Daan Desimaal - 2006-12-15
Dit is net ná middernag op Kersdag 25 Desember 1901 op die plaas Tweefontein in die distrik Bethlehem. In stilte kruip 'n Boerekommando van 600 man onder leiding van genl Christiaan de Wet teen die steil helling van Groenkop uit. Op die koppie lê 'n Britse mag van 450 man heerlik en slaap. Sommige het waarskynlik Oukersaand 'n knertsie te veel gehad. Danksy De Wet se briljante taktiese vermoëns was hulle egter totaal en al onbewus van die Boere se teenwoordigheid in die omgewing.
Ongemerk bereik die Boerelinie die kruin. Hulle storm op die Britse kamp af waar die soldate verbouereerd en dronk van die slaap uit die tente borrel. Hulle word begroet met "Merry Krismis! Merry Krismis!" en kry Boerekoeëls as ietwat onaangename Kersgeskenke. Die aanval was so onverwags dat die artilleriste nie eers by hul kanonne kon kom nie. Die Britte het uit die aard van die saak swaar verliese gelei terwyl die Boere verliese betreklik lig was.
Ek het nog altyd gewonder waarom die Slag van Groenkop so onbekend is. Was dit omdat dit aan die einde van die oorlog was en eintlik irrelevant in die finale uitslag was? Ek egter 'n idee dat hierdie "Kersdag verrassing" by baie van die oorwegend Christelike Boere gemengde gevoelens ontlok het.
Daan Desimaal