Medemens - 2008-02-07
Liewe vriende hier in die ondersteuningsgroep op LitNet – al my medemense – wow, wow, wow! Julle laat staan my verbysterd! Dankie vir julle liefde. Julle onbaatsugtige deel van julle eie seer en geloofspaaie. Die Here is goed! Weet dat elkeen van julle op ’n besondere manier deur die Here gebruik is om my weer te laat leef. Dankie vir julle elkeen se raad en gebede!
Christus se liefde, deernis, genade en getrouheid drup uit elkeen van julle se woorde. Ek is so dankbaar dat die Here ons met mekaar verbind het.
Ek het ook werk gekry. Ongelukkig nie in Suid-Afrika nie, maar in ’n land oor die waters, en ek sal seker nog in Februarie daar begin. Dis vir my die nuwe begin wat ek so lank al van die Here afbid. Ek glo ek sal myself kan wees; my roeping om Christus se liefde te leef, daar kan leef – al is dit nou nie as dominee nie.
Ek dank die Here vir die avontuur van die lewe, en sien uit na die paaie waarop Hy my gaan lei. En ek sal nie hier van LitNet verdwyn nie. Na al die seer en die getrouheid van die Here waarvan ek hier gelees het, begin ek al sterker daaraan dink dat daar ’n groot behoefte aan ’n Afrikaanse virtuele Christelike gay-ondersteuningsnetwerk bestaan. Nie ’n forum met “antwoorde” nie, maar net ’n plek waar ons mekaar kan ondersteun. Ek bid hieroor – bid julle ook, en julle kan gerus gaan loer na http://www.gaychristian.net, wat ook vir my van onskatbare waarde was en is.
Mag God se nimmereindigende liefde oor my en jou die wag hou!
Medemens