![]() |
Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012) This is the LitNet archive (2006–2012) |
||||
|
Joan Hambidge - 2010-12-07 Wat se soort kaas het Hanlie Retief in die muisval gesit om die skrywer te vang? Retief weet maar hoe om mense uit te lok en onder die vel in te klim. En boonop, verneem ons, het sy die onderhoud vir Annelie Botes terug gelees wat haar stempel van goedkeuring gegee het. Die tsoenami rondom Botes se uitlatings was te verwagte. Van geykte reaksies soos ons-is-nie-almal-so-nie tot verontwaardigde skryfsels waarin daar gevra word hoe is dit moontlik dat ’n skrywer van komplekse temas (soos bloedskande) so ongevoelig kan wees. En die verbaasde, seergemaakte Botes wat met ’n barsende hart ontken dat sy ’n rassis is. Ondertussen het die Engelse pers ook kennis geneem en is daar ’n gefladder in die hoenderhok en die paw-paw’s tref die darling. En is sy afgedank as rubriekskrywer. Moes Rapport dit geplaas het. Beslis. Moes Annelie Botes so uitgeflap het? En moes die robuuste diskoers, soos Nina Overton-De Klerk skryf, die reënboognasie ontwille, geduld word? Julius Malema en Annelie Botes, twee persone wat verskillende kante van die ras-munt voorstel. Volgens my het alles te make met konteks. In my studeerkamer het ek ’n versameling Truly tasteless jokes. Kan ek dit vertel by ’n spoggerige dinee? Daar was ’n Boer, Skot en Engelsman … en ons weet grappe werk met stereotipes, nie waar nie? Met ons versus hulle. Boonop vertel ons grappe om te verminder en kleineer en beheerbaar te maak. Ons sien eintlik Annelie Botes se vrese hier. Sy het haar onbewuste oopgemaak en die ras-stereotipes spring uit. Is dit goeie maniere om so te praat? ’n Onderhoudvoerder is veronderstel om ’n skrywer onkant te betrap. Edmund White se lieflike onthulling van ’n effens aangeklamde Truman Capote, wat vertel hoe hy saam met sy huishulp van Puerto Rico (op dae wat sy nie vir hom werk nie), gaan rondsnuffel in ander mense se huise. Tot op ’n dag wat hulle betrap word en hy in die kas toegesluit word tot die ryk Madame weer uit is … Hanlie Retief het dit dus reggekry om ’n donker geheim te ontbloot (en dis haar werk, onthou). ’n Skrywer is ’n indiwidu en hierom sal ander skrywers hulle distansieer met ’n verontwaardigde ons-is-nie-almal-so-nie. So ook is Michel Houellebecq. Maar Annelie Botes se reaksie was nie intelligent nie. Dit was gewoon ongenuanseerd en ongesofistikeerd. Dit vertel vir ons iets van die praatsiek tyd waarbinne ons leef. Almal het ’n mening. O verlos ons van blogs en Facebook. En dit is waarop ons moet fokus: omdat die ego-grense tussen sel en sms en e-pos fragiel is, word daar gebabbel. Met ’n vinger op send voordat jy dink. Dalk is dit werklik hoe Annelie Botes dink en voel. Maar sy het perdalks gedink dis sommer net … ’n e-pos of aan vriende op Facebook of só iets. Die praathekke kan waarskynlik nie meer gesluit word nie en niemand hoef bang te wees vir ’n media-tribunaal nie. Daar is soveel maniere om te praat en praat en praat en skryf en skryf en skryf dat niemand meer stil gemaak kan word nie. Laat ons praat oor ras sonder om te skel of aanstoot te gee. Dit laat my dink aan die grap oor die ou boere in die indertydse Rhodesië en dan stap die huisbediendes in gestyfde wit klere rond met klokkies wat lui vir diens. En dan (a die punchline) vra die een helper in die kombuis: Waaroor praat hulle? Oor ons, is die antwoord dan. En waaroor praat ons almal nou? Oor Annelie Botes. Joan Hambidge
|