Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Briewe | Letters > SêNet

'n Kransie vir Koos du Plessis


Johannes Comestor - 2010-06-08

In Afrikaanse musiek vind ek die meeste aanklank by Koos du Plessis (1945-1984). Ek is dankbaar dat oester (SêNet, 3 deser) en Tiens (SêNet, 4 deser) 'n lansie vir sy musiek gebreek het. Die wêreld van ligte musiek was (en is seker steeds) deurtrek met vlak mense wat geen waardering gehad het vir die geestelike diepte in Du Plessis en die uiting wat dit in sy musiek gevind het nie.

In 1979 was Du Plessis se "Kinders van die wind", gesing deur Laurika Rauch, 'n tyd lank baie gewild omdat dit die temalied vir die televisiereeks Phoenix en kie was. Na sy dood het sy werk in statuur gegroei. Tot op hede word sy musiek gekenmerk deur bestendige verkope, maar dit word algemeen aanvaar dat sy werk kwalik 'n kommersiële sukses genoem kan word. Hy was te diepsinnig om populêr te wees.

Du Plessis was 'n joernalis en sy musiek kom uit die era van die Afrikaanse luisterliedjie. Hoewel hy nie 'n besonder goeie stem gehad het nie, ontroer sy sang en sy begeleiding op die kitaar deur eerlike, deurleefde eenvoud. Tydens sy lewe is drie albums op plaat en kasset gepubliseer, wat mettertyd almal op laserskyf heruitgereik is, nl Skadu's teen die muur (1979), As almal ver is (1981) en Herbergier (1982).

Op die tweede album is daar 'n liedjie vir elkeen van sy drie kinders (Irma, Karien en Karla), terwyl sy vrou, Mornay, op die derde album besing word. Karla het uit eie reg bekendheid as uitvoerende kunstenaar verwerf. Daar is selfs 'n treffende opname, gemaak 20 jaar na haar pa se dood, van "As jy my kon volg", waarin die stemme van Koos en Karla afgewissel word.

In 1986 is Koos se plaat as 'n huldeblyk uitgereik. Die woorde en toonsettings is deur Du Plessis, maar die liedjies word deur Coenie de Villiers, Jannie du Toit, Lucas Maree en Nick Taylor gesing. Dit is in 2004 opgevolg met 'n soortgelyke huldiging: So onthou ons Koos du Plessis 20 jaar later. Die sangers is Dozi, Karla du Plessis, Jannie du Toit, Theuns Jordaan, Johannes Kerkorrel, Lucas Maree, Laurika Rauch, Mathys Roets en Amanda Strydom, wat almal Koos se werk sing, terwyl Steve Hofmeyr sy eie "Koos Doep" byvoeg.

In 1995 het Nick Taylor, wat so baie gedoen het om Du Plessis se werk bekend te stel, agtergekom dat hy klankopnames met lirieke en sang deur Du Plessis het wat genoeg vir nog 'n album is: Die vierde horison. Twee verhoogproduksies, waarin Jannie du Toit en Christa Steyn leidende rolle gespeel het, is ook as albums bemark: Skadu's (teen die muur, 1992) en Nagkantoor (2004). 

Daar is deesdae vertolkings van Du Plessis se werk deur baie kunstenaars beskikbaar. Die volgende sangers het elkeen 'n volle album met sy liedjies gepubliseer: Theuns Jordaan, Johannes Kerkorrel, Mathys Roets, Piet Smit en Nick Taylor. 

Du Plessis se werk is ook in gedrukte vorm in drie bundels gepubliseer: Kinders van die wind en ander lirieke (ingelei deur Hennie Aucamp; Kaapstad: Tafelberg, 1981), Om jou verlaas te groet; nagelate verse (met 'n nawoord deur Fanie Olivier; Kaapstad: Human & Rousseau, 1985) en Skink nog 'n uur in my glas; nagelate verse (Kaapstad: Queillerie, 1995). 'n Poging is deur Irma du Plessis aangewend om van hierdie gedrukte werk saam te vat en verdere inligting te verskaf in 'n versamelboek: Erfdeel - Koos du Plessis (Stellenbosch: African Sun Media, 2004).

Hennie Aucamp noem in sy bogenoemde inleiding dat dit vir Du Plessis gegaan het om nostalgie, ontnugtering, afskeid, droom, verganklikheid, broosheid en herinnering. Hy het 'n eksistensiële nood oorgedra, naamlik die gekweldheid van menswees. Du Plessis was diep betrokke by sy temas, maar slaag terselfdertyd daarin om 'n afstand te bewaar. Hy "skep 'n eie stilte selfs binne 'n storm. Koos du Plessis verower sonder geweld". 

Teen die einde van haar lewe het ek en my ma soms 'n hele aand lank na die musiek van Koos du Plessis geluister.

                                       "Tog snaaks hoe vreemd die wêreld word

                                        as daar iets aan die tafel skort

                                        soos 'n leë koppie, blink en bleek -

                                        vir iemand wat ontbreek." 

Met woorde, sang en musiek spreek hy steeds tot diegene wat waardering vir sy diepte as denker en vir sy opregtheid as mens het. Koos du Plessis is al meer as 'n kwart eeu weg, maar ons is bevoorreg om steeds na sy stem en kitaar te kan luister.

Johannes Comestor