Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Onderhoude | Interviews > Afrikaans > Ingrid Wolfaardt gesels met Louis Jansen van Vuuren oor Tempermes en visuele kuns

Ingrid Wolfaardt gesels met Louis Jansen van Vuuren oor Tempermes en visuele kuns


Ingrid Wolfaardt - 2011-02-16

Louis Jansen van Vuuren, kunstenaar met verf en woord, sit onner Lanzerac se koel bome, en sweet. Hy, met ’n fyn kwas van ’n sigaar innie hand (een wat hy nooit aansteek nie weens die gesels) en ek met sy boek van gedigte, Tempermes, hier voor my, met ’n buiteblad van die mooiste blou, die kleur van gees en vlees, die blou van hemel en aarde en alles tussenin. Blou, die naam van sy enigste kind.

“Droom jy in Frans?” trek ek sommer weg.

“Ja, Afrikaans en Frans, partykeer deurmekaar. Gisteraand het ek ’n droom gehad waar daar Suid Afrikaners was, maar hulle het Frans gepraat en ek het ’n lange diskoers met hulle, is dit nie amazing? In my kop is die twee so na aan mekaar. Uys Krige het Èluard se gedigte van Frans na Afrikaans vertaal en dit is stunning om die ooreenkomste te sien soos hulle oorkant mekaar op die blad lê, nie net die woorde nie maar ook die fisiese uitleg van die gedigte, ook op visuele vlak, so ja, ek glo daar is dieper bande tussen die twee tale, dieper as wat dit met die eerste oogopslag lyk, en die band is meer as net die Franse Hugenote.”

“En Frankryk? Wat gee dit vir jou wat hierdie land van ons nie kan nie?”

Louis praat duidelik, sonder aarseling: “Distansie. Goed wat naby my was, soos my kinderdae. Ek dink dis hoekom skrywers hou van reis, dit gee vir hulle nuwe perspektiewe en die rykdom van die Franse geskiedenis, hulle gebruik van kleur, so anderste as die Suid-Afrikaanse palet. Kyk na Irma Stern, haar kleurpalet is van dié land. Die Franse se oplettendheid, hulle manier van kyk, die wye verskeidenheid nuanses tussen, en binne, kleure. Ek het dit nooit verstaan nie toe Monet van die skaduwees in violet praat, nou sien ek dit duidelik. Om te skilder is ’n binnereis, gelyktydig met die proses van verf op die doek stel, en die twee moet by mekaar inpas, die verrukking van skilder lê hierin. Die Ekspressioniste het gebloei, baie keer ten koste van die visuele, terwyl die Impressioniste weer meer teruggetrokke was en verf op doek was alles. Ek glo dit moet albei wees, ’n middelpad tussen die twee.”

“Beauty, skoonheid, het ’n vuil woord binne postmoderne kuns geword, maar vir jou … is dit alles?”

“Ja,” stem Louis saam, “beauty is part of the broader deconstruction of our visual reality, maar waar ek myself vind, is dit die middelpunt van my lewe: ‘beauty I will pursue’, en soos Irma Stern dit reggekry het, is dit nie noodwendig ’n soetsappige uitbeelding van skoonheid soos net nog ’n bos blomme nie, maar daar is iets wat verby die normale gaan, en dit is nou vir my belangrik. Ek is besig om skoonheid op my eie terme te ontdek en ja, ek skilder ’n iris miskien ad nauseum; die blom bly dieselfde, maar my eie temperament is aan die verander en dus verander die beeld van die blom soos ek verander. So dis daai iets van jouself in die blom wat met ’n ander praat: there is something universal that goes beyond just another flower study. Kyk vir Lucien Freud: sy werk is ’n ware weerspieëling van sy temperament en hy loop sy eie pad, ongeag die groter kuns-trends.”

“Het Suid Afrikaanse kunstenaars regtig oorsese erkenning nodig? Is dit nog belangrik?”

Net hier besef ons die son is besig om ons te bak en sonder enige onderbreking skuif ons na die volgende leë tafel toe.

“Ek dink so. Dit wys vir jou jy kan saamstaan by die bestes in die wêreld. In my derde tentoonstelling in Parys het ek ’n huldeblyk aan Matisse as tema gebruik. Ek het sy bekendste werke verwerk in my eie stem, en ook Afrika-elemente gebruik. Almal het gesê ek is waansinnig om so iets aan te pak, maar die werk het uitstekend verkoop en is as ’n tweegesprek tussen my en Matisse geloof. Dit het ook vir my gehelp om deel te word van die breër Franse psige.”

“So wat is jou visuele taal, Afrikaans of Frans?”

