Yuri - 2008-01-21
Indien ons vir een oomblik van ʼn rassekonnotasie rondom die Swartruggens-voorval vergeet en Ingrid Jonker se “Die Kind” gaan lees, staan een reël uit, naamlik: "Die kind lig sy vuiste teen sy vader ..."
Het die Suid-Afrikaanse gemeenskap moreel so verval? Het dié tyd werklik aangebreek? Die kind wat sy vuiste teen ouer-gesag lig is so tekenend van hierdie tyd. Terwyl Jonker haar gedig afsluit met "sonder 'n pas" is vandag se groot probleem sonder/geen maniere nie.
Terwyl ons die rasse-konnotasie vir 'n wyle opsy stoot, glo ek dat ons liefs op kindergeweld en misdaad moet konsentreer. Moorde by skole, insluitend van Johannesburg se spogskole. Aanrandings wat afgeneem word en per SMS versprei word. Kinders van 12 wat hulle skuldig maak aan verkragting. Dit kan nie so aangaan nie. En elke gemeenskap word hierdeur geraak. Of jy nou ryk of arm is.
Nie een mens op SêNet, insluitend myself, kan 'n weergawe gee oor wat in die Slagter van Swartruggens se kop aangegaan het nie. Dit sal in 'n hof uitkom.
Wat my egter bekommer is dat die invloed van skoolmaats al hoe meer giftig word. Wie onthou die aanrandings by 'n hoërskool in Rustenburg verlede jaar? En dit oor 'n meisie.
Dus, is die Skielik-voorval aangehits deur eksterne druk? Desondanks bly dit 'n tragedie. Veral omdat 'n jong kind, wat nog nie met sy lewe begin het nie, hierdeur geraak word. En ander kinders deur sy aksie hul lewe ontneem het.
Waar Jonker sterk op 'n politieke konnotasie in “Die Kind” gekonsentreer het, het ons nodig dat iemand weer die kind in die kind kan sit. Sodat hulle rustig kan groot word sonder enige druk, hetsy van skoolmaats, materieel of om ander redes.
Soos sy skryf: "die kind loer deur die vensters van huise en in die harte van moeders."
Dit is wat kinders dalk weer nodig het – ONSKULD.
Yuri