Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Gepubliseerde skrywers > Lena in die stad

Lena in die stad


Jaco Fouché - 2007-02-06
Vanmiddag is ek na Lena toe. Sy is twee weke terug in die Bona-blok opgeneem. So twintig oor vyf (hulle eet vyfuur) het ek by die traliehek aan die punt van die gang gestaan en die blok binnegekyk. Die teëlvloer het geblink. Twee vroue in hospitaalklere, die een met ‘n verwilderde kyk, die ander met besonder yl hare, het my aangegaap. ‘n Verpleegster het nader gekom met sleutels en my binnegelaat en ek het in die besoekerskamer gaan sit. Twee meter anderkant die venster het die volgende gebou begin en van die buitewêreld kon ‘n mens net ‘n strokie blou lug sien.

Lena het ingekom, die krul ‘n bietjie uit haar hare en haar gesig sonder grimering. Sy het ‘n hospitaalrok aangehad en my dadelik gevra of ek sigarette het. Sy het een aangesteek en retories gevra: “Ja, wat maak ek hier?”

En wat, inderdaad? Sy vertel my die storie is niks besonders nie. Sy het begin nalaat om die medikasie gereeld te gebruik en mettertyd het sy opgehou en op ‘n goeie dag het ongesiene persone weer met haar begin praat en sy is strate toe, oortuig dat iemand haar geroep het, oortuig dat iemand anders haar gedwing het.

Ek luister na hoe sy praat oor ‘n busrit en ‘n vreemde stad en ‘n nag by ‘n stasie saam met hawelose mense en toe dae in ‘n smokkelhuis. Dis ‘n vreemde verhaal en ek neem my voor om dit een of ander tyd neer te skryf. Twee keer kom van die ander pasiënte die wagkamer binne en die tweede keer vererg Lena haar en jak die vrou af. Dis my Lena dié, dink ek. Ek ken daardie humeur, daardie sin vir ordelikheid wat so gou verstoor word.

Sy sê die kos is nie sleg nie, maar net ‘n bietjie min. Sy het ‘n groot lyf. Nie vet nie, net groot. Met die pasiënte kom sy min of meer oor die weg en wanneer dit nodig is, staan sy haar vrou.

Ek los ‘n pakkie sigarette en ‘n aansteker en koeldrank en aartappelskyfies by haar. Sy is bly oor die sigarette, maar traag om die koeldrank en skyfies te neem. “‘n Mens moet so uitdeel,” sê sy en ek kry haar jammer. Hoewel ek hard probeer meen dat mense gelyk is en dat ons net op regte kan aanspraak maak, en nie op voorregte nie, hoort Lena in ‘n upmarket inrigting. Sy kan dit egter nie bekostig nie. Die platewinkel waar sy gewerk het en waar sy weggeloop het, bied nie medies nie en wil in elk geval nie veel meer met haar as werknemer te doen hê nie, sê sy.

Ek groet. Lena is ‘n moeilike mens om te groet – sy skep die indruk dat sy jou verwyt omdat jy dit durf waag om haar te verlaat. Maar ek doen dit en ry huis toe en bel haar broer en sê dit gaan goed met haar.

En vanmiddag was ek weer daar, eintlik ‘n bietjie vroeg, sodat ek moes wag dat die pasiënte klaar eet.

Toe Lena die besoekerskamer inkom, maak sy verskoning daarvoor dat sy nie tande geborsel het nie – sy wou so gou moontlik by my uitkom. Sy ruik na gebraaide vleis en pampoen, maar sê dit was wors wat hulle saam met die pampoen geëet het.

Dit lyk of dit beter gaan. Ek oorhandig ‘n boek wat ek saamgebring het, Richard Branson se outobiografie. Lena ken reeds ‘n deel van die Branson-geskiedenis met dié dat sy in musiek belangstel. Ons praat oor popgroepe, sangeresse wat jonk dood is en aktrises wat kranksinnig geword het. Ek gee weer sigarette.

Weer terug, en ek weet ek gaan te min. Ek vermy egter die takie. Die hospitaal is nie besonder besoekersvriendelik nie en wanneer ‘n mens by die ingang wag, gesels pasiënte wat soms maar oes lyk en nie baie sin maak nie, met jou. Buitendien is daar die ewige ek-en-Lena. Sy is elf jaar ouer as ek en die stramheid bly daar tussen ons sit soos ‘n politieke of godsdienstige verskil. Wat ek ook al sê, ek vermoed sy dink ek is nog haar broer se skoolmaatjie wat vir die naweek kom oorbly, al is ek feitlik veertig.

