![]() |
Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012) This is the LitNet archive (2006–2012) |
||||
|
Kleinboer - 2006-11-28 Rian, ek antwoord eerste daai laaste ongenommerde vraag van jou, ná vraag 10, wat begin met “Actually, fokkit …” en so eindig “Reg? Verkeerd?” Die antwoord daarop is: Reg! 1. Op skool is ons geleer dat die Afrikaner se voorvaders vroom en kerkvas was, maar mens vermoed daar's eintlik 'n parallel en semi-secret history van drank, dobbel, leeg-lê, dagga-rook, mampoer-suip, dans en (verskoon tog) naai wat heelpad terug na Van Riebeeck strek. Beskou jy jouself as deel van so 'n verborge tradisie? Ek’s wel nie bewus van enige van my direkte voorvaders wat ook sjokolade verkies het nie, maar ja, as daar dan so ’n verborge tradisie in Afrikanerdom is, staan ek graag bekend as die arm man se Coenraad Buys. 2. Meeste mense is doodbang vir Vigs. Jy blykbaar nie. Hoekom nie? Ek speel met Vigs soos wat ’n meerkat met die keel van ’n kobra speel. Deep, deep, deep down in my is daar dalk ’n daredevil wat ’n moerse kick kry om met mortality te speel. Ek kom (excuse the pun) dalk nonchalant voor, maar ek’s tog doodbang vir Vigs – so bang as wat ’n sweefstok-arties is om hom vrek te val. Maar soms verloor die sweefstok-arties hom glo só in daardie bollemakiesie, konsentreer hy só hard om sy toertjie perfek uit te voer, dat hy sy vrees verloor. En soos wat hy ’n veiligheidsnet doer onder het, is daar darem ook ’n ekstra-sterk kondoom tussen my en die swart tonnel wat my wil insuig. Ha, daar’s wel ’n paar verskille: die sirkus se veiligheidsnet het gaatjies in, maar as my kondoom ’n gaatjie in het, is ek in my moer. En ’n sweefstok-arties kan nie gesuip wees wanneer hy sy toertjies uitvoer nie, maar mens kan darem ’n lekker pomp afstamp onder die invloed. Dis gelukkig ’n ritmiese beweging, ’n tipe bállemakiesie; jy hoef nie somme te maak terwyl jy dit doen nie. Vigs, ai, dit het ons lewens kwaai gekompliseer. I paid my dues nervously in the waiting rooms of free HIV clinics. Maar ek het nog elke keer negatief getoets. Die ou wat die kondoom uitgevind het, moet in my oë posthumorously die Nobelprys vir medisyne kry, of dalk selfs vir letterkunde. Ha, ek het eenkeer ’n kondoom met die naam Wild Banana gesien. Sal lekker wees om ’n guinea pig vir daai fuckbriek te wees. 3. In die krag van die woorde, asook die hard-core life-style wat hy beskryf, het Kontrei my herinner aan die werk van Charles Bukowski, die Amerikaanse skrywer wat 'n onderwêreld van suip, baklei en desperate flophouses blootgestel het. Is jy nie 'n fan van Bukowsi nie? Ek’s ’n moerse fan van Bukowski. Het hom onlangs eers ontdek, en nog net een roman van hom gelees: Factotum. Ek wil Women, Ham on Rye en Post Office nog lees, maar die boeke is nogal nie sommer in boekwinkels beskikbaar nie; ek sal dit deur Amazon bestel. Bukowski het benewens sy romans ook baie poetry geskryf. Jirre, sy bundels het mooi name, byvoorbeeld The days ran away like wild horses over the hills; Shakespeare never did this; Play the piano like a percussion instrument until the fingers begin to bleed a bit. In een van sy gedigte staan daar: “remember that there isn’t a piece of ass in this world worth over $50 (in 1977).” 