Yuri - 2009-12-02
Ek skat dat sou God mense in kategorieë ingedeel het, Chris Louw maklik by een van Langenhoven se kostelike karakters sou kon in pas. Dalk by Herrie op die Tremspoor?
Net soos die menigte ander, was ek geskok toe ek van sy dood hoor. Chris was 'n spesiale mens ... lief vir debat, om sake kaalvuis aan te durf en standpunt stel. Sommige mense het dit as skoorsoek gesien. Tone trap? Ek skat nie, liefs om onderwerpe in 'n fynere konteks te ontleed.
Tog, wanneer ek oor hom dink, kan ek glimlag. Ons het wonderlike oomblikke saam gehad. Byvoorbeeld, ek was omgekrap oor die volgehoue Engels wat Afrikaans-sprekende sekretaresses, winkel-assistente, bank-tellers en so voorts met 'n mens sou praat. Hy het my aangeraai om LitNet toe te skryf hieroor.
Hy het 'n goeie oor gehad. In teenstelling met die bohaai oor die Boetman-debat, was hy nie self-sentries nie. Hy kon tyd maak vir mense. Niemand was te onbelangrik vir hom nie.
Vanoggend dink ek aan sy kantoor op K2 by die SAUK waar 'n mens hom kon gaan kuier het. Chris, soos die gesegde in Engels lui - He was a child of the soil. Hy was skerp en sou altyd jou standpunt/mening oor 'n onderwerp kry.
Wat Chris laat uitstaan het, was dat hy nie sy wortels vergeet het nie. Hy was 'n Afrikaner, maar hy het ook besef dat hy deel van Suid-Afrika is. Ons kan aanvaar dat hy in joernalistiek onder die grotes kan tel, juis omdat hy 'n briljante nuusbrein gehad het en nie aan die status quo steur het nie. Dit is juis wat sy Boetman-brief bewys het.
In 1999 het hy my 'n boom gegee. Dit is by 'n huis in Eersterust geplant waar dit na 'n gesukkel mooi gegroei het.
Die boom vertel 'n storie. Dat hy mededeelsaam was.
Chris, ek sal jou onthou.
Yuri