Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Onderhoude | Interviews > Afrikaans > Die Ketting: Rachelle Greeff in gesprek met Harry Kalmer

Die Ketting: Rachelle Greeff in gesprek met Harry Kalmer


Rachelle Greeff - 2006-11-15

1. Hoekom het jy vroeër vanjaar halfpad (of nog voor dit?) uit die Gala-aand van die Woordfees in die HB Thom op Stellenbosch geloop?

Die manier waarop jy dit vra, laat dit klink of ek een of ander statement probeer maak het, maar ek was maar net verveeld. My boude was seer en dit wat ek op die verhoog gesien het, het geen belofte van verbetering getoon nie. Ek het genuine gedink dit gaan skrywers wees wat oor hulle werk praat – maar toe is dit iets heeltemal anders. Die skrywers was interessant, die res nie. In die voorportaal het ek in Hans Pienaar vasgeloop. Ons is na die langarm in die stadsaal; dit was beter, al wou Hans nie met my dans nie. Die King Steer Burger ná die langarm was ook lekker. ’n Gala-aand (waar was die rooi mat en Charlize?) met net skrywers kan baie meer sinvol wees.

2. Wat is die laaste twee, oukei, drie, Afrikaanse boeke wat hoegenaamd iets vir jou gut en/of jou verstand gedoen het?

Ek is nogal opgedruk met Marita van den Vyver se jongste boek. Die tema van die “islamis” wat ’n gewone Europese middelklasgesin se huis indring en hulle skade aandoen, is byvoorbeeld baie relevant. Ek dink nie iemand, iewers, het al uit so ’n hoek daaroor geskryf nie (dalk Pamuk se Snow?). Goed geskryf, amper Alice Munro-agtige teksture op plekke. Ek sal nie verbaas wees as dit ’n groot internasionale boek word nie.

Ek is besig met Ingrid Winterbach se jongste boek, Die boek van toeval  en toeverlaat.Dis wonderlik tot dusver. Slim, boeiend, wulps  en skreeusnaaks. Daar’s ’n medemenslikheid en ’n humor in wat ek nog nie voorheen raakgelees het in haar werk nie. Die vrou wat haar man met ’n vleismes wil doodsteek terwyl hy rugby kyk "omdat hy ’n doos is” (ek parafraseer weens ruimte), het my laat skree van die lag. Die etniese/ideologiese suiwering van ’n openbare biblioteek se Afrikaanse boeke is deadpan bloedstollend. Sy en Ivan Vladislavic het al twee hierdie jaar my Springbok-prosaskryfspan gehaal.
 
3. Hoekom dink jy wen jy as kopieskrywer ritse advertensiepryse maar dat jy nog nooit enige boekpryse gewen het nie?

Daar is baie meer advertensiepryse as boekpryse. Ek wen nie boekpryse nie, omdat ek bles is en my pa ’n Engelsman was. Ek spot maklik, want ek het nog nooit gedink dat my boeke enige Afrikaanse prys sal wen nie. Ek skryf anders as die meeste Afrikaanse skrywers. My lesers is anders as die meeste Afrikaanse lesers. Dit sal dus geen belangegroep of sakeonderneming baat om my te bekroon nie.

4. Jy sing in drie registers: vir die teater (as dramaturg), vir die boekgehoor, en om mense hulle geld te laat uithaal vir alles van die aankope van braaihoenders tot banke. Mense soos jy noem hulle multitalentvol. Sou jy sê jy’s ’n natural in een, of is almal ewe harde werk?

Advertensies is om in die kasregister te sing. Boeke boost jou ego, maak jou high, breek jou hart en maak jou bankrot. Dis seker soos om gym toe te gaan, te veel te drink of ’n affair te hê. Oor teater voel ek bietjie soos Maxi Jazz oor sy musiek voel: "This is my church, this is where I heal my hurt.” As Maxi kan glo dat God party aande ’n DJ is, kan ek seker maar glo dat God party aande op die verhoog is.
 
5. Jou jongste boek, Groceries, 56 Stories oor huishoudelike produkte, lyk – nes jou vorige boek, die handgemaakte Briewe aan ’n rooi dak – heeltemal vars en anders as ander Afrikaanse boeke. As jy die creative director vir ’n generiese (en natuurlik niebestaande) Afrikaanse uitgewery was, wat sou jy grafies en tipografies met boeke gedoen het?

Al twee boeke was duur om te maak en dit is juis wat hulle laat verkoop. Groceries het reeds, net soos Rooi Dak, ’n mark gevind onder mense wat nie eens Afrikaans kan lees nie, maar wat van die boek as objek hou. Hulle was slegs ekonomies vatbaar weens ’n groot oplaag (Groceries) en ’n stewige subsidie van AngloGold (Rooi Dak). Die individu wat die meeste kopieë (tien) tegelykertyd van Rooi Dak  gekoop het, woon in New York. Of dit volhoubaar is, weet ek nie. Wat ek wel weet, is dat daar Afrikaanse uitgewers, tipograwe en boekontwerpers is wat weet hoe om boeke te laat sing. Maar die rekenmeesters versmoor hulle. As ek ’n skeppende direkteur was van ’n uitgewer sou ek hierdie mense kry om vir my te werk en hulle winsdeling gee. Dit vat geld om geld te maak. En die regte mense in jou span. Ek  sou ook net boeke publiseer wat my persoonlik aanstaan en sou 30 persent tantieme betaal.

 

<< Terug na die ketting | Back to main chain <<