Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Geestelik | Spiritual > Artikels | Features

Spirituele dagboek: Maandag 1 Oktober 2007


Anoeschka von Meck - 2007-10-01

Het jy geweet Mr Price Home is profeties?

In 2005 en 2006 was daar sekere dinge wat ek op my Krismislys van die Here gevra het. Ek het gebid, soms selfs gevas, en tevergeefs die gevraagde items/omstandighede probeer manifesteer van die hemelse dimensie na hierdie een.

But no can do.

Hoe harder ek gepleit, onderhandel en die Skrif gekwoteer het, hoe meer het ek hier in my agterkop die prentjie gehad van 'n avokado wat iemand uit oorgretigheid, nie ryp nie, maar vol swart kneusplekke druk. Tog het ek gedetermineerd in my “geloof” volhard, maar dit was kompleet asof ek deur hakiesdraad pakkies afgelewer wou hê.

Twee jaar gaan verby, maar steeds kom die Posman nie by my uit nie. Al wat ek kry, is Bybelse kennisgewings wat my verseker goed is wel op pad: “Liewe dogter, hiermee word jy in kennis gestel dat God die Vader bewus is van elkeen van die items op jou lys soos bespreek verlede jaar, die jaar voor dit, gisteraand, laasnag, vanoggend en weer later vandag. Aflewering volg egter op Sy tyd.”

En dis toe dat die kolle my slat.

Oornag, met die aanbreek van 2007, word ek kolle-behep. Oral “sien” ek net kolle. Om my en om ander mense. Soos seepbelle wat die hele lug vol hang, grotes en kleintjies, lig, maar tog gelaai.

Met seëninge.

Weg is die avokado’s en hakiesdraad!

Deesdae staan ek soos 'n profeet in Mr Price Home.

Elke gekolde laken, duvet en koppie roep na my toe uit, want selfs die modewêreld bevestig wat my hele wese weet. Hier is iets aan die kom, nie net vir my nie, maar vir almal wat “sien” en “hoor”.

God is busy connecting the dots ...