Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Onderhoude | Interviews > Afrikaans > ABSA Ketting: Kleinboer gesels met Koos Kombuis

ABSA Ketting: Kleinboer gesels met Koos Kombuis


Kleinboer - 2006-12-05

1. Jou lewende musiek-optredes trek steeds groot gehore. Jy het baie fans, maar daar's ook mense wat jou fel kritiseer, wat sê jy moet jou nie met die politiek bemoei nie. Heelwat van jou songs gaan oor die liefde, maar daar's ander wat 'n politieke ondertoon het, byvoorbeeld "Swart Transvaal" en "Fokkol". In die rubriek wat jy in Rapport skryf, raak jy dikwels politieke kwessies aan, alhoewel jy jou kommentaar meestal met humor temper. Is dit onafwendbaar dat 'n kulturele guerrilla ook sy hande met die politiek sal vuilmaak? Jy't so vyftien jaar gelede 'n briefhoof gehad waarop gestaan het: "Koos Kombuis, kulturele guerrilla". Sien jy jouself steeds as 'n kulturele guerrilla?

Die meeste felle kritiek wat ek verduur is omdat ek, volgens sekere mense se standaarde, nie meer polities genoeg is nie. Dit is blykbaar polities inkorrek om in suburbia te woon, gesond te lewe, en borge te kry. Dis waar dat ek baie verander het. In die begin het ons ouens soos Bles Bridges verwerp omdat hulle openlike ondersteuners van die NP was. Toe die Struggle verby is, het ek dit goed gevind om mure te probeer afbreek en vrede te maak met musikante wat anders is as ek, soos Jurie Els. Onlangs het ek wel van hierdie vrede-maak-resep afgewyk deur ’n paar snedige aanmerkings oor Idols-wenners kwyt te raak, maar dit was blote "comic relief" in ’n rubriek wat eintlik gehandel het oor rassisme en antigay-sentimente op die platteland. Die denkers van die sogenaamde anti-establishment het Etienne van Heerden se red herring hook, line and sinker gesluk en die gevolg was 'n interessante dog totaal onnodige debat oor kommersiële versus ernstige musiek. What's new?

2. In 1988 of 1989 het jy 'n kasset gemaak wat jy Sweet Paradise genoem het. Dis meestal op 'n draagbare kassetspeler in jou blyplek in Marlene Mansions in Berea, Johannesburg, opgeneem. Dit is 120 minute lank. Op een plek het jy gesing: "Die Nagmaal op die dorp was eintlik maar net die ou Boere-blues." Ek het so van die kasset gehou dat ek 50 kopieë gemaak en dit in Vrye Weekblad geadverteer het. Almal is verkoop. Paul Riekert van Battery 9 sê dis sy gunsteling Kombuis-musiek. Dis rou, gestroop, en Valiant Swart sing ook 'n song of wat daarop. Ek het nog die master tape. Dink jy ons moet Paul vra om dit te redigeer, te verkort en as 'n CD uit te reik? Werk jy tans aan enige ander opname?  

Ek onthou daai kasset, en ek onthou ook dat jy destyds die enigste ou was wat ek geken het wat 'n vaste job gehad het, dus het ek jou aangestel om dit vir my te verkoop en te bemark. As ek reg onthou, het Theunis Engelbrecht toe 'n baie negatiewe resensie gedoen. Om eerlik te wees, ek dink Theunis was reg. Daai kasset bevat sekerlik interessante oomblikke, maar die meeste daarvan het vir ons maar net briljant geklink omdat ons so stoned was. Ek dink daar is baie beter ou tapes van my wat rondlê, veral in twee studio's in Durban ... as hulle nog bestaan. Dalk kan iemand wat energiek genoeg is, eendag my ou briewe aan jou in boekvorm uitgee saam met die heel beste tracks van al die ou demo's wat nog rondfloat. Ek belowe nie dat ek 'n eksemplaar van so 'n publikasie sal koop nie, maar dit kan dalk 'n sekere kultusmark skep.

3. Nietzsche het geskryf: "If there is to be art, if there is to be any aesthetic doing and seeing, one physiological condition is indispensable: frenzy. Frenzy must first have enhanced the excitability of the whole machine; else there is no art. All kinds of frenzy, however diversely conditioned, have the strength to accomplish this: above all, the frenzy of sexual excitement, this most ancient and original form of frenzy." Ek stem daarmee saam, maar dan sien mens tog ook 'n rustige oubaas soos Abraham H de Vries wat nogtans puik verhale skryf. Dalk is sy frenzy en excitement onder die oppervlak, weggesteek. Is daar nog genoeg frenzy in jou suburbiaanse bestaan om vernuwende boeke en musiek voort te bring? Of is die rustigheid van jou lewe daar net 'n illusie; met ander woorde raas jou kop nog soos in  die 1980's? Jy is seker die mees kreatiewe skepsel wat ek ken: jy kan skryf, musiek maak, teken. Toe jy 'n bachelor was en ek nog gereeld by jou kom kuier het, het ek my verkyk aan die chaos in jou blyplekke. Dit was asof jy die "kruin van die golf van chaos gery het", om aan te haal uit 'n gedig van iemand wat jy in een van jou little magazines geplaas het. Gebruik jy deesdae 'n ander sisteem om die chaos en jou duisende aantekeninge te tem?