Ons rook sigarette in die besoekerskamer en praat oor die ou dae. Sy lag darem al, sommer oor kattekwaad en onbenullighede. Sy sê eenmaal sy het gemeen ek sou meer gereeld kom en ek maak flou verskonings oor hoe besig ek is.

Ek gaan gou weer. Sy het sowaar grimering aan. Familie het die oggend ‘n draai kom maak en vir haar die blousel en rooisel gebring. Ons glimlag vir mekaar, maar ‘n pasiënt kom in en Lena vervies haar weer en die mooi luim is daarmee heen. Lena onthou haar broer se handewerk op skool. Hy het eenmaal ‘n tent gemaak – die penne, die pale, die seil, alles. En hy het visgevang. Ek kan saam praat oor ure op die dam in ‘n rooi bootjie.

Lena lag baie en ek bly lank. Sy vertel my iets wat ek nie geweet het nie. Ek was bewus van ‘n vroeë werk as onderwyseres, maar ek het nie geweet hoekom sy die beroep verlaat het nie. Sy het ‘n verhouding met een van haar leerlinge gehad. Dit was iets yslik, sê sy. Sy is daarvan beskuldig dat sy die kind verlei het, maar sy meen vandag die seun was meer wêreldwys as sy toentertyd. Ek dink aan haar prikkelbaarheid en wonder hoe lank dit al aankom en of dit heeltemal aan die siekte toegeskryf kan word. Dis donker toe ek ry.

Lena word ontslaan. Dit gebeur so dat ek haar by die hospitaal gaan haal omdat haar broer nie voor môre in die stad kan wees nie. Dit krap my werksplanne ‘n bietjie deurmekaar, maar ek gee nie regtig om nie. Om Lena in my woonstel te ontvang … Dis ‘n fantasie wat waar word, iets wat ‘n mens nooit met iemand anders sal bespreek nie, die gedagte aan die lyf van hierdie slapende vrou in my blyplek.

Ek moet ‘n ruk by die ingang wag en toe Lena uiteindelik die blok kan verlaat, is sy vies oor die administrasie wat so lank geneem het. Om haar te trakteer ry ek na die winkelsentrum sodat ons kan koffie drink en miskien ‘n draai in ‘n musiekwinkel maak, maar ek sien gou dat Lena die uitstappie nie geniet nie. Haar aandag is nie by my of die koffie of, later, die CD's nie, maar by die mense om haar. Is sy wantrouig? Skrikkerig? Ek dink so.

Ek koop beesvleis en groente vir aandete, en wyn wat ek Lena laat kies omdat my kennis van drank nie verder strek as die wete dat dit ‘n mens vrolik maak nie. In die aand kook ek die beesvleis halfgaar en braai dit en die groente verder in die pan met baie bakmargarien, en Lena vra of ek gereeld kook. Nee. Ons drink die wyn. Lena soek in my musiek na iets luisterbaar. Ek het meestal instrumentale musiek, bloot omdat lirieke my aandag aftrek wanneer ek wil lees of skryf, maar Lena tref Fleetwood Mac aan en ons luister daarna: “When it comes to love, got to treat it special.”

Lena skakel my rekenaar aan (ek lig ‘n wenkbrou, maar moet seker bly wees sy voel tuis) en lees hier en daar. Sy kom op ‘n resensie af en sê: “Dit moet wondere vir die selfbeeld doen om te kan skryf: ‘Wie’s die jongste werklik belowende skrywer in Afrikaans?’” Ek raak ‘n bietjie rooi, want ek het my laat meevoer deur my opinies en rol toe ek daardie sin geskryf het. Lena lees verder: “'’n Mens moet van tyd tot tyd jou taal en herkoms afsweer, net om jou weer te oriënteer.’ Ha!”

Ek vra nie wat sy met daardie "Ha!" bedoel nie, maar sê: “Soms skryf ‘n mens goed om te sien wat die reaksie sal wees. Jy gebruik verkennende veralgemenings.”

Sy lees verder: “'The first casualty of condescension is humour.’ Wie het dit gesê?”

“Ek. Ek lei halwe waarhede uit ander halwe waarhede af.”

Sy is ‘n rukkie stil en ek kyk hoe die margarien in die pan tussen die groente en stukkies vleis skiet.

Lena vra: “Is dit verstandig om ander skrywers te resenseer, veral dié wat beter as jy is?”

“Dalk nie, maar die versoeking is onweerstaanbaar.”

Sy kom staan by my en drink van haar wyn. Ek wonder of sy koketterig voel. “Jy het nog altyd iets teen geleerdheid gehad.”

