Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Briewe | Letters > SêNet > Chris Louw

Chris Louw


Charles Malan - 2009-12-04
Ons wat met Chris Louw in debatte betrokke was, sal weet hoe hy hom tans verlustig in die ongekende reaksie op sy selfdood. Dit is 'n gepaste uiteinde van die vuur wat hy as Boetman aangesteek het.

Ons wat by die skrywersverklaring betrokke was, kan bloot in persoonlike hoedanigheid op die tientalle menings op die internet reageer. Die regse bitterbekke kan mens gerus ignoreer, maar ook mense met groot begrip vir Chris se bydraes vra of die verklaring nie 'n "politiekery" en oorvereenvoudiging is nie.

Ons het ook uit geledere van die ondertekenaars vrae gehad. Chris Barnard het gemaan teen 'n maklike verbandlegging tussen die selfdood, soos Breyten Breytenbach dit noem, en die landsomstandighede. In die verklaring word dit dus eksplisiet gestel: "Ons respekteer die privaatheid van sy handeling, dus sy eie redes vir die verskriklike daad," en dan word daar vervolg: "maar dit moet ons almal tot besinning ruk wanneer 'n intelligente en skeppende persoon knak voor die wanhoop."

Die wanhoop het nie 'n eenvoudige naam nie. Laat dit 'n kombinasie van depressie, magteloosheid, frustrasie en persoonlike faktore soos geldelike en gesinsfaktore wees. Wie sal werklik weet?

Nog 'n ondertekenaar, die sielkundige en digter Wilhelm Jordaan, het ook teen maklike verbandlegging gewaarsku. Hy het reeds vroeër in Beeld na 'n bespreking van selfmoordbriewe geskryf: "Sulke briewe 'korrigeer' gangbare opvattings oor selfmoord. Dit wys hoe foutief, arrogant en mensonterend dit is om selfmoord simplisties te verklaar aan die hand van enkele stresvolle lewensinsidente en verduidelikings oor die ‘laaste strooitjie.'"

Weer is respek vir Chris se eie worsteling in die verklaring betuig: "Ongeag sy persoonlike redes vir die daad werp sy dood 'n ongenadige lig op hoe verslegtende toestande in die land selfs ervare joernaliste tot desperaatheid dryf."

Oor Chris se toewyding om verslegtende omstandighede aan die kaak te stel kan daar geen twyfel wees nie. Was dit "politiekery" wanneer hy verbete teen misdaad landwyd en in die De Wildt-omgewing geveg het, of polisie-onbekwaamheid, owerheidversversuim en huigelary sonder genade aan die kaak gestel het?

Indien wel, was Chris nie slegs een van ons beste joernaliste nie, maar ook 'n voortreflike politikus. Laat dit egter baie duidelik gestel word dat die ondertekenaars geen politieke munt uit die verklaring kon of wou kry nie. Die uiteenlopende groep behoort aan geen enkele party, ideologie of denkstroom nie.

Chris se voortydige dood maak ons siek. Die omstandighede waarteen hy in opstand gekom het, maak ons siek. Siek mense het nie die luukse van politiekery nie.

Wat tel, is Breyten se woorde: "Kom ons onthou die brawe en dwarse Boetman, die 'natgereënde lyk in 'n ou voëlhok'".

Charles Malan