Kennisgewings | Notices > ATKV-toekenning aan Afrikaanse stemkunstenaars, akteurs en skrywers
ATKV-toekenning aan Afrikaanse stemkunstenaars, akteurs en skrywers
|
|
2007-11-26
Die ATKV Centurion het verskeie Afrikaanse stemkunstenaars, akteurs, skrywers en Radio/TV-aanbieders vereer nl. Anton Engelen, Elma Potgieter, Mariëtte Engelen en Schalk Jacobsz.
1. ANTON ENGELEN: STEMKUNSTENAAR, AANBIEDER EN AKTEUR
Anton Engelen is deur die ATKV Centurion vir die bevordering van die Afrikaanse taal en kultuur as stemkunstenaar, TV-aanbieder en –akteur vereer.
Hy het tussen TV-kameras, mikrofone en professionele stemwerk grootgeword met sy ouers Jan en Mariëtte Engelen, bekende radio- en televisiepersoonlikhede, as sy voltydse mentors.
Stemwerk:
• Sy eerste radioflits is op driejarige ouderdom al uitgesaai.
• Sy eerste stemwerk op TV het op twaalfjarige ouderdom plaasgevind toe hy die stemwerk van die gewilde ‘’Redro’’ TV-advertensie hanteer het.
• Sy stemwerk sluit verder o.a. die volgende in:
• Radio- en TV-advertensies.
• Sy stem kan daagliks onder andere gehoor word in Radio- en TV-advertensies vir: SAUK Radio- en TV-lisensies, Eskom en Postnet, bykans al die bekende Handelsbanke, Selfoonmaatskappye, bekende groot Motormaatskappye, Supermarkte, en Kitskosrestourante.
• Oorklanking vir TV-reekse en meesterdramas;
• Hoorspele op RSG en Middagvervolgverhale op die destydse Springbokradio;
• Animasie-stemwerk vir TV-kinderprogramme en Cd-opnames . Sy vertolking goggatjie, die hoofkarakter in die kleuterstories en –verse van Lily Krugel op ‘’Die Goggatjie’’ Cd is nog ‘n treffer.
• Oudiovisuele stemaanbieding;
• Joernaal en dokumentêre voorlesings vir Radio, TV en die Korporatiewe mark.
TV-aanbieder en akteur:
• Radio-vervolgverhale en TV-dramareekse.
• Anton was die aanbieder van die TV Opvoedkundige reeks ‘’Study Magic’’ vir Media World TV.
• Hy het ook die hoofkinderrol teenoor Sybil Coetzee in die TV-reeks ‘’Die Klein Jakkalsies’’ vertolk.
2. ELMA POTGIETER: STEMKUNSTENAAR, SKRYWER EN AKTEUR
Elma Potgieter is deur die ATKV Centurion vir die bevordering van die Afrikaanse taal en kultuur as stemkunstenaar, joernalis, skrywer en akteur oor ‘n tydperk van 35 jaar vereer.
Stemkunstenaar
Sy het voorheen stemwerk, vertaling van en redigering vir verskeie Radio- en TV-oorklankingsprogramme gedoen. Haar vertolking van die kinderstories en gedigte van Lily Krugel op die CD ‘’Goggatjies’’ is nog ‘n treffer wat herinner toe sy TV-aanbieder van Wielie Walie was.
Joernalis, Skrywer en Vertaler
• Elma se skryfwerk het begin toe sy destyds joernalis by Die Transvaler en Die Huisgenoot was.
• Haar kortverhale het op ‘n gereelde grondslag in Die Huisgenoot verskyn. Haar eerste Roman ‘’ ’n Tweede Begin’’ het vroeër vanjaar verskyn.
• Sy vertaal boeke vir CUM en Lux Verbi. Die Maxwell Leierskap Bybel wat sy vertaal het, is in Mei vanjaar bekendgestel.
Verhoog-, Film- en TV-akteur
• Haar toneelspel begin toe sy voltyds by die destydse KRUIK aangestel is. Sy begin kort daarna vryskut toneelwerk doen.
• Sy en Schalk Jacobsz stig ‘n Toneelgeselskap Die Bywoners met die doel om Afrikaanse professionele toneel aanvanklik in Johannesburg en dan wyer te bevorder.
• Van die produksies op hul kerfstok sluit onder andere die volgende in:
• Hulle bied ‘’Hallo & Koebaai’’, Schalk Jacobsz se Afrikaanse vertaling van Athol Fugard se stuk, in die Markteater aan. Dit was daarna ook in die Windhoekteater op die planke.
• Die Bywoners bied ook Elma se eenvrouvertoning ‘’Darling Blossom’’ in Johannesburg aan. Sy het die verwerking van die Engelse joernalis Jenny Hobbs se sketse wat sy vir die tydskrif Darling geskryf het, gedoen. Die speelvak is daarna in die Acadamyteater verleng.
• Die Bywoners se aanbieding van ‘’Die Wildsboudjie’’ deur Fritz Steyn, tydens die Johannesburgfees in 1986, met Schalk Jacobsz, Cobus Rossouw, Ernst Eloff en Paul Malherbe as hoofrolspelers, was baie gewild. Die speelvak is daarna deur SUKOVS in Bloemfontein voortgesit.
• Elma het ook saam met Karin Fourie in Corlia Fourie se stuk ‘’Hoer of Heilige’’ in die Bloemfontein Sterrewagteater en Pieter Roosteater van die Johannesburgse Stadskouburg opgetree.
• Elma verwerk Engemi Ferreira se novelle, ‘’Die jaar toe my ma begin sing het.’’ Die Bywoners bied dit as ‘n eenvrouvertoning, met Schalk Jacobsz as regisseur onder die titel ‘’Moervrug’’ in die Witbank Stadteater aan. Tydens die eerste Aardklopfees in 1998 word dit op die hooffees aangebied en ‘n jaar later volg nog vyftien vertonings in die Lion Cachetteater in Potchefstroom.
