Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > Afrikaans > Essays > Die enigmatiese Madiba en “Die kind”: Versoening deur die bril van 'n reënboognasie

Die enigmatiese Madiba en “Die kind”: Versoening deur die bril van 'n reënboognasie


Deklerk Naudé - 2008-10-01

Opsomming

 

Ingrid Jonker se gedig “Die kind” wat deur oudpresident Nelson Mandela in die parlement voorgelees is, het plaaslike en internasionale reaksie uitgelok.  Alhoewel daar breedvoerig oor die versoeningsgebaar berig is, is geen navorsing van omvang daaroor gedoen nie en dit het tot hierdie Afrikaans-Ekspo-navorsingsprojek aanleiding gegee. ’n Vraelys is aan kundiges gestuur om hul mening oor die versoeningswaarde van die gedig en Madiba se gebaar te bepaal. Die vraelys is deur 56 kundiges, wat die intellektuele room van Afrikaans insluit, voltooi.

Die oorgrote meerderheid kundiges is van mening dat dit ’n briljante skuif was en dat Madiba se gebaar Ingrid Jonker se ikoonstatus herbevestig het. 

Met ’n 9-punt-skaal as basis is die versoeningswaarde van die gedig as bo gemiddeld beoordeel met ’n gemiddelde telling van 7,1. Sommige kundiges  het die versoeningswaarde laag beoordeel en beskou die gedig selfs as opruierig; vandaar die laer telling in vergelyking met die gedig se literêre waarde.

Die literêre waarde van die gedig is hoër, op ’n gemiddeld van 8,01, beoordeel. Interessant is dat geen deelnemer die literêre waarde van die gedig werklik in twyfel getrek het nie – “Die kind” is volgens kenners inderdaad ’n goeie en pragtige gedig.

Kundiges het ook briljante insigte oor ander versoeningsgedigte met die navorser gedeel.  Kenners se redes vir die sukses van die gedig het briljante insigte getoon wat volledig uiteengesit word.  Die volgende bydrae vat Madiba se gebaar en die kern van die gedig mooi saam:

Ingrid Jonker kyk vanuit die donkerte en pyn van die tyd na ’n nuwe era en sien toe reeds iets groots vir Suid-Afrika. Madiba, wat die regte man op die regte tyd was, kon gestalte hieraan gee deur die digteres as sowel Afrikaan as Afrikaner te sien. Daardeur verkry die gedig ’n verdere diepere interpretasie en word so die brug van versoening in beginsel geslaan in ’n tyd van skeurvalleie, maar ook van afwagting.” (Prof Alex Antonites, filosoof en akademikus, Universiteit van Pretoria)

Klik hier en laai dié Afrikaans-Ekspo-navorsingsprojek af in Word-formaat (870 kb)

Voorwoord deur die kind se pa

My seun Deklerk Naudé is as nasionale wenner in die senior navorsingskategorie van Afrikaans Ekspo aangewys met hierdie projek. Toe hy my raad vra, was ek aanvanklik uiters skepties. ’n Goeie idee is dit gewis, veral in die jaar waarin Madiba 90 jaar oud word, maar uit ervaring is response op vraelyste swak, wat nie juis bemoedigend is nie, veral in ag genome die volume werk wat voorgelê het. Toe hy by ’n vername skrywersforum om hulp aanklop en in die proses afgejak word, het pa meer skepties geraak, maar kind baie meer positief. Hy besluit toe om direk met die groot geeste kontak te maak, bestee dae, weke en maande op die internet, spreek hulle links en regs as "oom" en "tannie" aan, en die groot geeste raak meegevoer oor ’n kind se poging om “Die kind" se intrige te ontrafel.

Die ooreenkomste tussen die response oor versoening oorskadu die verskille. Madiba het inderdaad ’n nuwe paradigma in versoening daargestel met sy versoenende gebaar. Groot meesters vir wie ek oor jare respek en waardering ontwikkel het, het hard en duidelik gepraat. Die bydraes het ’n groot aantal nuwe dimensies van die gedig na vore gebring wat  ’n gemiddelde en normale poësieliefhebber nooit sou raaksien nie. Unieke waarde is tot ’n besonderse gedig en ’n besonderse gebaar toegevoeg deur werklik groot geeste. ’n Respons van meer as 80 persent op ’n vraelys deur besige mense is omtrent net so uitsonderlik in navorsing. 

Die eksaminatore se terugvoer word waardeer. Die familiêre wyse waarop die navorser met die respondente gekommunikeer het, is wel nie aanvaarbaar nie, maar het tog ’n ander dimensie van kindwees ontbloot. Het hierdie kinderlike aanspreekvorm van "oom" en "tannie" nie dalk die groot meesters sodanig meegevoer dat hulle verplig gevoel het om te reageer nie? Ewenwel, weinig ander Afrikaanse gedigte, indien enige, is al in een werkstuk deur soveel kundige mense beoordeel. 

Prof Etienne van Heerden van LitNet word in die besonder bedank vir sy uitnodiging om hierdie projekverslag op LitNet se Seminaarkamer te plaas. Wie sal ’n Hertzogpryswenner se oordeel in twyfel trek?

Dank ook aan Afrikaans-Ekspo wat  ’n uiters belangrike en sinvolle bydrae lewer om kreatiwiteit in die mooiste taal wat aan my bekend is, daadwerklik te bevorder. 

Louis Naudé
25 September 2008