“My gedigte beantwoord dit. In al die gedigte wat ek in Frankryk geskryf het, is daar een of twee woorde wat dit lokaliseer en dit is altyd Suid-Afrikaans. Ek is nie Frans nie, maar die dualiteit wat ek ervaar tussen die twee is so deel van my menswees. Ek het Parys nodig, dit gee my vonk, energie, maar ek kan nie sonder Suid-Afrika wees nie.”

“Van Gogh het jou as jong seun beïnvloed. Hy’t die volgende gesê: ‘Boeke, die werklikheid en kuns is alles dieselfde vir my.’ Ek het aan jou gedink toe ek dié woorde by ’n uitstalling van Van Gogh se werk nou onlangs in Rome gesien.”

“Dit kon ek gewees het wat dit sê. Skryf en skilder kom van dieselfde plek af; daar is ’n simbiose tussen die twee. Riana Scheepers het die volgende ook met my gedeel: “As jy by ’n plek kan kom waar jy skryf soos jy verf en jy verf soos jy skryf …”, en dit is my mikpunt. Elke oggend as ek opstaan, dan is ek so bly en dankbaar vir die lewe en dit is asof elke dag iets nuuts inhou wat ek nog nooit tevore gesien het nie, en dié daaglikse ontdekkingsreis is die petrol wat my aan die gang hou.”

“Hoekom so laat dan, die skryf?”

“Ek hoor iemand praat van ‘die bejaarde kunstenaar’ – kan jy jou voorstel?”

Ek kan nie, en ons lag al twee hieroor.

“Ek het ’n joernaal op Stellenbosch as student gehou en daar was altyd tipografie in my werk. Een van die eerste werke wat ek verkoop het, het die beeld van ’n hobbelperd saam met die woorde, ‘Louis se hobbelperd’. So teks en verf was nog altyd saam. Dit was toevallig dat ek op Riana se kursus gekom het – daar was ’n kansellasie en sy het vir my gesê as ek die deursettingsvermoë het dan kan ek die kursus bywoon. Daar is vyf gedigte wat oor die dertig jaar oud is in die bundel.”

“Watter?” vra ek.

Ons trek die blou boek nader.

“Vlees en bloed” is sy gunsteling en die oudste. Ons maak die boek oop.

Gelig uit die bloederige
wand van jou moeder se buik;
broeikas knip deursigtig oop.
In my hosanna-arms –
jou afspoel-lyfie,
volmaakte vorm in vlees.
Maansteen-ogies maak oop.

Dan is daar “Doopdag, Kinderkamer, Hangkas”  van meer as drie dekades terug en “Formulier”, wat tydens die skei van sy vrou geskryf is.

“Staan die gedigte nog net so?”

“Ek het hulle gestroop van alle oordadigheid,” is sy antwoord. “’n Woord hier en daar weggevat.”

“Is die gedigte jou visuele beelde se gelyke?”

Louis skud sy kop. “Jy kan dieper sink met gedigte. Dit voel vir my dit wat versluier, verborge, en nie na gekyk is nie, kom na die oppervlak, jy gaan haal jou gedagtes en woorde soos uit ’n put en daar is ’n vloeibaarheid in woorde wat ander dinge optower, anderste as beeld. Woorde en klank is so deel van ’n mens – voor jou geboorte hoor jy stemme, dit is soos deel van jou asemhaling.”

Die beeld is vir my mooi en ons twee gesels nog ’n bietjie hieroor.

“Ken jy die skryfwerk van Jeanette Winterson?” vra Louis nou vir my. “Haar boek Sexing the Cherry? Die hoof karakter raak bewus van hoe sy woorde gebruik. Terwyl sy deur ’n landskap loop, sien sy haar woorde, wat driedimensionele vergestalting in die hemelruim kry, soos standbeelde, elke woord uit haar mond en hoe haar woorde uitspeel en dan afsak na haar toe. Sy moet weer haar woorde in die gesig staar.”

Ek verstaan die omvangrykheid hiervan.

Ons praat oor vibrasies en teorieë oor klank, toe weer terug na die verskil tussen woord en beeld.

“Ek ervaar ’n groter ‘vulnerability’ met gedigte skryf en publiseer. Ek kan nog agter my skildery staan, maar met my gedigte het ek oor goed gepraat wat daar nog nooit oor gepraat is nie en dit is vreemd hoe die lewe my nou kans gee om dit te doen, noudat ek rustiger is. Vroeër sal ek sekere goed nie gesê het nie maar ek moes sekere goed sê en toe hier gee die universe vir my een groot seëning en ek beland in die bekwame hande van Etienne Bloemhof  van NB-Uitgewers en sy vrou Susan, wat die keuse van gedigte help maak het. Daar was stunning gedigte wat uitgegooi is, miskien vir later, maar vir nou eers is daar genoeg in die bundel gesê.”

“Hoekom nie net vir jouself nie?”

