?

Gepraat van wit en swart issues, daar is ’n ander mite wat ek die laaste ruk afgesterf het, en dit het nogal moeilik gegaan, maar ek dink ek is nou daar oor. Ek het dit verwerk. Ek het dit deurgevors, ek het dit bepeins, en kyk, ek weet dit is so. Die prediker het gespreek, en ek het nie eens ’n snaakse bynaam in Indië nie.

Ek het uiteindelik aanvaar dat konsepte soos nasiebou en versoening passé is. Ek besef dat die idee van ’n “reënboognasie” ’n hersenskim was. Ja – daar’s dit uit! SJOE! Ek het dit wraggies HARDOP GESÊ!

WEG met die reënboognasie! WOW!

Ja.

Ja, ek het hierdie prentjies-mooi illusie eindelik laat val van my skouers af soos ’n tuisgeborduurde dog motgevrete Josefskleed. Dit was ’n mooi ideaal, ’n pragtige droom, maar dit hou geen verband met ons Suid-Afrikaanse werklikheid nie.

Dit klink na ’n wanhopige erkentenis. Nou hoekom ervaar ek dit as so ’n ongelooflike verligting? Waarom spoor dit my aan tot hernude ywer, in plaas daarvan dat ek in ’n hoekie gaan sit en huil?

Want vir die eerste keer sien ek dinge soos dit werklik is. Nie soos hoe ek dink dit behoort te wees nie. Ek dra nie meer daai bril met die pienk-getinte glase soos die liberals nie. Ek het nie meer heftige standpunte nie. Ek is nie meer ultralinks of ultraregs nie. Indien so iets moontlik is, is ek ultra-in-die-middel.

Dis hoekom ek op Facebook aangesluit het by die groep “Over the Rainbow”. Want die reënboog is oor. Soos ek juis gister vir my seuntjie (7) verduidelik het, daar is nie regtig ’n pot goud aan die voet van ’n reënboog nie, want jy KOM NOOIT UIT by die voet van enige donnerse reënboog nie. Daar is niks daar nie.

Soos die ander beswaardes in die groep “Over the Rainbow”, bepaal ek my by die realiteite van die hede, nie die drome van die verlede nie. Ons soek net relatiewe vrede in Suid-Afrika, nie ’n utopie waar almal blomme in hul hare dra en hand-om-die-lyf loop en saam “Someone’s braaiing, my Lord, Kumbaya” sing nie. Ons bepaal ons by die moontlike uitkoms, nie by die ideale toekoms nie.

Eintlik, as mens mooi daaroor dink, is daar iets inherents wreed aan humanisme. Dit is wreed om van jou voorheen agtergeblewe buurman, wat nou skielik tot burgemeester verkies is, te verwag om, ten spyte van die feit dat hy nog nooit voorheen sy eie huis of e-posadres besit het of eers ’n intekenaar op Vanity Fair was nie, sy nuwe betrekking foutloos te bedryf, met al die sjarme en politieke behendigheid van ’n Winston Churchill of Thomas Jefferson.

Alle mense is gelyk, maar nie alle mense is presies ewe gelyk in alle opsigte nie.

Die teorie agter die reënboognasie-idee was, in die begin, om een rede vir my aanloklik: ek verkies die idee van kleure wat in harmonie naas mekaar lê (sonder om hul eie individualiteit te verloor) bo die idee van ’n melting pot waar al die kleure saamvloei. Die melting pot is ’n Amerikaanse konsep, maar dit werk nie. Dit werk nie eens in Amerika nie. As jy alle mense van alle rasse en gelowe saamgooi, is dit wat aan die ander kant uitkom, nie meer interessant of divers of individualisties nie. Gooi al die kleure saam, en jy kry ’n middelmoot-mens, ’n mens gefabriseer deur die massamedia, ’n mens sonder enige opinies van sy eie. Gooi al die kleure saam, en jy kry ’n uniforme grys-bruin gemors. Jy kry iets wat lyk soos die oorskiet in die vullisdromme van ’n Thai-restaurant in Seepunt.

Wat die reënboognasie-idee vir my op die ou end gekorrupteer het, was die idealistiese toon daarvan. Dis alles oukei as Justice Malala in ’n artikel skryf: “South Africans, you are beautiful.” Maar die reënboognasie-idee het op die ou end iets begin word soos om met ’n maagd te trou. Of toiletsitplekke wat veronderstel is om op alle toilette te pas.

Wow, ons is almal pragtig. Ons land is pragtig. Sjoe.

Maar IS ons? Party van ons het ingroei-toonnaels. Party van ons se asem stink. Groot dele van ons land is oortrek met gebruikte plastieksakke, verroeste masjiene, ou kondome, leë bottels en ander rommel. Jy hoef net met die trein verby Olifantsfontein te ry, of by Germiston-stasie te stop, om te sien hoeveel skreeulelike plekke en mense daar in Suid-Afrika is. Plekke en mense wat lelik was in die Ou Suid-Afrika, en wat nou nog net so lelik is. Niks het verander nie.

