Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Onderhoude | Interviews > Afrikaans

LitNet Akademies-onderhoud: Hennie van Coller in gesprek met Carla-Marié Spies oor vertaalteorie en die vertaling van Anne Frank se dagboek, Het Achterhuis


Hennie van Coller - 2011-05-17

Hennie van Coller gesels met Carla-Marié Spies oor haar artikel “Funksionaliteit van die parateks in Lina Spies se vertaling van Anne Frank se dagboek, Het Achterhuis, in Afrikaans” in LitNet Akademies. 

Dink jy dat daar iets soos ’n “ideale” vertaalteorie bestaan?

Dit is eintlik onmoontlik om ’n ideale vertaalteorie te bepaal, aangesien verskillende vertaalteorieë verskillende aspekte van vertaling uitlig. Van hulle postuleer maniere om vertaling prakties te benader; ander hoe om vertalings te evalueer; ander beskryf weer die faktore wat ’n rol speel by vertaling; en so meer. Daar het wel in die vertaalteorie ontwikkeling plaasgevind in die sin dat daar in vroeër teorieë meer gefokus is op slegs die taalaspek van vertaling en eers later begin is om ook al die ander aspekte wat vertaling beïnvloed, onder die loep te neem. Dit sluit onder andere kultuur, politiek en agente betrokke by die vertaling in.

Vervolgens is dit ook moeilik om ’n ideale vertaalbenadering/-strategie te bepaal, aangesien die keuse van ’n vertaalbenadering/-strategie afhang van wat die doel en funksie van die vertaling is. Ook bepaal aspekte soos die konteks waaruit en waarin vertaal word, die doelteksleser en die genre van die bron- en doelteks watter vertaalbenaderings/-strategieë gevolg word. Die funksionalistiese benadering tot vertaling kan as gevolg van hierdie faktore as ’n moontlik “ideale” teorie/benadering beskou word, aangesien dit al die veranderlikes betrokke by vertaling in ag neem en ruimte laat vir verskillende benaderings en strategieë wat gevolg kan word.

Om teoreties-gefundeerde besluite ten opsigte van vertaling te neem, is egter altyd belangrik en ’n vertaler behoort nie slegs lukraak te vertaal nie. Alle besluite tydens die vertaalproses moet goed deurdink en konsekwent toegepas word. Dit is ook goed vir ’n vertaler om kennis te dra van die verskillende vertaalteorieë om sodoende bewus te wees van wat in ag geneem moet word tydens vertaling, wat die implikasies van sekere besluite is en hoe die doelteksleser binne ’n bepaalde doelkultuur die vertaling sal ontvang. Net so moet die vertaler weet watter vertaalstrategieë gevolg kan word en dan hierdie verskillende benaderings uit ’n kundige oogpunt teen mekaar opweeg om dié een te kan kies wat geskik is vir die vertaling waarmee hy/sy besig is.

Alhoewel Lina Spies nie ’n teoreties-geskoolde vertaler is nie, het sy byvoorbeeld in die vertaling van Anne Frank se dagboek, Het Achterhuis, in Afrikaans baie sistematies en konsekwent te werk gegaan en binne teoretiese raamwerke vertaal. Sy het tydens die vertaalproses deurgaans die bronteksouteur, konteks, kultuur en doelteksleser in ag geneem en in die inleiding tot die vertaalde dagboek die agtergrond van Die Agterhuis en die besluite wat tydens die vertaling geneem is, aan die doelteksleser verduidelik.

Sou daar een wees wat jy as die beste beskou binne ’n multikulturele samelewing soos dié van Suid-Afrika (soos De Stadler byvoorbeeld beweer) of is dit die teks wat bepaal watter benadering gevolg (behoort te) word?

