Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
In Memoriam > Trudie Taljaard: 'n vrou wat hard en moeilik en lig en voluit geleef het

Trudie Taljaard: 'n vrou wat hard en moeilik en lig en voluit geleef het


Vicky Davis - 2009-02-10
Ek het gisteraand, nadat ek Jeanne Goosen se huldeblyk aan Trudie Taljaard in 'n Sondagkoerant gelees het, skielik besef dat my TV-loopbaan as aktrise begin het as gevolg van een hardkoppige vrou se onwrikbare geloof in reg en verkeerd.

Ek het pas my drama honneurs in Februarie 2004 klaargemaak toe my agent my uit die bloute bel en sê ek moet onmiddellik opvlieg Johannesburg toe vir 'n oudisie vir 'n rol in etv se Backstage - en sou ek die rol kry, moes ek sommer die volgende dag begin skiet.

"Maar waar gaan ek bly?" het ek bekommerd gevra.

"By tannie Trudie," het die antwoord gekom. "Sy sal na jou kyk."

Ek het toe die rol gekry en vir die eerste week by Trudie Taljaard, wat die rolverdeling vir die reeks behartig het, gewoon - my eerste bekendmaking met die groot onbekende Goudstad op die brose ouderdom van 21.

Ek onthou Trudie het my die eerste aand na die kruin van Northcliff-koppie toe geneem en my die stadsliggies gewys. Ek het nie geweet waar ek is nie, al het ek op daardie stadium gedink ek weet alles. Saans het Trudie tussendeur kosmaak, honde voer en met haar dogters stry my haar lewensverhaal vertel - onder andere hoe Eugene Terre'blanche haar eenmaal te lyf gegaan het en hoe sy 'n paar sekondes al dood was (ek was, in my onkunde, oortuig sy oordryf).

As hoof van rolverdeling was Trudie ook ons spelafrigter - ons het geluister, maar meestal geskop en geskree teen die wysheid van haar jare. Na 'n paar maande het ander werk my weer Kaap toe geneem, maar Johannesburg was geëts binne-in my soos die lyne van Trudie se gesig wanneer haar blou oë tog so sonder waarskuwing vol trane kon skiet.

Twee jaar later bevind ek my toe weer in die Goudstad, maar dié keer in 7de laan as die tragiese Tessa, huilend aan die sy van haar sterwende kêrel, Bart. Dit was 'n moeilike, uitmergelende rol, veral in 'n sepie, omdat daar nooit genoeg tyd is vir lang oorwegings of navorsing nie. En wie word aangestel as die nuwe spelafrigter? Tannie Trudie Taljaard.

Ek was skepties. Maar ek was darem ouer en bietjie wyser, en na 'n paar gedwonge sessies met Trudie het ek besef ek weet bitter min - nie net omtrent toneelspel en tegniek nie, maar ook omtrent die dood, verlies en hartstog. Voor my het 'n vrou gestaan wat hard en moeilik en lig en voluit geleef het. Sy het dinge ervaar met 'n onblusbare intensiteit, dinge gesien soos wat ek nooit sou kon nie.

In daai klein, kliniese repetisielokaal het ek meer geleer as wat dramaskool my ooit kon bied en het ek, soos vele ander studente wat paaie met Trudie gekruis het, in die woorde van Elzabe Zietsman "‘n juffrou gevind".

En snaaks genoeg kom dit mos eendag uit dat sy my destyds nie noodwendig die rol in Backstage gegee het weens my oorweldigende toneelspeeltalent nie, maar eintlik omdat een van die destydse skrywers van die reeks sy "stukkie", wat glo ‘n hopelooslike aktrise was, in die rol wou aanstel, en Trudie was nie te vinde vir sulke nepotistiese onregverdigheid nie. 'n Plan moes dringend gemaak word en ek was die oplossing.

"Maar jy doen nie sleg nie," het die Trudiïstiese kompliment gekom; "jy's soos ek, nie tipies nie - jy sal altyd vir jou plek moet veg."

Dankie Trudie. Ek waardeer dit - nóú eers.