Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Geestelik | Spiritual > Artikels | Features

Spirituele dagboek: Vrydag 5 Oktober 2007


Anoeschka von Meck - 2007-10-05

Vandat ek 'n kind is, droom ek goddelike drome. Soms ook drome wat hul oorsprong elders het, maar met die goddelike drome kom ook die gawe van onderskeiding en uitleg.

Die meeste van my drome is persoonlike lesse waarin ek byvoorbeeld gereeld die ware stand van my gees, of my verhouding met God, gewys word.

Dikwels in die verlede het die Here my al 'n kamer vol spinnerakke, skerpioene, verstopte toilette, voëlneste met gebreekte eiers, klein katjies, asook volwasse diere, gewys. Spinnerakke is vleeslike denke wat kompulsief oor en oor gedink word; skerpioene versinnebeeld demoniese onderdrukking; toilette is innerlike “hardlywigheid” en verrotting; terwyl 'n nes 'n bose vesting is waarvan die misleiding al in my “uitgebroei” het.

Vir my as iemand wat in die aardse lewe versot is op diere, spreek die simbole van veral klein, “hulpelose,” diertjies ook baie sterk tot my. Dit, glo ek, wys die Gees van God my, verteenwoordig my “little darling” sondes wat ek wil vertroetel, beskerm en grootmaak. Met verskriklike nagevolge, natuurlik. As ek 'n volwasse dier sien, weet ek die sonde is al lank gevestig en deur my van sy kleintyd af beskerm.

In 'n droom besef ek natuurlik nie dat ek met 'n simbool te doen het nie, en gaan ek deur hartverskeurende smart as een van my “troeteldiertjies” beseer is, of vrek. Ek doen gewoonlik als in my vermoë om die hulpelose diertjie van uitwissing te red. So wys Vader my dan dis presies hoe ek in werklikheid spartel om sekere selfbeskermende denkpatrone in my lewe behoue te laat bly.

Watter “darlings” dring jy op aan om aan te hou vertroetel, terwyl jy terdeë daarvan bewus is dat God se opdrag is om hul nek om te draai?