4. Waarmee is jy nou besig? Ek’s op ’n sabbatical. Sabbatsjaar is nie ’n akkurate woord vir die toestand waarin ek verkeer nie, want dit klink asof dit presies ’n jaar lank moet wees. Professore gaan op sabbatsjare. My sabbatical duur nou al sewe maande, en hopelik gaan dit nog agtien maande of meer duur. Ek het aan die begin van die sabbatical baie op die voorstoep gesit en dagdroom en na donsies en saadjies gekyk wat in die blou lug dryf. Ek het dit verdien na ek meer as drie jaar taalversorging gedoen het by ’n tydskrif. Dis uitmergelend om ander mense se woorde te versorg; ek het reeds genoeg van my eie wat rammetjie-uitnek is. Ek kan slegs bekostig om tuis te sit omdat ek geld geërf het. Party mense sê ek’s besig om my neseier leeg te suig, maar ek’s by ’n kruispad: 50 jaar oud, met hope chaotiese notas. (Voorbeeld van so ’n nota: Gister, 26 Augustus 2006, is die Springbokke 45-26 deur die All Blacks op Loftus Versfeld geklop. My sak-en-as-klere rou saam met my lewer en my kop. “Ons is wel verwoes, maar ons sal die puinhope weer opbou,” troos Máleagi 1 vers 4.) Ek mis my ouers, maar hul sterfte het ’n weg voorsien vir my om my midlife krisis kreatief te oorkom. My vrou Lungi weet nie ek skryf boeke nie (it’s too close to the bone); ek laat haar maar dink ek doen taalversorging vir ander mense by die huis. As sy in my skryfkamer inloop, druk ek ’n knoppie en “Gebruikershandleiding vir die installasie van ’n plastiekswembad” verskyn vinnig op die PC-skerm. My ouers het ook net vaagweg geweet van my skrywery; nooit Kontrei onder oë gehad nie (sou dalk hul afsterwe verhaas het). Ek het aan die begin van my sabbatical gehelp om die Engelse vertaling van Kontrei te hersien. Dis deur Jaco Fouché vertaal, en die titel is Midnight Missionary. Dis nog maar enkele weke op die rakke; ek het nog geen reaksie daarop gesien nie. Ek het onlangs begin skryf aan my tweede Afrikaanse boek. Dit gaan minder seks bevat: in plaas van op elke tweede bladsy, dalk so op elke dertigste bladsy. Die boek gaan nog meer as ’n jaar neem om klaar te maak, en dan wil ek dit self in Engels vertaal. Daar’s reeds lekker Engelse sinne in my kop: "I’m into black women the way a garden fork is into mud." 5. Waarna luister jy nou? Terwyl ek hier sit en tik, luister ek na John Cage se Music for prepared piano, Vol 2. Ek vind dat ek met meer konsentrasie kan skryf wanneer instrumentele musiek speel; daar’s nie lirieke wat kom inmeng met die woorde in my kop nie. Die lewe is so kort; ek het te lanklaas na Beethoven se derde simfonie geluister. Toe ek en Lungi ’n sjebien in ons sitkamer gehad het, het van die bliksems wat kom drink het, van my CD’s uit die kas onder die hi-fi gesteel. Nou bêre ek al die CD’s in ’n kas in die slaapkamer, en kort-kort gaan haal ek daar iets om na te luister. Ek het meer as 200 CD’s, maar daar’s seker net 50 waarna ek nog gereeld luister. In die laaste week het ek na Brixton Moord & Roof Orkes se Terug in skubbe geluister; Bob Dylan se Time out of mind; Kabous Verwoed se Beenkamers en gange; en Tom Waits se Real gone (hy maak musiek soos wat Charles Bukowski skryf; op die song "Sins" sing hy: “I’m gonna take the sins of my father, take the sins of my mother, take the sins of my brother down to the farm … kiss my sweetheart by the chinaball tree, everything I’ve done is between God and me.”) Lungi speel ook baie musiek op die hi-fi; ek is mal oor Brenda Fassie se CD’s. 6. Buiten seks, wat is jou stokperdjies? Ek skryf, lees, kyk na rugby en krieket op kroeg-TV’s, gooi plante nat as dit nie onlangs gereën het nie, en trek soms onkruid uit. Ek’s soos ’n Romeinse keiser op my eie erf – ’n benign patriarch. Soos Nero wat besluit het watter Christen die leeu se kake gespaar sou bly, besluit ek self watter onkruid kan maar aanhou lewe. Ek trek onkruid uit terwyl Yeoville brand. Ha, dis darem net vleis op roosters wat brand, nie ons geboue nie. Laastens, ek het gehoop jy gaan my vra of ek ook gedigte skryf. Ek’s nie naastenby in die liga van ’n Breyten Breytenbach nie. Hy’t byvoorbeeld geskryf: in die pad op die kruin lê die silwervos Maar soms gooi ek tog so ’n paar reëls op ’n kwitansie van die Troyeville-hotel se kroeg, veral terwyl die Springbokke pak kry: die Here het my benagsaam hier
|