Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Onderhoude | Interviews > Afrikaans > Heupvuurvrae aan Louis Esterhuizen oor Versindaba 2009

Heupvuurvrae aan Louis Esterhuizen oor Versindaba 2009


Melt Myburgh - 2009-11-04

Die vyfde Versindaba vind vanjaar op 27 en 28 November by die Oude Libertas Amfiteater op Stellenbosch plaas. Melt Myburgh het met een van die “aanhitsers” van hierdie geleentheid gesels.

Louis, hoekom die skuif van die HB Thom na die Oude Libertas? En hoekom later in die jaar in vergelyking met die vorige vier jaar?

Verlede jaar toe ons met die reëlings moes begin, is daar aan ons gesê dat die HB Thom-teater vanjaar vir restourasiewerk geoormerk is en derhalwe nie beskikbaar sal wees nie. Ons het toe met Oude Libertas onderhandel om die Versindaba deel van hul Somerfees te maak. Aangesien die Amfiteater in die ope lug is, is dit natuurlik ook meer raadsaam om dit eerder in November te hou as I September ... Maar, nouja. Miskien verskuif ons dit volgende jaar na die Danie Craven-stadion? Dit was immers nog altyd ons droom ...

Hoe voel jy en Marlise Joubert, mede-aanhitser van die Versindaba, oor dié projek in sy vyfde jaar?

Ons jubel, Melt! Ek moet erken dat ons nie anders kan as om elke jaar stom te staan voor die ryke verskeidenheid van die Afrikaanse digkuns nie; ons beskik darem waaragtig oor ’n klein, dog dinamiese digkuns, is dit nie? Ek bedoel, om vir vyf jaar elke jaar ’n fees van hierdie omvang en met die spesifieke fokus wat dit het – sonder duplisering of verveling – te regverdig, is sekerlik een van ons digkuns se vernaamste prestasies. Iets wat my en Marlise egter elke jaar oorweldig, is die welwillendheid jeens dié fees wat ons op soveel maniere beleef. Enersyds stem dit ’n mens dankbaar, maar andersyds maak dit jou ook uitermatig opgewonde omrede jy besef dat sóveel mense baat vind by ’n fees van hierdie aard. En hiermee bedoel ek nie net die digters nie, maar veral ook die talle poësieliefhebbers wat vir twaalf ure lank alles wat die digkuns te bied het, met entoesiasme en waardering indrink.

Vanjaar val die fokus op die poësie en die visuele kunste. Hoe bring julle dié twee genres bymekaar op die program?

Inderdaad probeer ons om deur middel van die Versindaba die totale reikwydte van die digkuns te demonstreer. Tussen die visuele kunste en die digkuns was daar nog altyd ’n noue band; kyk maar net na die groot aantal digters wat met die kwas bedrewe is. Daarom, en natuurlik ook as kopknik na Breyten Breytenbach, vir wie 2009 ’n besonderse jaar is, het Marlise voorgestel dat ons vanjaar ’n parallellopende kunsuitstalling reël met skilderye deur digters wat skilder. Ons kon daarom ook ’n hele aantal items op die program voeg wat hierby aansluit, soos die voordragprogram Geskilderde woorde deur Nic de Jager en Antoinette Kellerman, wat gedigte oor skilderye en kunstenaars gaan voorlees. Ook die paneelbespreking, “Met woorde & kwas”, is belangrik in dié opsig en so ook Philip de Vos en Tertia Visser-Downie se uitvoering van Moessorgsky se bekende Prente by ’n uitstalling. Terloops, die opening van die uitstalling is om 17:00 op Vrydag, 27 November, en toegang is gratis. Dit sal uiteraard ook vir die duur van die fees besigtig kan word.

Julle het ’n indrukwekkende lys digters wat vanjaar deelneem – gevestigde name en jong, nuwe stemme. Watter oorwegings hou julle in gedagte wanneer julle die program saamstel?

Aangesien slegs digters van wie daar onlangs bundels verskyn het – of binnekort gaan verskyn – by die program betrek word, is dit eintlik maklik, Melt. Die digters kwalifiseer dus hulself. Wanneer ons egter wel ’n tydgleuf op die program beskikbaar het, hou ons daarvan om “ontluikende digters” wat nog nie gedebuteer het nie, te identifiseer en tydens die fees aan ’n groter gehoor blootstelling te gee. Ongelukkig het dit ons nie vanjaar geluk soos dit byvoorbeeld verlede jaar die geval was nie. Sewentien gepubliseerde digters met aanvullende items is reeds ’n vol program. Dit troos darem dat daar vier debutante onder dié sewentien is.

Antjie Krog se Die Lady Anne Liedboek gaan, lyk my, ’n baie gewilde item op die program wees. Wat behels dié aanbieding alles?

