Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Onderhoude | Interviews > Afrikaans > ABSA Ketting: Harry Kalmer in gesprek met Rian Malan

ABSA Ketting: Harry Kalmer in gesprek met Rian Malan


Rian Malan - 2006-11-22

1. In die joernalistieke wêreld van Rian Malan is ’n ding of reg of verkeerd. Daar is nie veel ruimte vir die skakerings en kontradiksies wat die lewe in Suid-Afrika beide so challenging en so amusing maak nie. Dink jy dit is omdat jy so lank in Amerika gebly het, of omdat jy ’n Malan is?
 
Hm. Goeie vraag. Ek het altyd gedink joernalisme is niks werd tensy jy die high en mighty se kake probeer hap nie. Of soos vandag se cliché dit stel: “Speak truth to power.” Gewoonlik is dit linksgesindes en do-gooders wat sulke slagspreuke kwytraak. Ek het ook so begin, maar êrens langs die pad het ek ’n ander siening ontwikkel. Veral vanweë my vriendskap met David Horowitz, voormalige redakteur van die tydstrif Ramparts, stem van die sg New Left in Amerika in the sestigerjare. Hy was oorspronklik ’n lid van die Amerikaanse Kommunistiese Party en het naderhand sulke dik boeke oor "Marx and Shakespeare" en “Empire and Revolution” geskryf. Teen die tyd wat ek hom (as jong Suid-Afrikaans ballinge, betoger en sosialis) ontmoet het, was hy iets heeltemal anders – onder andere, stigter van die “Second Thoughts”-beweging, wat vergaderings van disillusioned linkses gereël het. Ek het een so ’n konferensie in ongeveer l982 bygewoon en dit was vir my skokkend. Ouens ontmoet wat saam met Fidel in die berge was, maar wat naderhand vir dekades op Isle of Pines toegesluit was omdat hulle nie sy diktatorskap aanvaar het nie. Ouens wat dekades lank teen die Amerikaners in Viëtnam geveg het, maar naderhand tronk toe gestuur is omdat hulle nie die regte lyn gevolg het nie. Russe, Pole, Tsjegge, Bulgare, Sjinese … hulle was almal daar, en al hulle stories was ontnugterend – veral dié van mede-Suid-Afrikaners wat in die ANC se strafkampe deurgeloop het omdat hulle Stalin se optrede sou bevraagteken het. Ek het eensklaps besef dat die hele linkse denkwese vrot is. Or rather: I realised that Marxism was a silly 19th-century cult, and that Communism and all it its far-flung dilutions should be countered by all true sons of liberty.

Met ander woorde, ek het die lig gesien. Amper alles wat daaruit gespruit het, was seker Calvinisties, of miskien Malanisties, as jy dit so wil uitdruk. Man sien die waarheid, skryf dit neer en slat dit met spykers vas teen die deur van die katedraal van die onheiliges. Ek wonder dikwels of die kwaal nie geneties is nie.

2. Waar was jy toe Madiba uit Pollsmoor gestap het? En hoe het jy gevoel?

Waar was ek toe Mandela uit die tronk uitstap? Ek het anderkant die wêreld op ’n rusbank gesit en TV kyk. My reaksie? Ek het my amper doodgekak van vrees. Nie vir Mandela nie. Vir die ordeal wat voorlê. Drie maande voorheen was ek net nog ’n starving bohemian wat in ’n krot gewoon het. Nou skielik was ek ’n Skrywer met ’n Groot Boek wat daardie einste week uitkom. Daardie nare bloedboek van my. Die een wat elke tweede literary hero in die Engelssprekende wêreld as ’n merkwaardige stuk werk beskryf het.

