Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Deborah Steinmair: Fratsgolf > JC Steyn, stain remover

JC Steyn, stain remover


Deborah Steinmair - 2009-07-22

Hoe vat ’n mens jou gemoed droogskoonmakers toe? Soms voel dit my die filter in my kop moet skoongemaak word. Ek sien dit soos ’n outydse lapkoffiesak, safgewas, lankal so bruin dat emmers vol Jik dit nimmer weer sal wit kry, vol modderige moerafsaksel. Dis nie dat ek uithang op pornowebwerwe of in die drein rondkuier nie. Dis net dat die daaglikse heug en meug, en veral kuns, my sinne verrinneweer. My pyndrempel is hoog, maar soms word dit deurgetrap. Ek is ’n sensitiewe kyker met hare op my tande. In een naweek moes ek, ter wille van werk, Annelie Botes se Thula Thula lees en na Sarah Kane se drama Blasted gaan kyk.

Botes se boek dra ’n ouderdomsperk van 18 jaar. Die tema is kindermolestering. Die skerp rooi vetkryt op die voorblad is onheilspellend fallies soos ’n reunhond se lipstiffie. Die kind in die boek, wat vanaf die ouderdom van vier deur haar pa gemolesteer, verkrag en gesodomiseer word, is ’n taalgenie. Sy slaag telkens daarin om die nagmerrie te verwoord, maar niemand luister nie (thula beteken immers "sjuut"). Bloedskandelike lakensake in ’n kinderwoordeskat (sy slurpie eet my pietermuis) is die vesel van senu-ineenstortings.

Kane se drama dra eweneens ’n waarskuwing: “Contains explicit and graphic material, not suitable for sensitive viewers”. Hierdie Britse dramaturg was ’n depressielyer wat op 28 selfmoord gepleeg het. Sy het vir ons heelparty poskaarte van die rand van die afgrond nagelaat. Haar uitkyk is gitswart – daar is geen onbesmette oomblik, geen heilige sentiment nie. ’n Karakter word op die verhoog gesodomiseer, sy oë word morsig en slurpend uit hul oogkaste gesuig; daarna dwaal hy verhongerd met leë, bebloede oogkaste deur ’n landskap wat in puin gelê is. Hy kom op ’n louwarm babalykie af en begin bolwang daaraan smul. Wanneer ’n mens na Kane se dramas kyk, voel dit asof jy per ongeluk jou vinger in die muurprop vergeet het of die elektriese klitser wou aflek terwyl dit nog aangeskakel is.

Ek gaan slaap, word wakker, kyk na myself in die spieël en skrik vir my oë. Ek borsel my tande en gaan werk toe. Ek werk weer vir ’n smerige poniekoerant – die soort publikasie wat ’n mens se vingers ná die deurblaai gitswart en gangreenagtig laat voel – om den brode. Ek vertaal ’n berig oor ’n daklose wat in kleur en geur vertel hoe hy troeteldiere eet om aan die lewe te bly. Ek gaan slaap.

Verstaan my goed: ek drink, soos Totius se tortel, graag my water troebel. Grenslose opgeruimdheid maak my mateloos depressief, soos sekere Afrikaanse songs wat in majeursleutel uitblaker dat ons almal wenners is, gemaak om te lewe en na liefde te strewe. Ek neem my lirieke swart en bitter. Leonard Cohen se ondergrondse gesteun oor kwessies soos “the homicidal bitchin’ that goes down in every kitchen to determine who will serve and who will eat” en Tom Waits se gruisklippers-lamentasies is my wiegeliedjies. Hulle laat my voel ek is nie alleen in die klam kelder nie. As ek op my tone op die wankelrige krat balanseer en deur die roeterige, gekraakte venstertjie loer, baai ’n enkele ster die landskap in ’n onaardse skoonheid.

Maar soms wasem die besoedelde ruit heeltemal toe.

Steeds vir werk slaan ek toe JC Steyn se Sonkyker oop. Dis ’n outobiografiese vertelling, chronologies, met allerlei anekdotes en lukrake feite oor sy skooldae, studentejare, werk as joernalis en dosent, sy familie en vriende. Dis ongelooflik onderhoudend. Sy taal is lieflik – op die oog af saaklik, maar met ’n terloopse skeut hunkering en sonder enige poging tot mooiskryf. Wat deurskemer, is ’n lieflike gees, ’n intelligente ordentlikheid, die soort mooi maniere wat uit ’n goeie hart voortspruit. Die teruggetrokke vrygesel Steyn se gelukkigste jare is die tyd ná sy pa se dood toe sy bejaarde ma by hom woon. Sy het ’n opgeruimde hart en selfs teen die einde, halfblind en vol pyn, verklaar sy dat sy piekfine is.

Om Sonkyker te lees ná ’n naweek soos myne is soos om in ’n bergpoel te baai. Dankie, Jaap Steyn.