Die vertaalbenadering of -strategieë wat ’n vertaler volg, behoort bepaal te word deur verskeie faktore, byvoorbeeld die genre van die teks, die konteks waarbinne vertaal word, die funksie wat die doelteks moet vervul en die behoeftes van die doelteksleser. In ’n multikulturele samelewing sal die vertaler byvoorbeeld in gedagte hou dat die doeltekslesergroep moontlik multikultureel kan wees, en die teks op so ’n manier vertaal dat dit vir ’n wye lesersgroep verstaanbaar, toeganklik en aanvaarbaar is. Dit is veral van toepassing by tegniese en nieliterêre tekste, waar kommunikasie tussen die doelteks en die doelteksleser die prioriteit is. Tegniese tekste word hoofsaaklik gedomestikeer (met ander woorde vertaal deur vreemde elemente te verwyder en die teks aan te pas om by die doelkultuur in te skakel en dit sodoende toeganklik te maak vir die doelteksleser). By literêre tekste het die vertaler meer kreatiewe vryheid om vreemde elemente in die doelteks te behou, aangesien lesers dikwels juis blootgestel wil word aan die vreemde elemente van die bronteks en bewus wil wees daarvan dat hulle besig is om ’n vertaling van ’n bronteks te lees wat in ’n ander konteks geproduseer is en afspeel. In die geval van Die Agterhuis volg Spies byvoorbeeld ’n bronteksgeoriënteerde vertaalbenadering waar sy die leser doelbewus van die doelteks vervreem om die outentisiteit van die dagboekbriewe te behou. Deur middel van die parateks maak sy die doelteks toegankliker vir die doelteksleser deur byvoorbeeld begrippe wat vreemd is vir die doelteksleser in voetnote te verduidelik. Hierdeur slaag sy dus daarin om die vreemdheid en outentisiteit van die dagboekbriewe self te behou, asook om die doelteks vir die doelteksleser toegankliker te maak.

Is die skoposteorie, wat klem plaas op die doel wat die vertaler nastrewe met sy/haar vertaling, nie te “vryblywend” nie? Met ander woorde, skram dit nie weg van enige vertaalnorme en derhalwe ’n beoordeling van ’n vertaling veral as linguisties “goed” nie?

Christiane Nord merk op dat dit belangrik is om in gedagte te hou dat die vertaling van ’n teks nie in ’n vakuum plaasvind nie, maar dat daar verskeie faktore is wat die produksie van ’n vertaling beïnvloed. ’n Teks word ook altyd om ’n bepaalde rede vertaal – om ’n spesifieke funksie (skopos) in die doeltekskultuur te vervul. Die skoposteorie, ook bekend as funksionalisme, behels dat die funksie van ’n vertaling in ag geneem word wanneer daar vertaal word. Hierdie teorie is ontwikkel in reaksie op die linguistiese en tekslinguistiese benaderings, waarin daar hoofsaaklik op die taalaspekte en die taalkundige korrektheid van vertalings, asook die ekwivalensie van die doelteks aan die bronteks, gefokus word om die geslaagdheid van ’n vertaling te bepaal. Die funksionalistiese benadering behels, in teenstelling hiermee, dat die doelteks, en hoe dit deur die doelteksleser ontvang word, as maatstaf vir die geslaagdheid van ’n vertaling beskou word, asook dat die konteks en kultuur rondom ’n vertaling ook in ag geneem word en daar nie slegs op die taalkundige aspekte daarvan gefokus word nie.

Katharina Reiβ en Hans Vermeer, wat die skoposteorie gepostuleer het, reken dat die doel/funksie van die doelteks die strategie wat in die vertaling gevolg word, regverdig. Hulle benadering is as te eng beskou, aangesien daar beweer is dat daar binne die skoposteorie te veel op die funksie van die doelteks gefokus word, terwyl aspekte soos taalkundige korrektheid geïgnoreer word en die bronteks hoegenaamd nie meer gerespekteer word nie. Sodanige kritiek wat teen die skoposteorie uitgespreek word, dui egter op ’n waninterpretasie van wat die benadering behels, aangesien die skoposteorie/funksionalisme nié slegs op die funksie van die doelteks fokus nie, maar ook aspekte soos die doelteksleser en inderdaad ook die bronteks in ag neem. Al die veranderlikes betrokke by ’n vertaling, byvoorbeeld kultuur, asook idiomatiese taalgebruik (in die doeltekstaal), behoort volgens hierdie teorie in ag geneem word.

Die funksionalistiese benadering is hoofsaaklik doelteksgeoriënteerd, maar die bronteksouteur, asook die bronteks, word binne hierdie benadering gerespekteer deurdat daar altyd in ’n meerdere of mindere mate getrou/lojaal gebly moet word aan die bronteks en die bronteksouteur. Deur Nord se idees van getrouheid en lojaliteit by die skoposteorie te voeg, word die norme en konvensies van beide die bron- en doeltekskonteks dus in ag geneem. Nord se benadering tot die skoposteorie berus dus eintlik op twee pilare, naamlik funksionaliteit (met die doel om die doelteks vir al die doelkultuurontvangers toeganklik te maak) en lojaliteit (om al die intensies, verwagtinge en norme van ál die partye betrokke by die vertaling in ag te neem). Nord, en later ook Vermeer, se teorie postuleer dat ’n vertaler mag besluit om konvensies agterweë te laat, maar dat lojaliteit hom/haar sal verplig om ernstige aanpassings aan die betrokke partye te verduidelik. ’n Vertaling wat binne ’n funksionalistiese benadering vertaal word, kan dus die funksie (skopos) in die doeltekskultuur vervul soos bepaal deur die vertaalopdrag (translation brief) terwyl dit steeds taalkundig keurig is, aangesien daar ook lojaal gebly word aan die doelteksleser.

