![]() |
Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012) This is the LitNet archive (2006–2012) |
||||
|
Kerneels Breytenbach - 2010-02-10 Dié seminaar word moontlik gemaak met behulp van die volgende borge:
Die speurverhaal as genre het sedert die sogenaamde Goue Era van Speurverhale – die jare twintig en dertig van die vorige eeu – een van die mees mededingende genres in die publikasiespektrum geword. As ’n skrywer vandag hierdie terrein wil betree, moet hy/sy nie alleen bedag wees op al die konvensies van die genre nie, maar ook in staat wees om die een ding te doen wat hom/haar in hierdie genre laat oorleef, naamlik om iets nuuts tot dié skryfterrein te bring. As jy dan nog boonop in Afrikaans skryf, sit jy eintlik met ’n groter probleem: voor die koms van Deon Meyer was daar nie werklik ’n groot stroom eietydse topgehalte-speurskryfwerk waarop jy kon reageer en voortbou nie.
Mens kan drie fases onderskei, verteenwoordig deur ’n spesifieke groep skrywers:
Hoewel dit steeds ’n groot plesier is om enige van die werke deur skrywers van die Goue Era te lees, val dit altyd op hoe sterk hulle afgestem is op die oplossing van die raaisel (moord opsioneel) – en hoe naïef hulle in wese is. Geen wonder ook nie. Slaan gerus die Tien Gebooie vir Speurverhale na – dit is in 1929 deur Ronald Knox saamgevat in sy sogenaamde Decalogue:
Teen die aanbreek van die tweede fase (net voor die Tweede Wêreldoorlog) het die speurverhaal sy onskuld begin verloor. Knox se gebooie het een na die ander begin kantel. Die aaklige werklikhede van die moderne era het openlik deel van die problematiek geword. Ook het dit duidelik begin word dat daar eintlik geen beperkinge is waaroor die skrywer mag skryf nie. Soos Raymond Chandler dit beskryf in sy voorwoord tot Pearls are a nuisance: “Tussen die eensillabige grappe van die strokiesverhaal en die bleek subtiliteite van die literatore is daar ’n groot braak gebied waarin die speurverhaal miskien, of miskien nie, ’n landmerk is … Die speurverhaal is ’n soort skryfwerk wat nie in die skadu van die verlede hoef te dwaal nie, en min skatpligtigheid het teenoor die kultus van die klassieke … ’n Klassieke verhaal is een wat die moontlikhede van die verhaalsoort uitput en wat nooit oortref kan word nie. Geen speurverhaal het dit nog reggekry nie. Sommiges het naby daaraan gekom. Wat waarskynlik verklaar hoekom daar steeds mense is wat aanhou om speurverhale te skryf.” As mens dan enigiets met stelligheid kan aantoon in ’n beskouing van die boeke wat sedert Edgar Allen Poe se The Murders in the Rue Morgue (1841) in hierdie genre verskyn het, is dit dat enige skrywer wat sy/haar sout as speurverhaalskrywer werd wil wees, ’n baie groot poging sal aanwend om iets nuuts te bring, iets waaraan niemand nog ooit gedink het nie. Dit gaan nie meer om die blote skryf van ’n speurverhaal nie. Jy gaan iets doen wat niemand anders nog vantevore gedoen het nie. Die probleem is net, soos James Lee Burke se speurder, Dave Robicheaux, op ’n plek sê: daar is net twee soorte moorde. By die eerste moet jy net die spoor van die geld volg. By die ander het jy te doen met mal mense wat dit geniet om mense dood te maak. Hier moet jy die spoor van bloed volg. Moet net nie afdraande van die lyke staan nie. Dan verg dit ook geweldig baie navorsing om iets ordentliks te doen as jy byvoorbeeld met Patricia Cornwell of Jeffrey Deaver wil meeding ten opsigte van die “procedural”. Of as jy die sosiaal-psigologiese koers van Dorothy L Sayers na Ross MacDonald wil volg om uit te kom by Thomas Harris of Reginald Hill. Jy moet weet hoeveel ontgogeling met moderniteit daar tussen die vroeë Elmore Leonard en die hedendaagse Colin Bateman lê, of kan snap dat Lawrence Block die sewende gebod van Ronald Knox met swier oortree het, omdat hy weet moraliteit het meer as een aangesig en is uiters, uiters relatief.
