Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > Afrikaans > Miniseminare > Die geheim lê opgesluit en die sleutel is weg

Die geheim lê opgesluit en die sleutel is weg


Toast Coetzer - 2006-11-29

Ek gee nie om in watter taal dit is nie: ek is mal oor musiek – enige musiek – maar nie alle musiek nie.

Ons almal het ingeboude sensors wat ons vertel waarvan ons hou en waarvan nie.

Ek vind "Leeuloop" heel amusant, die video's ook – dis soos Ricky Martin vir die Vrystaat. En daarin lê humor en ’n uniek Suid-Afrikaanse (en dus ook Afrikaanse) weirdgeid. Fokkit, dis op youtube, you know.

Ek gee veel meer aandag aan Suid-Afrikaanse musiek, bloot omdat dit is waar ek woon en ek in baie gevalle beter daartoe kan relate. Alhoewel M Ward uit Amerika ook tot my spreek, en Kim Doo-Soo ook uit Korea ook (selfs al verstaan ek g’n woord van wat hy sing nie), en honderde ander kunstenaars wat hul weg vind na my CD-speler, is dit vir my van veel meer waarde om Three Bored White Guys in ’n kroeg naby my te gaan sien. Ek kan met hierdie mense praat, na die tyd dalk ’n bier drink saam met hulle. In Francois van Coke se teen-die-bors-getrekte linkerhand lê iets meer as sweet. Dis ook my hand en elkeen wat daar voor hom staan en luister en dink: "Befok". Ons sweet saam.

Ek hou daarvan om selfs musiek wat vir my kil en berekend klink, soos Lark, goed na te luister, op CD en iewers in ’n klub, want hulle gesofistikeerdheid is iets wat min mense hier rond doen en daarvoor het ek waardering; en glo my, soms gaan jy ook saamdans wanneer hulle op "Spider’s Eye" sing: “wings rip wings rip”. Jy sal selfs cool voel vir 30 sekondes, selfs al het jy al bietjie van ’n boep en kyk die jong meisies nie meer vir jou nie.

Kil en koel is egter nie wat my slaafs maak nie.

Wat my slaafs maak, is musiek wat een of ander onverklaarbare melancholie in liedjievorm losmaak binne-in my. Sekere kunstenaars doen dit moeiteloos vir my: Chris Letcher en Matthew van der Want, Nibs van der Spuy, Benguela, Shiyani Ngcobo, Oliver Mtukudzi, Jim Neversink, Johan "Die Antwoord" Nel, James Phillips, Urban Creep, Sugardrive se befokte song "Road" – dis ’n lang lys. Dan hou ek ook van songs en musiek wat tong in die kies is, maar terselfdertyd ook donker en onpeilbaar: Trike, Battery 9 en – in die onpeilbare plesierafdeling – Springbok Nude Girls se song "Grr".

Ek is egter nie skaam of bang vir popmusiek nie. Ek’t net soveel respek vir Ace of Base se "The Sign" en Robbie Williams se "Angel" as wat ek het vir ’n taxi wat ’n vernuftige gaping slaan in spitsverkeer. Gee my enige tyd Britney se "Toxic" – loshande een van die befoktste pop songs van onlangse jare – eerder as Nickelback se eindelose, wanhopige geteem.

Werklik talentvolle kunstenaars soos Coldplay, en sê nou maar Outkast, het ook lankal die grense tussen wat "alternatief" behoort te wees (of plain straight weird in Outkast se geval) en die hoofstroom heeltemal uitgevee. Dit bestaan nie meer nie.

As jy ’n great rock band is en jy record ’n great song, is die kans goed dat baie mense daarvan gaan hou. Dis net nie so maklik om ryk of famous daaruit te word nie. Vra maar vir Green Day. Of vir Valiant. Of Freshlyground.

Hoekom sou 7 000 mense laas Desember op Kirstenbosch toegesak het om Freshlyground te sien? Want hulle is fantasties. Hulle het great songs, is ’n tight band en goeie performers. En bittereinders. En jy kan nie stry met ’n song soos "I’d Like" nie. Dis wat jy wil hê moet speel op die radio wanneer jy in die verkeer vassit. Dit het die mag om jou beter te laat voel; dit verplaas jou en sit jou in daardie deel waar kuns en vermaak eenvoudig ontaard in plesier: daardie girl sing die song vir jou, daar is geen twyfel dat die foon enige oomblik gaan lui en sy jou gaan uitvra vir ’n koffie nie. Ek weet dit (Kyla Rose-Smith, I’ve got a crush on you, but then so do many people).

So, in order to lubricate (the President’s XI):

  1. Hierdie miniseminaar was baie lekker om te lees. Ek dink almal het min of meer tussen die lyne gesê dat daar nie veel is om oor te stry nie, en ek stem saam. Niemand gaan my maak luister na iets waarvan ek nie hou nie en ek gaan ook nie R100 uithaal om dit te koop nie. Einde van die storie.
  1. Jy gaan sukkel om ’n Sunette Bridges-fan by ’n Trike gig te kry en andersom eweneens godsondenkbaar.
  1. Die mannetjie wat op die lyn loop is afhanklik van die hand wat die lyn teken.
  1. Radio is in die algemeen verlammend en vervelig, nes byna al ons media. Alles is geborg. Alles is seepglad. Ek’t vandag deur Pick ’n Pay gestap en dit het gevoel asof ek deur Pick ’n Pay stap en dit het gevoel asof ek deur Pick ’n Pay stap en dit het gevoel asof ek deur Pick ’n Pay stap en toe sien ek vir Anton "Joe Dog" Kannemeyer en sy vrou en hulle kind en toe wou ek ’n foto neem van hulle met my selfoon, wat ek toe besef nie ’n kamera het nie en ek wou vir hulle sê hulle’s befokte mense en ek love julle werk en I’ve got all your albums, man, en toe reik ek vir die kaviaar en stap till toe en betaal en betaal my parkering en ry uit en ry weg.
  1. “I was looking back at you to see if you were looking back at me to see me looking back at you” – Massive Attack.
  1. You should buy Chris Letcher’s new album Frieze because it will improve things for you.
  1. Fokofpolisiekar is Die Lig en Die Waarheid en as ek hulle in my lewe gehad het toe ek 12 was, sou ek nie op ’n Huisgenoot-poster van Sting gespoeg het in biblioteekperiode terwyl my vriend Jaco verbaas vra hoekom en ek vir hom sê “Popmusiek is satanisties” nie. (Ek was lank in die Voortrekkers.)
  1. Ek mis vir Gito Baloi.
  1. Wanneer Willem Botha ’n great song uit het, en dit spreek tot my, sal ek dadelik die CD gaan koop. Dit is makliker gesê as gedaan, maar soos Omar Henry het ek geloof, al slaan Phil Simmons my vir hoeveel sesse oor die dakke van Sabina Park (1/53 in 10 overs in die ongenaakbare somer van 1992).
  1. Hoe klink goeie musiek? Wanneer is dit goed? Om nou vir Merwe Wiese buite konteks te quote: “Die vermoë om ’n vierkant uit te spreek.” Daar iewers tussen die backtrack die bass drum die kick die snare die rhythm en blues die rock en rustig en jool en rasie en riel en rocco lê die alchemie, die kambro, die Floukoprivier.
  1. Elke mens mag sy eie ding doen tot duskant moord.

 

<< Terug na die miniseminaar oor Afrikaanse musiek <<