Met die vertaling van die dagboek van Anne Frank in Afrikaans is die funksie van die doelteks om ’n Afrikaanse vertaling van die dagboek daar te stel wat getrou is aan die stem en styl van die outeur, Anne Frank, asook om die outentisiteit van die bronteks in die doelteks te behou. Verder word daar ook lojaal aan die doelteksleser gebly deurdat die teks in keurige Afrikaans vertaal is en vergesel word van die parateks, wat die vertaling toegankliker maak vir die doelteksleser en vertaalbesluite, soos die hantering van kultuurverwysings en afwykings van die bronteks, aan hom/haar verduidelik.

Ten spyte van Appiah se siening is daar vir my die gevaar dat oormatige gebruik van parateks dui op die onvermoë om bepaalde aspekte geslaagd “in” te vertaal. Byna soos ’n digter wat deurgaans met voetnote werk. Wat is jou standpunt?

’n Vertaler moet, net soos ’n skrywer, daarteen waak om parateks te gebruik waar dit nie funksioneel is nie, met ander woorde om iets te verduidelik net omdat daar ’n definisie beskikbaar is, agtergrondinligting te gee wat nie regtig relevant is nie, of selfs die leser te veel te lei om die vertaling vanuit ’n sekere perspektief te lees en te verstaan. Die vertaler moet altyd sy/haar oordeel gebruik ten opsigte van watter ekstra inligting die leeservaring vir die doelteksleser die aangenaamste/toeganklikste sal maak. Die vertaler moet byvoorbeeld besluit of daar enigsins verklarings vir vreemde kulturele verwysings verskaf behoort word, en dan of sodanige kulturele verwysings in die hoofteks, deur middel van voetnote of in ’n woordelys agterin die boek verduidelik en verklaar moet word. Lesers vind dit byvoorbeeld dikwels steurend om deurgaans agtertoe te moet blaai om ’n verduideliking vir ’n begrip te kry. Die aantal verduidelikings, hulle lengte en hoe steurend dit vir die leser sal wees, moet dus ook in ag geneem word.

’n Vertaler kan natuurlik, in plaas daarvan om begrippe in die parateks te verklaar, dit in die hoofteks omskryf. Dit werk veral vir tegniese/nieliterêre tekste, maar by literêre tekste sal die vertaler dikwels doelbewus, soos in die geval van Die Agterhuis, die vreemde woorde/begrippe/verwysings behou om die atmosfeer van die bronteks in die doelteks oor te dra. So sal ’n vertaler moontlik verkies om die woord lobola nie as bruidskat te vertaal nie, om die spesifieke konteks, naamlik dat dit ’n bruidskat binne ’n uitsluitlik Afrika-konteks is, oor te dra. Hierdie begrip kan dan byvoorbeeld volledig in ’n voetnoot verklaar word vir lesers wat nie daarmee vertroud is nie.

Die doeltekslesergehoor kan ook in ’n groot mate die oorweging wees wat bepaal hoeveel parateks nodig is. ’n Roman wat in ’n Suid-Afrikaanse konteks afspeel en baie begrippe en verwysings bevat oor die land en sy verskillende kulture, sal nie vir ’n Suid-Afrikaanse teikenmark te veel verduidelikings hoef te bevat nie. Indien die roman egter vir ’n oorsese teikenmark vertaal word, sal meer parateks waarskynlik nodig wees.

In die geval van Die Agterhuis werk voetnote byvoorbeeld goed om begrippe te verklaar. Die (vreemde) Nederlandse kulturele verwysings kan nie in die dagboekbriewe (die hoofteks) self verklaar word nie, aangesien dit afbreuk sal doen aan die outentisiteit van die outobiografiese teks. Om dieselfde rede, en aangesien dit te omslagtig sal raak, kan die begrippe nie in die hoofteks self omskryf word in plaas daarvan om van die vreemde verwysing gebruik te maak nie. Die begrippe word gevolglik by die teks in voetnote verklaar.