Ek het dus in ’n hotel in Washington gesit, op die drumpel van ’n national book tour. Die herrie rondom Mandela se vrystelling het Suid-Afrika op die voorblaaie gesit, so almal (CNN, Good Morning America, National Public Radio ens) het gesê, ok, doen iets oor hierdie Malan. Almal wou praat oor Saint Nelson, die Suid-Afrikaanse mirakel en die verblindende optimisme wat nou skielik uit Suider-Afrika straal, maar my boek was vol bloed en geweld en donker voorspellings. Nagmerrie! Die tydsberekening kon nie slegter gewees het nie. Dit het gevoel asof God my vir al my oortredings straf. Toe ek voor CNN se kamera gaan sit, het die sweet uit my palms gestroom en groot poele onder my hande gevorm. Maar ek het verniet geworry. Geeneen van daardie TV-mense het die boek eintlik gelees nie. Hulle onderdane het cliché-vrae gedraft, en ek het soos gewoonlik gemompel en stront gepraat en daarmee weggekom. 

3. Was jy nog altyd ’n dwarsgat en stroomop? Wie se skuld is dit? Jou Afrikaanse pa of jou Ierse ma?

My ouers was albei ordentlike en begaafde mense. Hulle het hulle doodgeskaam vir my optrede. Veral my oorlede pa, Attie. Hy was ’n vurige Nasionalis, maar hy’t die hele pad met PW en FW saamgestap, en teen die einde was hy veel meer links as ek. Eienaardig, nè? Mense wieg gewoonlik regs as hulle ouer word. Sulke skuiwe is ook dalk ’n Calvinistiese eienskap.

4. Hoe teleurgesteld is jy in postapartheid-Suid-Afrika?

Ek is nie teleurgesteld nie. Ek het altyd gedog dinge gaan erg skeefloop voordat dit eendag regkom. Disappointment is vir disillusioned linkses en liberal dwepers en huigelaars. I just ache to move beyond this time, this endless and futile discussion of who did what to whom and who deserves what in the form of compensation.

5. Jy was in 2005 by twee uiteenlopende, uiters suksesvolle Afrikaanse CD’s betrokke: die baie witty, roerende en musically tight Stoomradio van die Radio Kalahari Orkes (Phil Spector meets Herman Charles Bosman), en jou eie melancholiese Alien/Inboorling, wat losser en meer selfreflekterend is. Het hierdie CD’s jou gehelp om oor jou mid-life crisis te kom soos jy gehoop het dit sou?

Wat die musiek betref – ja, ek sal sê ek het die ding uit my stelsel gekry. Ek was in ’n ongelukkige huwelik vasgevang. Boeremusiek was a world into which my English-speaking American wife couldn’t follow, so ek het soheentoe gehol op soek na … wat? My verlore jeug. Dop. Vroumense. ’n Medium waarin ek vir ’n verandering grappe kon maak, en miskien selfs dinge kon sê wat elders verbode was. Radio Kalahari Orkes het wel aanklank by die gemeenskap gevind, maar MalJan se donker en mismoedige liedjies het almal behalwe die critics aan die slaap laat raak. En lewende optredes was ’n yslike vernedering, want ek kan nie juis sing nie.

So twee weke gelede het ek vir ’n gewilde swart reggae band geopen – die Tidal Waves. Gig was deur Levi's geborg. Goedkoop tequila het soos ’n rivier geloop. Die geraas van die gehoor was oorverdowend. Ek het die lighties uitgetjek en gesê: “It’s great to see young South Africa in all its beauty and racial variegation. I’ve been checking you out, and wondering what on earth I have in common with you. The answer is, of course, fuck all.” Niemand het gelag nie, want niemand het geluister nie, behalwe dié wat reg voor my gestaan het, en hulle het net verdwaas gelyk. Wie is dié lelike ou doos? Ek het “Locomotive Breath” gespeel en die laaste van my CD's verniet weggegee. RooiJan se loopbaan as rock star (such as it was) is dus oor.

Maar ek wil jou een ding sê: as mid-life crisis teenmiddel is rock ’n roll steeds ’n wonderlike ding. Ek het uit die suburbs ontsnap, die Karre gesien, heeltemal te veel gedrink, en Pretoria leer ken. Ek is innig dankbaar daarvoor.

 

<< Terug na die ketting | Back to main chain <<