![]() |
Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012) This is the LitNet archive (2006–2012) |
||||
|
Deon Meyer - 2010-04-21
Dit is ’n vraag wat ek versigtig wil beantwoord, juis omdat ek soveel waardering het vir die media se rol in die bemarking van boeke, skrywers en literêre geleenthede, en die skep en uitbou van ’n leeskultuur. My eie skryfloopbaan het groot baat gevind by die professionaliteit, welwillendheid, goedhartigheid en geesdrif van mense in elke denkbare vorm van die media, hier en oorsee – ek sal nooit genoeg dankie kan sê daarvoor nie. Maar met dit alles gesê: skrywersonderhoude is vir my uitmergelende ervarings. As ek dit kan vermy, sal ek. En dit is feitlik sonder uitsondering mý skuld, en boonop moeilik om te verduidelik, want dit is weens ’n kombinasie van faktore. Daar is, ten eerste, my ongemak om oor myself te praat (en hier doen ek dit al weer). My ma se invloed ("’n mens praat nie oor jouself nie, wees tog maar die minste, jy is nie belangriker as ander mense nie") het sekerlik ’n invloed gehad. Daar is ook die kennis van my eie en groot tekortkominge, die vrees dat hoogmoed tot ’n val kan kom – en dat dit dus beter is om hoogmoed ten alle koste te vermy – en die risiko dat ’n mens jou eie publisiteit kan begin glo (hoe onwaarskynlik ook al, danksy my broers en my kinders). Daar is die skeut introversie, al het ek die tegniek van die ekstrovert by my pa geleer. Ten tweede, my absolute en volkome onvermoë om my stories in ’n neutedop op te dis vir die vraag "Waaroor gaan die boek?" en om dit op enige manier oortuigend te bemark. Want ek weet regtig nie of dit ’n goeie boek is nie. Teen die tyd dat dit op die rakke verskyn, is ek reeds met ’n nuwe een besig, en onthou ek net al die leemtes en gesukkel van die vorige een. Ten laaste, my vaste geloof dat die boek sy eie praatwerk moet doen. Dit is immers propvol woorde. Daarom: baie dankie vir dié vraag en die geleentheid om eindelik daarop te kan reageer. Vergewe my die antwoord. En gaan lees asseblief die boek. • In die aanloop tot die Franschhoek Boekefees 2010 publiseer LitNet ’n reeks selfonderhoude deur skrywers wat aan dié fees gaan deelneem. Klik hier vir die volledige feesprogram. Foto: Christine Fourie, Franschhoek Boekefees 2008
|