“Dis ’n soortgelyke situasie as ’n uitstalling. Miskien hoop jy iemand is geraak daardeur, geïnspireer, bemoedig. As jy nie publiseer nie is dit dieselfde as om jou gedagtes vir jouself te hou, teenoor ’n dialoog wat jy met iemand deel. So kry jy nuwe insigte oor die lewe.”

“So daar is ’n plek vir late-comers in die kunste?”

“A!” Hier gooi Louis sy hande in die lug. “Jy moet ’n late developer wees jou hele lewe lank tot die dag van jou dood! Kyk vir Manet wat toe al bedlêend is en sy vrou bring elke dag ’n eenvoudige potjie met ’n blom na hom toe om te skilder en hy skilder tot die dag van sy dood. Daar is ’n boek van hierdie klein skilderytjies: The last flowers of the last summer.  ’n Mens moet met verruklike dinge besig wees tot die einde. Langs die pad absorbeer ’n mens en jy verander en jou verwysingsraamwerk is soveel groter en jou lewenservarings gee soveel rykheid … Dis in hierdie grootsheid ...” (hier bly Louis ’n ruk stil)  “om met jou eie beskeie menswees om te gaan, in hierdie spesifieke ruimte van beeld en woord, en ek is dankbaar dat ek elke dag in hierdie ruimte kan beweeg … ek kan nie anderste nie.”

“Is die gedigvorm nie in stryd met jou persoonlikheid nie?” Ek dink aan die rykheid van kleur en beeld in sy skilderye.

Louis lag. “Om te skilder is dieselfde. Daar word baie goed weggeneem, so die proses van stroop is by albei. Met my eerste skets is daar gewoonlik te veel en so ook met my skryf. Baie keer vat ek ’n kwas en skilder helfte van die skildery toe. Met skryf krap ek weer woorde uit. Ek vra altyd, is dit die eenvoudigste manier om dit te kommunikeer? Liewer te min as te veel – te veel inligting versuur gou iets. Maar aan die ander kant kan embellishment op die regte plek ook ‘power’ aan ’n werk gee.”

“Hoekom sukkel ons so om ons passie uit te leef?”

“My vriendin Francine Scialom Greenblatt vertel in die Hebreeuse kultuur word ’n kunstenaar met ’n merk op die voorkop gebore. Ek het my passie ‘against all the odds’ beoefen, dit kom instinktief en ek doen dit uit my oortuiging, ek kan dit nie keer nie, dit was so van kleins af.”

Ons los eers die onderwerp vir later. “Wat het jy lief in jou digkuns?”

“Dis die sterkste spieëlbeeld van wie ek is. Jy ken mos Rembrandt se selfportrette wat hy oor die jare geskilder het? Onverbloemde selfportrette. So is my digbundel – dit is ek, as jy met my iets wil doen, gaan lees die gedigte.”

“Het jy muses?”

Ons lag saam oor die vraag.

“Mense inspireer my. Daar word mos gesê ’n mens word mens gemaak deur mense … en die lewe is sekerlik die belangrikste muse van hulle almal – sy verander haar gedaante van die môre tot die aand. Vriende is ook kosbaar – die wisselwerking van idees inspireer my.”

“En nou, die uitstalling van 21 Februarie by AVA-galery in die Kaap, met tien studente – hoekom?” (AVA is ’n niekommersiële galery wat jong kunstenaars met die opbrengs van verkope ondersteun. Dis ook die galery waarmee Louis ’n lang pad saam geloop het, vroeg in sy loopbaan.)

“Ek is ongelooflik geseën om saam met tien uiteenlopende mense te werk wat op verskillende vlakke van hulle kreatiewe quest is, dit gee my die grootste kick om hulle bymekaar te bring, mense met soveel entoesiasme en talent.”

“Waar kom die idee vandaan, want dit is ’n eerste vir jou en vir hulle?”

“Laas jaar uit ’n tekenwerkswinkel is die gedagte gebore … As leermeester kan ek die tegniese sy van skilder met hulle deel, maar heel belangrikste wil ek elkeen van hulle by ’n punt bring waar hulle kan sê: ‘Ek is Ingrid, hier is ek, Ingrid’. Om hulle te laat groei in self-vertroue, om hulle self die vraag te vra: ‘Wie is ek? Die merk wat ek maak, is dit ek?’ Om hulle unieke stem te ontdek. En hierdie uitstalling is deel van daardie reis.”

“To live their passion?”

Louis knik instemmend.

“Wanneer kan jy jouself ’n kunstenaar noem?”

“Wanneer jy uit ’n plek van eerlikheid skep … dan is jy ’n volwaardige kunstenaar.”

“En, waartoe nou met Louis?”

“Die bundel poort die pad vir my skilderye, ek gaan nog dieper.” Hier vat Louis aan sy borskas. “Wat gaan uitkom? Who knows?”