• ‘’Laetitia kom terug’’ is ‘n klugtige eenvrouvertoning wat Elma geskryf het en deur Die Bywoners vir fondsinsameling deur welsynsorganisasies beskikbaar gestel is.
• Sy speel hoof- of ondersteunende hoofrolle in 5 wyedoekfilms o.a. ‘’Dr. Marius Hugo’’ en ‘’Eensame Vlug’’.
• Elma was vryskut TV-aanbieder van Wielie Walie. Sy speel die rol van ‘n berader vir verkragtingslagoffers in die ‘’Scandal’’ televisiereeks, vertolk ‘n rol in ‘’Binnelanders’’ en sy was die biologiese ma van Kate in ‘’Erfsondes’’.
3. MARIëTTE ENGELEN: STEMKUNSTENAAR, RADIO/TV
Mariëtte Engelen is deur die ATKV Centurion vir die bevordering van die Afrikaanse taal en kultuur as stemkunstenaar, Radio- en TV-aanbieding asook die opleiding van stemkunstenaars vereer.
Sy het dusver ‘n veelsydige loopbaan in die Radio- en TV Uitsaaiwese.
Stemkunstenaar
• Mariette was nuusleser vir die Afrikaanse Diens van die eertydse Radio Hoëveld en het verskeie karakters vertolk in die middagvervolgverhale van die eertydse Springbokradio.
• Sy was storieverteller en teksredigeerder van die gewilde Siembamba kinderprogram. Sy het die titelnaam ‘’Goggatjie’’ geskep van Lily Krugel se kinderstories en kleuterverse Cd waarin sy ook van die stories en verse voorlees en vertolk.
• Sy is voorleser van verskeie RSG radiodramas, vervolgverhale, boekvoorlesings, dokumentêre en joernaalprogramme.
• Mariëtte was die Hoofstemaankondiger vir die gevierde Artestoekennings. Sy doen stemaanbieding vir videokonferensies en vir die korporatiewe mark. Haar stem kan nog daagliks gehoor word in Afrikaanse Radio en TV-advertensies van verskeie regeringsdepartemente, handelsbanke, selfoonmaatskappye, Mandela se 80e verjaarsdag, RSG se 70e bestaansjaar, ens. ens.
TV-aanbieder
Mariëtte was regstreekse TV-kontinuiteitsaanbieder, -dagboekaanbieder en –opvoedkundige programaanbieder. Sy was aanbieder van die gewilde TV opvoedkundige program ‘’Van kleuter tot skoolkind’’, verantwoordelik vir animasie-stemwerk vir TV-kinderprogramme en oorklanking van verskeie TV-reekse en –meesterdramas.
Opleiding van Afrikaanse Stemkunstenaars vir Radio en TV
• Mariëtte het die afgelope jare kursusse ontwerp en aangebied vir Afrikaanse stemkunstenaars in Radio en TV- advertensieflitsaanbieding, TV-aanbieding en Radio- en TV onderhoudvoering.
• Baie van die advertensieflitsaanbieders en TV-aanbieders wat haar mentorkursusse gevolg het, is vandag nog suksesvol in die bedryf.
4. SCHALK JACOBSZ: AKTEUR EN REGISSEUR
Schalk Jacobsz is deur ATKV Centurion vir die bevordering van die Afrikaanse taal en kultuur as akteur en regisseur oor ‘n tydperk van 38 jaar vereer.
Schalk gradueer in argitektuur maar begin in alle erns toneelspeel o.a. onder aansporing van Jo Gevers, ‘n Belgiese teatergeleerde. Hy het sy professionele toneelskoene in 1958 o.l.v. die legendariese Andre Huguenet aangetrek.
Hy en Elma Potgieter stig ‘n Toneelgeselskap Die Bywoners met die doel om Afrikaanse professionele toneel aanvanklik in Johannesburg en dan wyer te bevorder.
Schalk tree self in die meeste produksies as akteur en/of regisseur op.
Van die produksies op hul kerfstok sluit onder andere die volgende in:
• Hulle bied ‘’Hallo & Koebaai’’, Schalk se Afrikaanse vertaling van Athol Fugard se stuk, in die Markteater aan. Dit was daarna ook in die Windhoekteater op die planke.
• Die Bywoners bied ook Elma Potgieter se eenvrouvertoning ‘’Darling Blossom’’ onder regie van Schalk in Johannesburg aan. Die speelvak is daarna in die Acadamyteater verleng.
• ‘n Ander eenvrouvertoning ‘’Die jaar toe my vrou begin sing het’’ is onder die titel ‘’Moervrug’’ onder sy regie in die Witbankteater en in 1998 tydens die hooffees van die eerste Aardklop in Potchefstroom opgevoer. ‘n Jaar later het nog vyftien opvoerings in die Lion Cachetteater in Potchefstroom gevolg.
• Die Bywoners se aanbieding van ‘’Die Wildsboudjie’’ deur Fritz Steyn, tydens die Johannesburgfees in 1986, met Schalk Jacobsz, Cobus Rossouw, Ernst Eloff en Paul Malherbe was baie gewild. Die speelvak is daarna deur SUKOVS in Bloemfontein voortgesit.
• Ander bekende toneelproduksies onder sy spelleiding was bv. ‘’Hoer of Heilige’’ en ‘’Laetitia kom terug’’.
Schalk Jacobsz sal ook onthou word vir sy besielde en poëtiese vertolking van Eugene Marais in die TV-reeks ‘’Die Siel van die Mier’’.
Navrae: Sakkie Kotze 082 925 1488
Webwerf: www.tak.co.za