Voor Deon Meyer was daar baie Afrikaanse speurverhaalskrywers. Die jare vyftig en sestig het gestaan in die teken van ’n groot toename in die publikasie van ontspanningslektuur. Etienne Leroux het selfs die konvensies van die speurverhaal benut in Een vir Azazel. Maar dit is eers met Deon Meyer se koms in die jare negentig dat dit begin duidelik word het hoe ’n armoede Afrikaans het aan speurverhale wat op internasionale vlak kan meeding. Meyer het nie alleen iets geskep wat uniek is aan Suid-Afrika nie, hy het boonop in ’n Afrikaanse idioom begin skryf wat eietyds en gemaklik is om te lees, en in die proses oneindig baie gedoen om nuwe lesers vir die taal te wen. Uiteraard sou daar outeurs wees wat in sy vaarwater ook hierdie genre begin bemeester. Onder hulle is dit Piet Steyn (Snoeiskêr) en Chris Karsten (Seisoen van sonde) wat die grootste indruk gemaak het. En toe kom Karin Brynard se Plaasmoord, ’n boek van 510 bladsye, oortuigende karakteruitbeelding, treffende sfeerskepping en met soveel insig geskryf dat mens soms voel dit sal ’n streng literêre beoordeling ook kan oorleef. Die eerste ding wat mens van hierdie speurverhaal opval, is sy generiese titel. En so, met geen ophef of dramatisering nie, hou Brynard haar grootste leidraad reg voor jou onsiende oë op. Op verhaalvlak ontwikkel ’n eg Suid-Afrikaanse toneel. Twee skaapwagters word tydens ’n veediefstal vermoor. Daarna volg die moord op ’n jong kunstenares en haar aangenome dogter op ’n plaas. ’n Speurder (Albertus Beeslaar) en twee kornuite (Pyl en Ghaap) stel ondersoek in. Dam de Kok, die voorman op die plaas, is die natuurlike verdagte. Maar Beeslaar en sy twee (dommer) voetsoldate is goeie speurders … Ook op die toneel is Saar, die aantreklike suster van die vermoorde vrou, ’n veediefstal-groep wat ’n sangoma naderroep om hul vuil werk te finesse, ’n aanvallige vrou wat die omgewing se sakereus is, en die boere van die omgewing. Nou, Brynard voldoen aan nege van die tien reëls wat Knox in die Goue Era van speurverhale geformuleer het. Haar speurder staan egter viervoetig in die eietydse sfeer van speurverhale. Nes Michael Dibdin se Aurelio Zen het Beeslaar ’n vrou van wie hy vervreem is en bevind hy hom in ’n omgewing wat aan hom onbekend is. Hy is so sterk soos Lucas Davenport (van John Sanford) of Jack Reacher (van Lee Child). Hy het ’n manier om uiteindelik amper ongesiens by die punt uit te kom wat mens laat dink aan Jon A Jackson se Fang Mulheisen. Hy kan kortaf met almal wees, nes Michael Connelly se Hieronymus Bosch of James Ellroy se Lloyd Hopkins. Beeslaar is dus ’n herkenbare speurder in die moderne idioom – maar hy is Suid-Afrikaans, hy is Afrikaans en hy is ’n man van sy tyd: hy probeer konflik vermy met mense wat van hom verwag om soos ’n stereotiepe wit Afrikaanse speurder op te tree, en hy verlang hom dood na iemand wat hom nie wil hê nie. Sy werkswyse is egter uniek, gesmee deur sy geskiedenis, die eise van die tyd, en sy eie verstand. Beeslaar kan in die wêreld van speurfiksie skouers skuur met Aurelio Zen en die ander manne, maar binne die raamwerk van Afrikaanse speurverhale is hy die werktuig waarmee Karin Brynard iets nuuts, iets unieks vestig wat wyer strek as Dave Robichaux se “follow the money”. Op verhaalvlak bring Brynard sake tot ’n ontknoping. Al die stukkies begin mooi pas. Tog open sy, deur Beeslaar se insig, ’n ander deur waardeur die leser moet beweeg. Teen die einde verduidelik Beeslaar aan Ghaap: “Geld, en mag. Die klinkende metaal en die luidende simbaal. Maar die grootste hiervan is die begeerte. Die begeerte vir méér.” Wat mens dan sien, is die geheelbeeld, die beeld van ons samelewing waaraan Brynard rustig geskilder het terwyl ons vas onder die indruk was dis net nog ’n speurverhaal. Sy bied ’n verhaal met ’n generiese titel aan. Dan vertel sy ’n verhaal sodat ons die groter konteks kan sien. Die generiese titel is die leser se grootste leidraad in dié ondersoek na die gemoed van die moderne Suid-Afrikaner. Waar Chris Karsten met sy Seisoen van sonde vra wat geword het van al apartheid se belhamels (tans so pertinent: Wat het geword van die generaals en politici wat aan Eugène de Kock sy opdragte gegee het?), help Brynard die leser om weg te beweeg van voorspelbare reaksies. Waaraan dink ons as ons die woord plaasmoord hoor? Vrees kleur meestal jou eerste reaksie. Vir die ongerepte siel is hoop, geloof en liefde die ideaal; in die deur apartheid besmette Suid-Afrika bly geld, mag en hebsug die dryfkrag wat alle politieke en sosiale konstrukte in reliëf plaas, of jy nog steeds in die sleutel van apartheid dink of nie. Dit is, hoe jy ook al oor die verhaal self voel, ’n unieke blik op ons land wat Brynard hier aanbied. Daarin lê Plaasmoord se nuutheid. Die beeld van ’n plattelandse samelewing in die greep van verandering, en verteenwoordigend van soveel meer: die hebsug waarmee alles, letterlik alles, deurdrenk is. Tussen CJ Langenhoven se Donker spore (1926) en Karin Brynard se Plaasroman lê ons geskiedenis. Wie verras is oor die diepte van Brynard se insig, het net sigself te blameer. Dit sal jou leer om nie verby ’n titel te kyk nie.
Please feel free to comment on LitNet ’s letter page, SêNet, by sending a letter to [email protected]. << Terug na die invalsblad | Back to the seminar page << << Terug na miniseminare | Back to mini-seminars <<
|