Die meeste van ons is oninteressant, potsierlik, en lyk kak in ’n swemsuit. Die meeste van ons het hope rubbish in ons agterplase (agter die wendy-huis iewers) wat ons nie geld het om te laat weg-karwei nie.

Soos die idee van humanisme – ek sê dit aarselend, want ek glo nog steeds in humanisme (wanneer dit my pas) – kan die idee van “versoening”, wanneer die hoop die slag beskaam word, indirek lei na onmenslike optrede en selfs na haat.

Gestel ’n bruin man kom doen ’n paint job buite my huis. Ek dink dis genoeg as ek hom galant behandel en ordentlik betaal en dalk op ’n warm dag ’n beker yskaswater aanbied. Ek hoef nie saam met hom huis toe te gaan nie en ek hoef nie sy voete te was nie en ek hoef nie sy vrou en kinders saam met ons Seychelles toe te vat vir ’n week nie. Dis nie nodig om met hom te versoen nie, want ons het nog nooit gefight oor iets nie.

Daar is ’n irriterende Rastafariërtjie wat nou al jare aan my deur klop. Soms gee ek vir hom geld, soms nie. Laas week het hy vir my gelieg oor iets. Toe jaag ek hom weg. Die idee van “versoening”, die ideaal van “nasiebou”, vereis dat ek as wit man en voorheen bevoordeelde inwoner van Suid-Afrika nou moet gaan sit en myself afvra: “Was daar dalk onbewustelike elemente van rassisme in my optrede?”

Daar word van my verwag om voortdurend navel-gazing te doen, om die hand in eie boesem te steek en my hart te suiwer van alle moontlike Ou Suid-Afrika-vlekkies wat nog hardkoppig vaskleef selfs nadat ek dit in Koue Water-Omo gewas het.

Se moer.

Ek wil net hê die painter moet my huis verf. Ek wil net hê die Rasta moet voor iemand anders se huis gaan rondlê en kakstories verkoop. My dag is te vol om tyd te verspil op selfanalise en abstrakte bespiegelings.

“Versoening” behoort nie van my te verwag om enigiets meer te doen as om min of meer oor die weg te kom met enige ander Suid-Afrikaner wat toevallig my pad kruis nie. Dit behoort nie te beteken ek moet sy voël suig nie. Tensy hy dit natuurlik baie graag wil hê, en ek in die luim is.

Onlangs het ek, in die loop van my werk in die musiek-industrie, heel uit die bloute nogal goeie vriende begin raak met ’n swart man. Omdat ons belangstellings deel, en omdat hy ’n wacky sin vir humor het, soek ek hom graag op wanneer ek in sy omgewing is. Ons was nog nie by mekaar se huise nie, maar ons gesels op Facebook, en ek het hom, wanneer ons as gevolg van werksomstandighede saamgegooi word, al twee keer gestick vir ’n uiteet. Ek het dit nie gedoen onder die vaandel van “nasiebou” nie. Ek het dit nie vir enige cause gedoen nie. Hy’s net ’n nice ou. Daar was hoegenaamd niks edel, altruïsties of selfs patronising aan my optrede nie.

Die idees van “versoening” en “reënboognasie” stel onrealisties hoë standaarde. Wanneer daardie standaarde dan nie nagekom word nie, lei dit tot teleurstelling en verwerping. Maar om my mede-Suid-Afrikaner in so ’n mate te idealiseer, is ook ’n vorm van huigelary.

Die huidige ANC-regering verwag van wit mense om huigelagtig op te tree. Ons liberale vriende verwag van ons om huigelagtig op te tree. Hulle slaan ons met latte van kwotas en gedwonge integrasie en vae skuldgevoelens, en wanneer ons nie dadelik en sonder sigbare aarseling sê: “Jou poepe stink minder as myne, al is jy swart” nie, word ons uitgekryt as Fasciste wat nie kan aanpas in die Nuwe Suid-Afrika nie.

Dis loutere snert.

Dis tyd dat ons, dié van ons wat graag die Nuwe Suid-Afrika wil sien werk, aan onsself begin erken dat die ideaal van die sogenaamde “reënboognasie” net so nutteloos en selfs net so gevaarlik geword het as die soort “social engineering” wat deesdae paradeer as “regstellende aksie”. Dit hou ons terug. Dit beledig almal. Dit weerhou ons van spontane interaksie met mekaar. Dit ketting ons vas aan die rasverknogtheid van die verlede.

Dalk sal Suid-Afrika eers werklik ’n land word, en Suid-Afrikaners mekaar begin die hand reik, wanneer al die politici en die goedbedoelende idealiste ophou om ons te forseer om dit te doen.

Dalk vorm die misvormde Ideologie van Apartheid, in tandem met sy ewe misvormde eweknie, die Ideologie van Gedwonge Integrasie, saam ’n soort emosionele knyptang wat verantwoordelik is vir die meeste ras-aangedrewe insidente onder jongmense in ons land.       

Dalk is DIT hoekom daar skielik sulke goed gebeur by Skielik. Dalk is DIT hoekom Kovsie-studente sulke simpel video’s maak …