Ek is bevrees die frenzy is nog daar. Die enigste verskil is dat ek deesdae 'n studeerkamer en ordentlike computer het, en dat ek minder rondtrek van een adres na die ander. Binne-in my kop en in my studeerkamer is daar steeds ononderbroke beweging. Ek hoor nog dinge gebeur. Daar is wel 'n verskil: ek sou dit nie meer altyd as "geraas" bestempel nie. Ek lag meer. My kop raas nie, my kop lag. Dis effens lekkerder. Sedert ek ouer geword het, neem ek sommige dinge minder ernstig op, en geniet ek my kreatiwiteit meer. Dit pla my ook nie as daar soms 'n windstilte kom nie; ek is dol oor writer's block, want wanneer ek writer's block het, is ek 'n helse nice ou om mee saam te leef. Maar soos ek sê, dit gebeur maar min, en die meeste van die tyd is ek in my hart nog steeds 'n doos van Bellville-Oos. 'n Effens rustiger doos, maar steeds 'n volslae doos.

4. Kom jy nog ooit in Langstraat? Gaan sit jy nog soms alleen in 'n kroeg, of laat jou lewe as gesinsman dit nie toe nie? Is daar kuierplekke of strande in en om Kaapstad waar jy nie sommer herken en lastig geval word deur fans nie? Was jy al in Bonteheuwel in die Cape Flats? (Dit klink vir my na 'n lekkerder plek om na te ontsnap as 'n hotel by die Waterfront.)  

Ons was onlangs in Langstraat en ook in Kalkbaai en 'n squatterkamp in Gordonsbaai. Langstraat het baie trendy geraak, en Kalkbaai is fassinerend: daar is skielik so baie mal winkeltjies, dis soos Yeoville in die ou tyd! In die squatterkamp is almal vreeslik arm; hulle is geneig om hul eie honde te mishandel, en die twee squatterkindjies wat ek uit die goedheid van my  hart huis toe gebring het vir 'n uur, het binne die eerste minute die helfte van my kinders se speelgoed gebreek. (Moenie dit vir Dan Roodt vertel nie; hy sal een of ander punt daardeur wil bewys.)

5. Maak jy nog soms 'n dampie, hetsy nikotien of iets sterkers?  

Nee. Wat nikotien betref, ek is nou al sodanig vry daarvan dat ek skaars agterkom as iemand voor my rook. Die reuk van dagga irriteer my nog; dis dalk een rede hoekom ek Yeoville vermy. Ek dink natuurlik nie dagga is verkeerd nie; maar dis 'n feit soos 'n koei dat ek dit nooit werklik normaal gebruik het nie – ek het dit misbruik. Daarom verkies ek nou om die ander ekstreme posisie in te neem ten opsigte van my eie lewe, en dit glad nie in te neem in enige vorm nie, nie eers in daggatee nie. Ons sal maar sien wat gebeur as ek eendag asma kry ...

6. Toe jy destyds by my in Yeoville oorgebly het, het jy soms groot potte sop gekook. Jou keuse van bestanddele was ongewoon. Jy sou stukkies beesvleis saam met heelwat groentesoorte kook, en dan ook stukke piesang en koejawel byvoeg. Die sop het goed gesmaak, en was baie heilsaam. Ek neem aan dat Kannetjie deesdae die meeste van die kookwerk in julle huis doen, maar jy skuif seker ook soms agter die stoof in? Wat dink jou kinders van jou kookvernuf? Hou hulle van jou kos?

In ons huis is die kombuis Kannetjie se domein en my studeerkamer my domein. Dit is net so streng geskei soos jou literêre lewe en Lungi se bewustheid (of onbewustheid) daarvan. Kannetjie kom glad nie in my kantoor nie. Ek kom wel in die kombuis, maar ek loer nooit in die potte nie. Wat daar aangaan, is vir my duister. Ek eet slegs die resultate. Ek het nie die vaagste benul van kook nie; al wat ek ooit maak wat my kinders geniet, is gesmeerde Woolworths-muffins, ProNutro en kaastoebroodjies. Almal is bly ek het opgehou sop maak. Ek onthou die sop wat ek daardie tyd gemaak het, was so "potent" dat toe my hond eenkeer die pot uitgelek het, hy vir 'n week lank daarna teen deurkosyne vasgeloop het.

 

<< Terug na hoofketting <<