Dit is eintlik moeilik om te oordeel of parateks “oormatig” gebruik word al dan nie, aangesien die funksionaliteit daarvan sal afhang van die doelteksleser se kennis, asook van sy/haar nuuskierigheid. ’n Suid-Afrikaanse leser wat ’n Engelse vertaling lees van ’n boek wat verklarings bevat vir begrippe wat kontekstueel eie aan Suid-Afrika is, sal dit byvoorbeeld nie so nodig hê soos die leser in Engeland nie. Party lesers is ook van nature meer ingestel daarop om kennis in te win en sal meer parateks waardeer as lesers wat byvoorbeeld net die storie wil lees. Die ideaal is seker dat ’n vertaling wat wel parateks bevat, ook sonder die parateks gelees moet kan word en steeds toeganklik genoeg moet wees om ’n genotvolle leeservaring te verseker. Die leser wat meer oor die konteks of agtergrond van die teks wil uitvind, of begrippe beter wil verstaan, kan dan die parateks raadpleeg, soos in die geval van Die Agterhuis. ’n Mens hoef met die lees van ’n literêre teks nie noodwendig elke woord honderd persent te verstaan om die breë konteks van die teks te snap en te waardeer nie. Die parateks kan egter help om die leser se begrip van die teks te verbeter en die leeservaring aangenamer of meer insiggewend te maak.

Wat is jou standpunt oor “verbetering” deur ’n vertaler? Die vertaling van Cas Vos se verse deur Leon de Kock is juis so ’n voorbeeld. Sommige resensente beweer dat die vertaling beter is as die oorspronklike, juis omdat De Kock beeldspraak en troebelhede konkreter maak.  Moet “foute” in die bronteks verbeter word?

Die standpunt dat daar altyd in ’n vertaling iets verlore gaan, is gelukkig besig om te verander. ’n Vertaling kan beslis net so goed, en selfs beter, as die bronteks wees. Wanneer ’n vertaler ’n literêre werk vertaal, word hy/sy as’t ware ’n mede-outeur – ’n skepper van ’n nuwe teks wat selfstandig, op sy eie, kan staan. Vertaling kan dikwels waarde tot ’n werk toevoeg en ook die waardering van ’n bronteks verhoog. ’n Voorbeeld hiervan is Elsa Silke se vertaling van Karel Schoeman se Hierdie lewe (vertaal as This Life), wat dit volgens Cilliers van der Berg (Die Volksblad, 13 Februarie 2006) byvoorbeeld regkry om die waarde van die bronteks te verhoog deur die “eie aard van taal, gepuur tot die nuanserykheid van sensitiewe literêre uitdrukking na ’n ander taal te transponeer”. Cas Vos merk met betrekking tot Leon de Kock se vertaling van sy digbundel Duskant die donker (Before it Darkens) op dat De Kock se “omdigtings” (vertalings) hom weer na sy gedigte laat kyk het en dat hy op grond van hierdie kreatiewe omdigtings van sy gedigte gewysig het (Versindaba: Louis Esterhuizen se onderhoud met Cas Vos). Hierdeur dui Vos aan dat hy, soos resensente ook beweer, die aanpassings in die vertalings van sy gedigte as verbeteringe beskou. ’n Vertaler kan dus sekere aspekte van ’n bronteks in die doelteks “verbeter” deur byvoorbeeld van kreatiewer taal gebruik te maak, of feitefoute te korrigeer.

’n Vertaler moet egter kan onderskei tussen werklike probleme en foute in ’n bronteks en die styl van ’n skrywer wat nie noodwendig dieselfde as sy eie is nie. Om ’n voorbeeld te noem: as ’n skrywer baie lang sinne gebruik met die doel om byvoorbeeld die gedagtegang van ’n karakter in ’n roman weer te gee, moet die vertaler dit nie in die doelteks “verbeter” deur die sinne korter te maak sodat dit grammatikaal of struktuurgewys meer “korrek” is nie. Die vertaler moet hier kan onderskei tussen werklike foute, probleme en aspekte wat dalk vir die doelteksleser onverstaanbaar sal wees enersyds, en die skrywer se styl en manier van uitdrukking andersyds. Die vertaler moet met ander woorde nie sy/haar eie styl op die vertaling afdwing ten koste van die styl van die skrywer nie, tensy dit doelbewus gedoen word omdat die teks byvoorbeeld in ’n nuwe genre of vir ’n nuwe doel vertaal/herskryf word. Dit is egter altyd, waar moontlik, goed om drastiese veranderinge in oorleg met die skrywer aan te bring. So het De Jager byvoorbeeld ten nouste met Vos saamgewerk tydens die vertaling van Duskant die donker. ’n Vertaler se vermoë om ’n teks te verbeter, strek egter ook net tot op ’n punt. ’n Vertaler kan byvoorbeeld nie ’n swak storielyn verbeter nie; die onus daarvan rus steeds op die oorspronklike skrywer.