![]() |
Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012) This is the LitNet archive (2006–2012) |
||||
|
Diana Ferrus - 2007-01-29 Hy was die posman, het briewe afgelewer en het waarskynlik ook geweet wie skuld hoeveel vir watter winkel. Miskien het hy geweet wie vry met wie oor lang afstande, want hy het die liefdeswoordjies agterop die koeverte gelees: “My ink is up, my pen is dry, but my love for you will never die …”
Die kinders het hulle deur die venster gesien. Sy posman-baadjie het oor die stoel gehang. Hy het nog steeds sy skoene aangehad, maar verder niks. Onder hom het hulle haar ook gesien. Haar breë mond was oor sy skouerknop gevou.
Die kinders het daar gestaan. Hulle was drie wat mekaar beurte gegee het om te kyk. Sy het telkemale hard “Here!” uitgeroep. Dan het hy vinniger beweeg, het hulle vertel.
Dit was nie die eerste keer dat die kinders die twee gesien het nie. Die mense van die straat het geweet dat hy haar altyd op ‘n Dinsdag kom besoek het. Hulle het hom dopgehou. Hy het al die ander strate eerste gedoen en laaste in Abrahamsstraat pos afgelewer. Hy het gewoonlik die leë possak agter op sy fiets vasgemaak en dan na haar huis beweeg – nommer 36. Net voor haar man uit die werk sou kom, so om en by sesuur, het hy haastig op sy fiets geklim en sonder om links of regs te kyk in die pad afgery. Sy huis was aan die ander kant van die rugbyveld wat aan die onderent van Abrahamsstraat was.
Sy was glo lief vir stil mans. Die posman was iemand wat nie baie gepraat het nie. Hy’t altyd net gegroet, die pos afgegee en verder gery. Haar man en die posman was al twee lank en maer van postuur, donker van gelaat met pikswart, steil hare. Beide het ‘n snor gedra; haar man het egter gebril.
Sy was taamlik lig van kleur, met ‘n bos swart hare wat al grys begin word het. Mense het haar “rond” genoem. Die feit dat sy ‘n uitstekende kok was, het seker ook baie met haar lyf te doen gehad. Sy het koek gebak vir groot geleenthede soos aanneming, 21ste-verjaarsdag-partytjies en troues. Sy het ook heerlike pasteitjies gebak en aan die mense in die omgewing verkoop. Sy was lief vir Jim Reeves en Connie Francis en het Saterdae-oggende haar deure wyd oopgemaak en die platespeler op sy luidste gespeel. Die ander mense naby het dan kamma-kamma hulle erwe begin vee en hard die sad love songs saamgesing.
Sy’t gehou van dobbel en het alte graag Bingo-middae gereël. Dan het dié wat ‘n fortuin wou maak, vergeet van hulle moeilikhede by die huis. Hulle het hulle stoele, matjies en ander dergelikhede gebring om die Bingo-middag suksesvol te maak. Wanneer die son gesak het, het sy die Bingo game gestop en dan het almal weer teruggesuiker na hulle huise toe, sommige met breë glimlagte, sommige met lang lippe.
Sy was nie ‘n baie flukse vrou nie. Dis op dié manier dat die kinders die weg na haar huis geken het. Maandae moes hulle ná skool die hope skottelgoed was en kombuis uitvee. Dan het hulle ook die werf skoongevee en winkel toe gehardloop. Hulle het vertel dat sy net so in haar onderrok in die voorhuis bly sit het terwyl hulle vloere politoer, vullis uitsit en afstof.
Hulle het geweet wat sy en die posman doen was nie reg nie. Miskien het sy geweet dat hulle weet. Maar vir die drie honger twaalfjariges was die kos en geld wat sy hulle betaal het, oorgenoeg om hulle monde toe te hou.
Haar man het saans nadat hy van die werk afgekom het, die duiwe uit hulle hokke gelaat, wat hy dan skoongemaak het. Hy’t die waterbakke skoongeskrop en die kosbakke vol mielies gegooi. Dan het hy gesit en wag dat die duiwe terugkom en bly staan om te sien hoe hulle gulsig die water opslurp en die geel mieliepitte oppik. ‘n Mens het hom nooit rêrig sien rondloop nie. Dit was net werk toe en terug en die paar treë tot by die duiwehok.
Gewoonlik was die drie kinders al klaar gewerk wanneer haar man van die werk af kom. Dinsdae, wanneer dit meneer posman se dag gewees het, het sy hulle nie geroep nie. Maar Donderdae en Vrydae het hulle weer klokslag drie-dertig by haar aangekom en onmiddellik geweet wat om te doen.
