Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Kennisgewings | Notices > Konferensie: Digitalisering in Suid-Afrika en NALN-navorsingstoekennings

Konferensie: Digitalisering in Suid-Afrika en NALN-navorsingstoekennings


2010-10-15

Daar word beplan om voor die einde van die jaar ’n konferensie te hou oor digitalisering in Suid-Afrika. Dieselfde geleentheid sal ook benut word om te besin oor riglyne  met die oog op die toestaan van navorsingstoekennings aan letterkundige onderwerpe as deel van NALN se korttermyningrypingsplan.

Na raadpleging van soveel moontlik belanghebbendes, is besluit om die werksessie aan te bied vanaf 09h00 op Donderdag 11 en Vrydag 12 November 2010 in Pretoria. Die presiese standplaas sal later bevestig word, maar dit sal by óf die Universiteit van Pretoria óf die Voortrekkermonument wees.

Graag word belanghebbendes versoek om dringend met voorstelle te kom oor hoe hulle dink die konferensie optimaal benut kan word, deur insette te lewer tov die doel van die konferensie, uitsette wat verlang word, werkswyse, inhoud, sprekers, onderwerpe vir wegbreuksessies, tydstoekenning,  finansiële bydraes, indien enige, benodig deur potensiële sprekers, sessie-voorsitters/fasiliteerders, dokumentasie wat vooraf vir algemene agtergrond versprei moet word, ens.

Persone wat graag ’n spesifieke aanbiedingsgleuf verlang, word in besonder versoek om die onderwerp en regverdiging vir hul aanbieding aan te dui, sodat dit na behore relatief tot die ander voorstelle oorweeg kan word.

Van die instansies wat reeds tentatief as belanghebbendes en derhalwe ook potensiële aanbieders geïdentifiseer is, sluit die volgende in (in geen spesifieke volgorde):

a. Genl-maj Gert Opperman: Oorsig, statusverslag en voortsettingsbeplanning van die NALN-korttermyningrypingsplan en sy afgelope besoek aan die letterkundige museums te Leeuwarden, Antwerpen en Den Haag, asook die Digitaliseringsbiblioteek van die Nederlandse Taal in Leiden, Nederland.

b. Mnr Burgert Senekal tov die digitaliseringsprojek (koerant- en tydskrifknipsels ) te NALN: Statusverslag en tegniese aspekte.

c. Mnr Otto Liebenberg: NALN en digitalisering: Wat word beplan tov digitalisering van ander materiaal? Is daar struikelblokke in verband daarmee?

d. Digitalisering soos wat dit by verskillende universiteite toegepas word, in besonder (Vraag: Is dit nodig dat hulle almal aanbied? Indien wel, hoeveel tyd sal elkeen van hulle benodig?):
i.   NWU: Prof Wannie Carstens
ii.  UP: Aanbieder?
iii. US: Aanbieder?
iv.     UV: Aanbieder?
v.      UJ: Aanbieder?
vi.     UWK: Aanbieder?
vii.     NMMU: Aanbieder?
viii     UNISA: Aanbieder?

Prof J van der Elst: Wat verwag navorsers tov digitalisering?

e. Afrikaanse Taalmuseum: Mnr Jack Louw

f. Intellektuele eiendomsreg/ kopiereg: Prof Tana Pistorius, UNISA

g. Digitalisering op ’n kommersiële diensgrondslag: Mnr Schalk Liebenberg, Sentrum vir Besigheids- en Taaldiens

h. Digitalisering soos toegepas deur die Nasionale Argief: Aanbieder?

i. Moontlike oorsig van die stand van digitalisering van Afrikaanse en Nederlandse bronne in Nederland: Dit word oorweeg om Mnr Cees Klapwijk van die Digitaliseringsbiblioteek van die Nederlandse Taal te nooi om ’n aanbieding tydens die werksessie te doen, aangesien hulle na verneem word reeds 20 000 bladsye Afrikaanse teks gedigitaliseer het, maar blykbaar nie met die betrokke RSA-uitgewers kan ooreenkom oor die publikasie daarvan nie.

j. Die perspektief van die uitgewers in hierdie verband: Verteenwoordiger van Naspers of Human en Rousseau?

k. Digitalisering en die mediabedryf: Verteenwoordiger Naspers/Media 24?

Die organiseerders behou die reg voor om die finale program volgens goeddunke saam te stel, indien té veel aansoeke vir aanbiedingsgleuwe ontvang word.

Hoogstens een van die beskikbare sessies sal afgestaan word vir die formalisering van voorstelle oor die besteding van die beskikbare navorsingsfondse. Geskrewe insette daaroor sal derhalwe vooraf opreg waardeer word.

Vooraf-registrasie sal noodsaaklik wees vir bywoning en afgevaardigdes en ander deelnemers moet asb hul eie reis- en verblyfreëlings tref. Beperkte bronne sal beskikbaar wees om in uitsonderlike gevalle finansiële steun te verleen aan sprekers wat dit benodig. Die registrasiekoste, waarvan aanbieders vrygestel sal word, sal mettertyd bevestig word.

U insette, indien enige, teen nie later nie as 10:00 op Maandag, 19 Oktober 2010 sal opreg waardeer word, aangesien daar min tyd oor is vir die detailbeplanning van die konferensie.

Stuur u insette aan genl-maj Gert Opperman by [email protected].