Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Feeste | Festivals > Artikels | Features

Open Book-verslag: Die begin en einde van die roman


Bibi Slippers - 2011-09-28

Met apologie aan Billy Collins.

Die begin

Dit begin in die Fugard Studio, beslis een van die mooiste teaterruimtes in Kaapstad. Dit begin met ’n leë verhoog, en met mense wat drupsgewys indrentel. Dit begin wanneer die ligte die agterste muur pers kleur, wanneer drie van ons land se grootste outeurs die verhoog bestyg en in die kollig gaan sit. Saam met hulle sit een van ons mees begaafde letterkundiges, hier om die gesprek aan die gang te sit. Aan die heel begin word die gehoor en skrywers verwelkom deur Marga Collings van NB-Uitgewers. Ons ontmoet drie karakters (wat eintlik geen bekendstelling nodig het nie):  Etienne van Heerden, André P Brink en Ingrid Winterbach is hier om te gesels oor die Begin en Einde van die roman. Die motoriese moment is wanneer Louise Viljoen die gesprek aan die gang sit, en van daar af ontvou die aksie vinnig.

Marga Collings van NB-Uitgewers het die skrywers en gaste by die geleentheid verwelkom.

Etienne van Heerden, André Brink, Louise Viljoen en Ingrid Winterbach.


Die middel

In die middel gebeur alles. Dit is die deel waarin die karakters ontwikkel. Ons leer ken vir Brink as die kenner van die geskiedenis van die roman as genre, ’n entoesiastiese bespreker van Don Quixote, ’n diep denker oor die vorm en funksie van die roman.  Ons ontmoet vir Van Heerden, en iets laat ons vermoed hy’s dalk eintlik ’n digter in sy grein. Maar hy praat met oorgawe oor die roman en die tydgebondenheid daarvan. Dan maak ons kennis met Winterbach, met haar skerp blik op die wêreld, op die romankuns en op haarself. 

Viljoen dryf die gebeure vorentoe, sorg vir die regte kombinasie van aksie, konflik, uitdaging en intellektuele stimulasie. Dit is die middel, die deel waar ons hoor “die roman is steeds een van die lewendste genres in die literatuur” (Brink) en dat die roman, in die era van ons “kollektiewe aandagafleibaarheid”, ’n “poel van stilte tussen riet” is (Van Heerden, met ’n eggo van Van Wyk Louw). Ons leer dat die roman ’n gewillige medium is, een waarin daar nog baie energie verskuil is, een wat die afleiding verskaf wat mense nou meer as ooit vantevore nodig het (Winterbach). 

In die middel tas ons terug na die begin, praat oor die oorsprong van die roman, die eerste sin, die eerste inspirasie. Ons voel-voel vir die einde ... (Volgens Van Heerden is dit baie meer vrugbaar om die einde eerste te skryf.) Ons ontspan saam met Brink te midde van al die aksie: “Vir my begin die roman in die bad.” Ons karakter bring ure in die bad deur wanneer hy aan ’n roman begin werk – die boek word as’t ware uit vrugwaters gebore. Hier, in die middel, vergeet Brink die naam van een van sy boeke (en ons is nou nog nie seker na watter een hy verwys het nie). In die middel raak ons verlore in die avontuur van die roman, die onsekerheid wat ons as lesers (en ons karakters as skrywers) aan die lees en skryf hou. 

In die middel ontdek ons die oomblik wanneer ’n klomp goed bymekaarkom en tot die begin van iets nuuts lei. Dit is die middel én die begin. In die middel leer ons dat ’n roman uit ’n klomp keuses bestaan, konkrete keuses wat jou dieper in die storie inlei (Winterbach). Ook die rol van toeval is in die middel belangrik, veral vir ons karakter Winterbach, wat toeval as motief in meer as een roman ondersoek.     

Wanneer die middel op sy mees opwindende raak is die einde naby.    

Etienne van Heerden en André Brink bespreek die idee van die roman as die “koning” van literêre genres.

Ingrid Winterbach gesels oor die begin van ’n roman – die oorsprong en ontwikkeling van die eerste prikkels wat dalk ’n boek mag word.

André Brink praat oor die begin van die roman as genre.

Letterkundige Louise Viljoen.

  

Die einde

Die einde, of slot, is ’n meer intellektuele oefening. Die einde gaan oor wat die roman sê (Van Heerden). Vir Winterbach is daar nie een einde nie. Sy skryf ’n meer vroulike roman, ’n multi-orgasmiese verhaal wat nie met een enkele klimaks eindig nie, ’n boek wat nooit werklik klaarkom nie. 

Die gepraat oor klimakse maak vir Brink lus. Lus om te skryf. En as ’n skrywer eers skrywerig raak, is ons terug by die begin. En die begin is waar al die beste eindes eindig. Dus eindig ek hier. 

Etienne van Heerden lees uit 30 Nagte in Amsterdam.

André Brink lees die roman waaraan hy tans werk.

Ingrid Winterbach lees voor uit Die benederyk.

Epiloog

Alles is nie vertel nie, maar die storie maak darem soort van sin.  Dit begin.  Dit ontwikkel in die middel.  Dit eindig.  Iemand anders sou dit dalk anders vertel, maar ek gaan raai hulle sou tot dieselfde gevolgtrekking kom:  dis nog lank nie die einde van die Afrikaanse roman nie.  Solank hierdie skrywers, en ander soos hulle, net aanhou begin.