![]() |
Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012) This is the LitNet archive (2006–2012) |
||||
|
Deborah Steinmair - 2008-09-16
Toe die reën vir ‘n dag of twee skietstilstand verklaar, is dit eensklaps somer in die Kaap. En skielik voel ek heel - moeg gewroeg en lig van tred. Liefde het my oorrompel en ek dwaal deur die strate met ‘n hart soos ‘n volgesuipte spons. Ek is sonder vel en gloei soos ‘n papierlantern. My hart hang soos ‘n vinknes aan ‘n verruklike wese met ‘n hart vol kamers en ‘n gesig frappant soos ‘n profiel op ‘n muntstuk. Maar hierdie gelukkige fiksasie is nie die oorsaak van my welstand nie, eerder ‘n simptoom daarvan. My dógters het my gesond gemaak. My jongste, my kommerkind, erfgenaam van haar ma se melankolie, het hip-hop ontdek en tollend uit haar kokon van woede en frustrasie ontsnap. Sy het in ses maande ‘n paar R600-hip-hop-skoene voos gedans en het al met Shine 4 die verhoog gedeel, van wie sy vir my skryf: "Ek dink nie jy ken hulle nie, dit is so 'n stupid girlband wat my maatjies mal is oor." Al wanneer sy deesdae ophou dans, is wanneer sy slaap. Skielik is sy ‘n presteerder. Sy is gefokus en vol lig. En ek dink lord Byron het oor my eerste dogter geskryf, lank voor haar geboorte:
En The Carpenters het oor haar gesing:
Sy is in die teken van die weegskaal gebore met Venus, die godin van skoonheid, as heersende planeet, en sy het nog nooit ‘n onbeeldskone oomblik beleef nie, maar dis bysaak. Haar hart is kalm soos ‘n ommuurde binneplein met blou skadu, koel klip, murmelende water, dragtige lemoenboom. Haar voorhoof is helder, haar oë wolkloos. Sy beweeg soos die Koningin van Skeba. Daardie kind het my nog nooit vyf minute se probleme besorg nie. Met haar eie kompas het sy die versukkelde, sigeuneragtige kinderjare waaraan ek haar onderwerp het, met groot waardigheid genavigeer. Ek het altyd hard probeer om nie op haar te leun nie. Sy het my romantiese katastrofes en rampspoedige loopbaanbesluite met groot en onuitgesproke geduld gadegeslaan en volgehou dat ek te goed vir hierdie wêreld is. Nou as ‘n vrou dogters het wat ons verslete planeet kus soos volmane en oral lig versprei, begin jy beter voel oor jouself. Nie omdat jy iets reggekry het nie, maar omdat jy met iets ragfyn, dromerig en heel toevertrou is. Soos wanneer ‘n vlinder vir ‘n oomblik op die rugkant van jou hand kom sit. Soos ek ouer word en my goue dogters gadeslaan, begin die Goosens in my kop se boekrak plek maak vir die Blignaults. Wyk Raka, bokspring nader, Huppelkind. Die laaste deel van my lewe gaan beslis beter wees as die eerste. Hier kom Happiness!
|