Medemens - 2007-12-19
Ek is 37 jaar oud, en by ’n kruispad. (Eintlik lankal by ’n kruispad.) Ek het twee universiteitsgrade, 15 jaar en meer se werk agter die blad, en het verskeie dinge bereik. En nou is ek werkloos. En ek kry nie werk nie. “Hoe so? Jy het dan ondervinding en grade!” Ja, maar sien, ek het teologie gestudeer, omdat ek die Here leer liefkry het en weet dat Hy deur my sy liefde en genade wil wys, en was ’n NG-dominee. “Maar daar is dan soveel gemeentes wat mense nodig het – sekerlik ...”
Sekerlik ja, maar jy sien, ek is homoseksueel, of dan gay. So tans is die “kerk-heelal” vir my geslote. Al is daar soveel positiewe geluide, weet ons mos dat mense se harte nie deur kerkvergaderings verander word nie. Kyk maar net hoe springlewendig rassisme 13 jaar later nog is. In die werksplek tel dit (kerkgrade en ondervinding) nie veel nie.
Is hierdie net ’n brief van selfbejammering en simpatie soek? Miskien ... maar in my hart weet ek ek soek ondersteuning en wil leef! Leef omdat God my gemaak het om te leef! Maar ek vind dit moeilik.
Nee, ek is nie afgedank oor “immorele” optrede nie. Allermins; die gemeente waar ek laas gedien het, en steeds amper ’n jaar later aanbid, se bestuur was ondersteunend en my baie goedgesind. Ja, selfs mense in die “groter” kerklike strukture is baie ondersteunend. Maar die kerk as geheel of die groter gemeenskap – allermins! Maar my doel is nie om mense of kerke of strukture hier op te hemel of swart te smeer nie. Dis nie die gesindheid van liefde wat ek in Jesus leer ken het nie.
Ook het ek nie nou eers my seksualiteit ontdek nie; dis daar vandat ek kan onthou. En jare gelede kon ek al met God vrede maak oor wie Hy my gemaak het.
Ek het self bedank, bedank as leraar van die kerk waardeur ek God leer ken het, aanbid en Hom liefhet. Bedank omdat die spanning tussen wie ek is en wat tradisie voorskryf ek moet wees te groot geword het. Bedank omdat daar deur die jare soveel pogings deur “goed bedoelende gelowiges” was om my te diskrediteer. Bedank omdat die seer van alleen wees en voorgee te groot geword het. Bedank omdat ek glo dat die God wat ek liefhet, nie sy liefde en genade kan wys as ek ’n leë dop geword het nie.
In die maande sedert my bedanking het die jare se gekneus my ingehaal, het die swart gat van depressie my begin inkolk. Tog dank ek die Here daarvoor. Uiteindelik kon ek stil word, en het Hy die vurige verhouding van jare gelede van my as jong gelowige met Hom, die Alwyse en Ewige, weer aangeblaas. Vandag is ek gelukkiger, en beleef ek sy liefde meer, en het ek meer hoop as in baie jare van “aktiewe bediening”.
En nou? Ja, nou ... Nou is ek uit op werk soek, stuur ek CV’s uit dat dit klap. En weet ek dat die Here steeds met my is. Leef die hoop in my. Maar vind ek geen werksplek waar ek geloof, hoop en liefde kan leef nie. Vra ek elke dag: “Here, lei my na die werk waar U my wil hê.” En ek glo God is besig om die gebed te beantwoord. Ek kan egter nie stilsit en wag dat dit uit die hemel sal val nie. Daarom soek ek wyd, en skryf ek ook hier.
Ek het ’n maand of drie se spaargeld oor om van te leef, en dan ... sal ek steeds hoop hê, omdat God met my is. Hy weet egter ook dat ek bang word. Bang vir die dag as als op is en ek nie werk het nie ...
Wat ek van jou vra, liewe leser, is: Bid vir my, vir my lewenswerk. Ondersteun my asseblief met woorde, gedagtes, dade. Laat weet my waar ek werk kan soek, waar menswees en lewensondervinding tel, en mense nie in grade en ’n vorige beroep vaskyk nie. Die Here het baie talente en gawes aan my gegee, nie net dié van “dominee” nie. Ek weet ek kan ’n groot bydrae lewer. Ek weet net nie waar nie. Ek vra geen gunste en gawes nie, of om jammer gekry en ’n werk gegee te word nie. Nee, ek is op soek na die plek waar ek as gay Christen-Suid-Afrikaner God se geloof, hoop en liefde kan leef, en net dalk wil Hy jou gebruik om dit vir my te wys daar waar ek nie kan sien nie.
Dankie vir jou tyd om hierdie gedagtes van my deur te worstel. Wat jy ook al dink – of jy met my saamstem as “fundamentalis” of “liberalis” – maak nie saak nie. Dankie dat jy tyd gemaak het om dit te lees. Selfs al veroordeel jy my soos wat soveel mense wat “anders” is, ook vandag oop en bloot deur mense veroordeel word, mag die genade en liefde van God met jou wees. Shalom.
Medemens