“Dis net dat ek nie mooi agterkom wat ‘n verskil dit maak nie. Die newevoordele begryp ek – die mense wat jy leer ken, die geleenthede wat hulle voordoen. Maar wéét geleerde mense meer as dié wat nie formeel opgelei is nie? Boeke en televisie en die internet is tog aan almal beskikbaar.”

“Jy maak iets ingewikkeld wat eintlik so eenvoudig is. Jy is jaloers en daar is ‘n oplossing vir jou, daar is verligting. Swot en sluit aan by die mense wat jy bewonder.”

Ek weet nie hoe ons hieroor begin praat nie. Ek het gedink my en Lena se onderwerp is kranksinnigheid en ons agenda verborge liefde.

Sy glimlag op ‘n manier wat die ouderdomsverskil tussen ons weer duidelik maak. Ek is die nuuskierige en voortvarende paloeka en sy ‘n soort wyse, gelouter nie net deur die verwagte dinge van werk en ekonomiese onderhorigheid wat met ‘n mens gebeur nie, maar ook deur die geestesongesteldheid, waaroor ek uitvra en waarvan sy my nou weer die een en ander vertel.

Sy het by ‘n smokkelhuis huisvesting gekry en ‘n kamer gehuur tussen prostitute en dwelmslawe. Die omgewing het haar nie te veel gekwel nie. Sy het veiliger daar gevoel as op straat en die stemme was stiller. Kort na haar intrek is daar egter ‘n psigiese drama in haar lyf en kop, ‘n verstommende knelling in die gees, die gedagte dat sy seker sal moet opbring om die gevoel uit haar bolyf te kry, toe die gewaarwording van organe om haar. Nie net hare nie, maar ander mense s’n ook, duisende ander mense. Harte, niere, lewers, longe, breine, verbind met mekaar via buis en pyp en aar sodat daar nog sprake van funksionering is, want hier klop ‘n hart om ‘n brein daar, meters weg, aan die lewe te hou, en daar teug longe aan asem vir hierdie brein. Dis ‘n gemeenskap wat so gedy, besef sy, maar waar is die individue? Opgeneem in en verswelg deur die massa. Haar lewensgeskiedenis kom by haar op: haar ouers, haar broer, haar skool, haar studies, haar werk, die dinge en mense waardeur sy met haar lyf is. Dan, haar kranksinnigheid, die dae op straat aan die dwaal, die geselskap van ‘n behoeftige mens wat koppig by haar bly omdat sy ‘n deel van haar salaris in haar beursie het, ‘n vorige paar weke in Bona-blok, daarna die opsie om terug te gaan en musiek te bemark, die uiteindelike besluit om huis toe te gaan, Karoo toe, en nou – nou die wat? In die smokkelhuis, aan die hallusineer. Deel van haar weet moontlik sy dwaal maar net deur ‘n geesteswêreld wat so onwerklik soos ‘n sprokie is. Maar sprokies word belangrik genoeg geag om bestudeer te word – waarom dan nie jou delusies en drome as net so belangrik beskou nie? Dis ‘n klein deel wat hierdie dinge dink en haar ‘n bietjie belangrik laat voel – die oorheersende indruk is een van tragedie en ellende. Die organe – sy beland nou tussen die minder aangename organe, asof sy besig is om te sink na die agterkant van hierdie vreemde rooibruin bloederige wêreld. Daar is derms en blase en hulle uitskot, en sy sak en sak en sak totdat sy vasgedruk voel in materie, deel van die rioolstelsel van ‘n ou, ou stad. Daar is skaars nog plek om asem te haal, maar haar longe is reeds so ver van haar af, dit en die hart wat haar dalk in die steek gelaat het, wat gebreek is, wat van goud was.

En dan bestorm polisie die plek, breek deure oop, gaan staan in skutterhoudings in deuringange en skree dat mense op die grond moet gaan lê, boei mense se hande vas. Dwelmhandelaars vloek. Dwelmslawe kerm. Lena lê in haar kamer en luister na die geluide. Dis hoe sy weer by die samelewing aansluit: die polisie neem haar na die Bona-blok toe sy volhou daar is ‘n samelewing wat hierdie oppervlakkige materialistiese een onderlê.

Die kos is gereed en ons eet in my sitkamertjie terwyl ‘n musiek-DVD speel. U2 sing en daarna sit ek ‘n Andy Williams-CD op wat Lena laat lag. Ek moet wonder hoekom lag mense vir Andy Williams. Ek persoonlik dink hy is (of was) uitstekend.

Laat in die aand neem ek my kans waar. Ek het vir Lena slaapplek in die sitkamer voorberei, maar neem haar in my arms en kyk haar in die oë (sy is so lank soos ek). Ek sê vir haar: “Ek is lief vir jou.”

Sy sê vir my: “Aag, gaan slaap tog net.”