Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Geestelik | Spiritual > Artikels | Features

Spirituele dagboek: Dinsdag 2 Oktober 2007


Anoeschka von Meck - 2007-10-02

Bo-op die Gifberg langs Vanrhynsdorp ontmoet God graag mense.

Nie omdat Hy mense nie enige plek kan tegemoet kan kom nie, maar omdat dit wil voorkom asof berge 'n sielkundige uitwerking op die mens het. Hoe hoër jy fisies beweeg, hoe verder weg van die drankwinkels, banke en polisiestasies wat doer in die vallei lê, hoe meer toeganklik blyk die gees te wees om iets uit die hemelse sfeer te registreer.

Gifberg se manne kom hier met hul Bybels voor in hul bakkies om die God van hul verlossing te soek, net om dan deur Hom gevind word. Hier tussen die kranskoppies word die laste van hul gemoed gehaal terwyl hul soos seuns saam met hul Pa deur die veld stap.

Nader tot My en Ek SAL tot jou nader.

Vandag probeer ek ook die stem van die Here te hoor, maar die steekvlieë wil my in die lentehitte nie met rus laat nie.

Nogal baie soos gedagtes wat jou aanhoudend teister. Aanvanklik dink jy dit is nie so erg nie – jy gooi net 'n paar goed gemikte klappe, en die situasie is onder beheer. Maar dit is nie lank voor jy besef hierdie klein peste se steek is nie net lastig nie, maar brand vrek seer. Uiteindelik is al raad: ek moet ontsnap en 'n plaasdam gaan soek!

Is daar meer steekvlieë om jou as wat jy mee weet wat om te maak? Gedagtes wat jou vertel dinge gaan net erger word en dat die kanse skraal is dat jy ooit weer die lag gaan terugkry waarvoor jy eens bekend was?

Nouja, dan wink die Vader jou om 'n lafenis-dip in die plaasdamkoelte van Sy Woord te vat.
Sy Woord is PeacefulSleep vir elke pes en kwaal.