Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Geestelik | Spiritual > Artikels | Features

Spirituele dagboek: Donderdag 4 Oktober 2007


Anoeschka von Meck - 2007-10-04

'n Week gelede los ek my Kaapse lewe en vat die grondpad duskant Ceres, Calvinia toe. Ek was so vasbeslote om 'n sekere hoofstuk van my lewe vaarwel te roep dat ek amper letterlik geestelike deure agter my kon hoor toeklap! Van kleins af, toe my oupa en ouma met my op hul skoot in die plaaspaaie buite McGregor gaan ry het, het stofpaaie 'n baie gerusstellende uitwerking op my gemoed.

Hoe verder ek gevorder het met die 250 km-grondpad tussen die twee dorpe, hoe meer het ek afskeid geneem van dinge wat ek besef het se seisoen verby was.

God werk duidelik in seisoene in al Sy kinders se lewens. Maar as mens dit nie weet nie, kan jy soms baie gefrustreerd word. Want sien, wanneer jy saai, mag dit dalk 'n hele tyd wees voor jy kan oes. Boonop is jy nie eers verseker dat dit jou beskore is om self die oes te ontvang van wat jy met baie trane en geduld in 'n ander persoon se lewe of in 'n verhouding ingesaai het nie.

Hoe weet jy wanneer 'n seisoen verby is?

Dit is wanneer alle verdere pogings tot beweging in daardie verhouding jou laat voel iemand slat jou met 'n pan teen die kop, of jy wil 'n pan hê om iemand mee te moker. En maak nie saak hoe jy krap en skop daar waar jy oortuig is jy het iets geplant nie, geen lewe is te bespeur nie. Dit is ook gewoonlik wanneer jy kan terugkyk en sien hoe lê die laaste paar maande vol stoptekens wat die Here mooitjies vir jou opgerig het, platgegalop deur jou eie, harregat wil.

Die perd onder jou is lankal 'n karkas.

Klim af en gooi jou arms oop vir die nuwe, jieha!