![]() |
![]() |
Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012) This is the LitNet archive (2006–2012) |
![]() |
||
![]() |
2010-08-12 MINISTERS BY AFRIKAANSE ONDERWYSBERAAD Knelpunte in die onderwys, veral met betrekking tot Afrikaans, word bespreek by ’n nasionale konferensie wat die Afrikaanse Taalraad in Kaapstad belê het. Twee nasionale ministers, onderskeidelik dr. Blade Nzimande, Minister van Hoër Onderwys, en me. Angie Motshekga, Minister van Basiese Onderwys, is genooide sprekers. Die konferensie by die Kunstekaap-teater sluit aan by die gewilde skolefees van die Kunstekaap en word van 26 - 28 Augustus gehou. Benewens die Kunstekaap is Die Burger ook een van die vennote in die konferensie wat ten doel het om kreatiewe oplossings te vind vir knelpunte wat uitnemende onderwys strem. Die konferensie word gehou in die lig van die die Afrikaanse Taalraad (ATR) se beskouing dat die handhawing en erkenning van moedertaalonderrig op preprimêre, primêre, sekondêre en tersiêre onderwysvlak ononderhandelbaar is. Daarom dring die ATR aan op die daarstelling van billike maatreëls vir die behoud en vestiging van moedertaalmedium-onderrig en moedertaalskole. Van die voorste akademici en onderwyskundiges in die land sal aan interaktiewe besprekings deelneem. Die geleentheidspreker is prof. Neville Alexander, internasionaal bekende taalsosioloog. Alexander sal die uitdagings vir moedertaalonderrig binne ’n veeltalige konteks bekyk, met ’n spesifieke fokus op Afrikaans. Twee rektore van universiteite, prof. Russel Botman en dr. Theuns Eloff, onderskeidelik van die Universiteit van Stellenbosch en die Noordwes-Universiteit, is genooide sprekers. Die amptelike opening van die konferensie vind op Donderdag 26 Augustus om 19:00 in die Teater se ontvangslokaal plaas. Die sprekers by hierdie geleentheid is prof. Wannie Carstens, voorsitter van die Afrikaanse Taalraad, me. Marlene le Roux, Kunstekaap se uitvoerende hoof van Gehoorontwikkeling en -opvoeding, en mnr. Bun Booyens, redakteur van Die Burger. Bywoning van die amptelike opening is gratis. Van die kwessies wat op die daaropvolgende twee dae indringend bespreek sal word, is die posisie van Afrikaansmedium-onderrig op skoolvlak, Afrikaans as tersiêre onderrigtaal, die media en Afrikaanse onderwys, onderwysvakbonde en die toekoms van Afrikaans in die onderwys, die jeug en die toekoms van Afrikaans in die onderwys, asook beskerming, bevordering en bemagtiging deur kultuurliggame. Registrasiegeld is R50,00 per dag. Konferensiegangers As deel van sy fokus op onderwys hierdie maand, word daar ook nog twee verdere inisiatiewe aangebied. Op Woensdag 25 Augustus, vanaf 08:30 tot 14:00, word die Vrye Afrikaanse Universiteit-inisiatief ’n stappie verder geneem met ’n vergadering van belanghebbendes wat by die Huis der Nederlanden (SASNEV) in Pinelands, Kaapstad sal plaasvind. Die sprekers sluit prof. Neville Alexander, prof. Kwesi Kwaa Prah, dr. Sias Mostert, dr. Dirk Brand en dr. Maarten Venter in. Akademici, kundiges en filantrope word genooi om die byeenkoms by te woon. Skakel die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) by 021-446-1378 of e-pos Merle van Diemel by [email protected] indien u dit wil bywoon. Die registrasiegeld is R50,00 per persoon (sluit verversings in) en is betaalbaar by registrasie. Voorts bied die ATR op Saterdag 21 Augustus vanaf 09:00 - 11:00 ook nog vier onderwyserwerkswinkels aan: Die gebruik van tegnologie in die klaskamer (Onderwys-areakantoor Kuilsrivier); Die nuutste leesonderrigmetodes (Hoërskool Stellenbosch); Klaskamerdissipline (Onderwysareakantoor Parow); en Beurse vir Afrikaanse leerders vir tersiêre studie (Universiteit van Stellenbosch). Die aanbieders is Johann van Tonder (Media24), Ria Olivier (ATR), Adinda Vermaak en Neville Goliath (albei van die Wes-Kaap Onderwysdepartement), Christo van der Rheede (SBA), dr. Danie Langner (Rapport Onderwysbeurs) en mev. Dinah Theron (Solidariteit Helpende Hand). Bywoning van die werkswinkels is gratis. Die getal deelnemers is egter beperk. Vir meer inligting oor die Onderwyskonferensie, of die onderwyserwerkswinkels, skakel Ria Olivier ([email protected]; tel. 021-446-1043; faks 021-446-1012), of besoek die ATR se webwerf by www.afrikaansetaalraad.co.za.
|