Dis toe haar man begin te siek word het dat dinge moeilik geraak het vir die kinders, maar meestal vir haar en die posman.
Haar man was ‘n weaver by ‘n groot material-vervaardiger. Hierdie fabriek het material vervaardig vir die buitelandse mark. Hy het as jong man by die fabriek begin werk as skoonmaker en toe later ‘n weaver geraak. Mense het altyd gesê hy het tering, dié dat hy so maer was. Of dit nou so was of nie, hy moes vroeg aftree, op die ouderdom van 45 jaar, want sy longe kon toe nie meer die stof in die fabriek vat nie.
Ofskoon hy toe nou afgetree was of nie, het mense hom nog net so min gesien. Hulle het ook toe al minder die posman by die huis gesien. Hy het gewoonlik net by nommer 36 Abrahamsstraat se hek gestop en die klokkie van die fiets gelui en gewag tot sy uitkom. Sy het gewoonlik ten spyte van haar vol lyf by die deur uitgevlieg, onbewus van die hare wat wild gestaan het. Die twee het lank gestaan en gesels. Sy het ‘n lang sigaret tussen haar vingers vasgehou en hy het kamtig deur die pak briewe wat hy nog moes aflewer, gewerskaf.
Die kinders kon ook nie meer die werk vir haar doen nie, want haar man het nie daarvan gehou nie. Skielik was daar nie meer so baie vir die mense om te wonder wat op ‘n Dinsdagmiddag by nommer 36 Abrahamsstraat gebeur nie. Die lewe in Woel-dal was maar saai – die enigste ligpunt was die Saterdae-middae se Bingo-spelery. Hoe sy kon voortgaan met die Bingo was vir baie mense ‘n raaisel. Dat haar man heel waarskynlik nie van die spelery gehou het nie, het hulle geweet, want op ‘n Saterdagmiddag was hy nêrens te sien nie.
Die dag van die voorval was haar man glo hospitaal toe vir sy check-up. Heel toevallig was dit ‘n Dinsdag. Niemand het enige drama verwag nie, want almal het verstaan dat die verhouding tussen die vrou en die posman oor was. Blykbaar het die drie kinders iets geweet, want hulle het soos destyds weer by die agterste kamer se venster gaan staan om te sien wat in die floubeligte kamer aangegaan het. Die twee in die bed was salig onbewus van die ses paar oë wat elke wilde beweging gesien het. Volgens die drie het hulle hulle so verlustig in die manewales van die twee owerspelers dat hulle nie die vrou se man hoor aankom het nie. Hy was so te sê op hulle toe hulle hom gewaar en die hasepad gekies het. Die kinders het mekaar plegtig belowe dat hulle niemand sou vertel wat hulle gesien het nie. Hulle was nog meer vreesbevange toe hulle die volgende dag hoor dat die vrou se man gesterf het. Die dokter se bevinding was dat hy aan ‘n hartaanval gesterf het. Sy hart het glo te hard gewerk om die longe te ondersteun.
Dit was eers later dat een van die kinders sy ma vertel het dat hy teruggedraai het om te sien of die oom die posman ‘n pak sal gee. Groot was sy verbasing egter toe hy die swaar vrou bo-op haar maer man sien sit wat op die vloer gelê het. Haar gesig was rooi en die pofferhande het styf om haar man se nek gespan. Die kind het vertel dat hy so groot geskrik het dat hy net daar onder die venster op sy agterstewe gaan sit het. Hy kon nie beweeg nie. Ongeveer tien minute later het hy gesien hoe die posman op sy fiets nie áf in Abrahamsstraat ry nie, maar óp. Niemand wou hom egter glo nie.
Almal in Woel-dal het die stil oom se natuurlike dood betreur. Miskien, het baie gesê, was sy vrou se owerspel te veel vir hom, daarom het sy hart ingegee. Die posman het op sy beurt kort na die oom se dood nog een keer ‘n brief by nommer 36 gaan aflewer en daarna het niemand hom weer gesien nie.
Die posman is dieselfde jaar aan alkoholvergiftiging oorlede. “Goed so!” het die mense in Woel-dal gesê. “Hy moet hom watte skaam. Wat jy doen in die donker, sal uitkom in die lig.”
Die oom se vrou het al hoe meer Bingo gespeel, nou nie net op ‘n Satermiddag nie maar regdeur vanaf Maandag tot Sondag. Jim Reeves het al hoe harder geblêr en Connie Francis het mense tot trane gedryf met “I fall to pieces”. Tussen alles deur het die vrou al vetter geword en sy het baie oud geword, sommer baie ouer as die twee maer mans wat sy in haar lewe gehad het.
|