Ons wou besonder graag ’n spesifieke fokus aan Antjie Krog se optrede verleen vanweë die keur uit haar poësie wat vroeër vanjaar verskyn het. Aangesien daar minder klassiekemusiek-items op die program is as in die verlede, het ons besluit om Niel van der Watt se toonsettings van Antjie Krog-gedigte te betrek. Die “Liedboek” waarna jy verwys, is toonsettings uit Lady Anne vir stem en klavier, terwyl die Universiteit van Stellenbosch se pasgestigte Schola Cantorum Kamerkoor weer ses toonsettings vir koorsang gaan sing. En glo my, albei dié items gaan baie spesiaal wees.

Ek sien David Kramer is ook op die musiekprogram. Dit gaan omtrent ’n affêre wees, nie waar nie?

Inderdaad, Melt. Ons was sommer baie opgewonde toe David Kramer summier ingestem het om die fees vir ons “in te skop”, want wie sal dit beter kan doen as juis hý?! Terloops, sy optrede is hoeka nóg ’n voorbeeld van die welwillendheid waarna ek vroeër verwys het ... So ook dié van Laurinda Hofmeyr met haar besonderse toonsettings van gedigte deur Breyten Breytenbach en Luna Paige met haar Sappho-gedigte.

Daar is heelwat interessante paneelbesprekings by vanjaar se Versindaba, onder andere die een onder leiding van Steward van Wyk oor die bruin stem in die Afrikaanse digkuns. Na watter ander besprekings kan ons uitsien?

Na almal, sou ek graag wou dink. Met paneelbesprekings poog ons om op bepaalde aspekte binne die digkuns te fokus en vanjaar is daar drie waarna die publiek kan uitsien: die bespreking oor kinderverse (na aanleiding van Die Groot Kinderverseboek wat vroeër vanjaar verskyn het en deur Riana Scheepers saamgestel is, asook die bespreking oor digters wat skilder, waarna ek reeds verwys het, en natuurlik die een oor die posisie van die bruin digter in ons digkuns. Laasgenoemde is natuurlik een van die mees dwingende kwessies in ons digkuns, aangesien daar – met die uitsondering van Ronelda Kamfer – baie lanklaas ’n bundel deur ’n bruin digter by ons hoofuitgewerye verskyn het. Daar moet tog ’n rede vir dié stilswye wees, vermoed ’n mens. Waarom die voorkeur aan selfpublikasie terwyl die hoofuitgewerye omtrent bollemakiesie sou slaan om bruin digters op hul publikasielyste te verwelkom?

Lesings wat die belangstelling behoort te prikkel is Antjie Krog se praatjie oor hoe sy haar tot die digkuns “ontnugter” het, Joan Hambidge se bestekopname van die Tagtigers en hul bydrae tot ons digkuns, en natuurlik Willem Fransman se oorskouende lesing oor Peter Snyders se digkuns. Terloops, vanjaar se Dana Mouton-gedenklesing word deur Diana Ferrus gelewer en behoort eweneens ’n hoogtepunt te wees.

Ek verneem Suzanne Beyers en Margot Luyt is (saam met jou) seremoniemeesters by vanjaar se Versindaba. Wat sou die poësie gedoen het sonder die bydraes van hierdie stemkunstenaars?

Sjoe, wat praat jy nou! Ons taal is omtrént geseënd met ’n hele aantal wonderlike stemkunstenaars en hulle lewer op soveel uiteenlopende maniere ’n skitterende bydrae tot ons digkuns in die besonder. Albei die seremoniemeesters na wie jy verwys, is natuurlik al ervare in hierdie hoedanigheid en ken die kuns om die program vlot te laat verloop, baie goed. Ek moet erken dat ek nie aanvanklik geoormerk was vir dié patat nie, maar toe die program al by die drukker en verby die finale proewe was, het die persoon wat Sessie 4 sou seremonieer, laat weet dat sy ongelukkig weens onvoorsiene omstandighede nie meer kon nie. Ek moes dus maar die patat gryp en blaas-blaas hardloop, want tyd om binne enkele ure iemand te reël was daar gewoon nie.

Wel, ek is seker jy sal die rol van die ou doring tussen die twee pragtige rose jou eie maak. Hoe gemaak as belangstellendes die program onder oë wil kry en besprekings wil doen?

Die maklikste sal wees om gewoon die Versindaba-webblad te besoek. Daar is ook ander toepaslike inligting op die webblad geplaas. Alternatiewelik kan belangstellendes Protea Boekwinkel op Stellenbosch kontak, hetsy telefonies by (021) 882 9100, of per e-pos. Ons sal dan graag ’n program na hulle toe pos of via e-pos stuur. Solank hulle net hul belangstelling as belangstellende ten volle uitleef en tot die hef toe betrokke raak ...

Kaartjies is verkrygbaar by enige van die volgende drie plekke: Computicket, Oude Libertas (021) 809 7473, of Protea Boekwinkel op Stellenbosch (021) 882 9100.


Klik hier vir meer inligting.