![]() |
Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012) This is the LitNet archive (2006–2012) |
||||
|
Jeanette Ferreira - 2008-09-16 My generasie was laerskoolkinders tydens die Sharpeville-slagting op 21 Maart 1960. Ons het gemeen dit moet só wees want daar was nog altyd konflik tussen swart en wit in die land. Op skool het ons in geskiedenislesse geleer van die Grensoorloë tussen die Britse regering en die Xhosas in die negentiende eeu. Die Grensoorlog ná 1960 was net 'n later, groter, onvermydeliker voortsetting daarvan. Die oorlog ná 1960 is in Suid-Afrikaanse koerante ook die Grensoorlog genoem. Maar dit is interessant dat Suid-Afrikaanse naslaanwerke die term Grensoorlog hoofsaaklik gebruik vir daardie oorloë in die negentiende eeu aan die Oosgrens. Die konflik wat 45 jaar gelede begin het, is in naslaanwerke "'n Suid-Afrikaanse teenoffensief", die "vyand" was "insurgente" en Suid-Afrika is nie deur grense omring nie maar deur "buffergebiede". Op hoërskool was kennis van die Grensoorlog vir vroulike Suid-Afrikaners beperk tot jong mans wat oproepinstruksies kry en op die stasie van hulle ouers en meisies afskeid neem. Die ma's het vir oulaas 'n canned fruit-bottel koffie en 'n pak toebroodjies in Wax Wrap deur die treinvenster aangegee. Die meisies het trou beloof. Ek het as 'n plaaskind uit die diep Laeveld op Tukkies aangekom. Ek onthou presies wanneer ek oor die Grensoorlog begin nadink het. Dit was in 1974 in Ou Lettere op Tuks se kampus. Professor de Klerk het in die Afrikaans 2-klas 'n onskuldige woord soos terroris vergelyk met die woord guerrillavegter. Ek is seker professor De Klerk het niks anders as 'n taalkundige verskynsel probeer demonstreer nie. Dit was ook nie so 'n verregaande vergryp dat koerante na "terroriste" verwys het nie. Dit gebeur wêreldwyd dat koerante meedoen aan die stryd tussen revolusionêre magte en 'n regering om die bevolking vir hulle saak te mobiliseer. Maar mens kan nooit taal van mense af weghou nie, veral nie as so 'n taal gestraf is met skrywers nie. Sedert 1976 se Soweto-opstande het ek koerante anders begin lees. En ek het met ander denkrigtings te make begin kry aan die swart universiteite waar ek sedert daardie tyd onderrig het. Teen die vroeë tagtigs het ek geweet in sekere geselskappe praat mens byvoorbeeld nie van 'n "burgeroorlog" en "guerrillavegters" nie, maar van die "Grensoorlog" en "terroriste". Daar het 'n stilte tussen my en die meeste van my wit landgenote ontstaan. Tussen my en baie van my swart landgenote ook. Ek kon nie met hulle saamstem oor 'n gewelddadige oplossing nie. 'n Wit Afrikaanssprekende andersdenkende was in die jare van die Grensoorlog 'n baie eensame mens. Vandag is dit weer só, om ander redes. Tot in die vroeë tagtigs was die Grensoorlog vir my nog 'n politieke aangeleentheid. In 1984 het ek deur 'n tussenganger die geleentheid gekry om die Grens te besoek. Van Ondangwa-lughawe af is ek Oshakati toe geneem. In die asbeshuis waar ek tuisgegaan het, het 'n majoor my vergas op albums vol foto's van opgeblaaste lyke. Ek het hom gevra hoekom hy foto's daarvan neem en dit in albums bewaar. Hy het nie begryp hoekom ek dit vir hom vra nie. Buite het 'n paar troepe teen die ondergaande son sokker gespeel. Op Oshivello het ek 'n offisier gevra of hy dink die oorlog gaan vir ons vrede bewerkstellig. Miskien het daardie offisier maar altyd diep in die bottel gekyk; hy het dit in elk geval daardie aand baie deeglik gedoen. Terug Oshakati toe het die voertuig se bestuurder vir my gesê ons het nie dekking nodig nie, want as die "terrs ambush", skiet hulle altyd te kort - hulle is nie goeie skuts nie en skiet altyd in die agterkant van die voertuig vas. Ek het agter in daardie voertuig gesit. Die volgende dag is ek in 'n pantservoertuig na 'n basis noord van Oshakati geneem. Twee troepe het met dooie oë in die sand langs 'n tent gesit en 'n Texan Plain gedeel. Ek weet nie wat hulle gedink het nie; my begeleier het my aangesê om nie weer vir enigiemand vrae te vra nie. Toegegee, die taal is inmiddels verryk met woorde soos tiffie, civvy-straat, die States, PB's, casavacs, terrs en flossies. In die flossie op pad terug Suid-Afrika toe het ek na iets in my tassie agter in die vliegtuigruim gesoek. Langs my tassie het twee goed gelê wat soos slaapsakke gelyk het. Die troep wat langs my gesit het, het gesê dit is casavacs, daar is lyke in. Iewers het die flossie oor die Suid-Afrikaanse grens gevlieg. Ek het 'n paar kortverhale oor die Grensoorlog geskryf en dit toe gelos. Ek dink Heinz Konsalik sou dit beter as ek kon gedoen het. Konsalik het ten minste nie die oorlog probeer verstaan nie. In 1989 was ek deel van een van die safari's buiteland toe om te gaan "praat met die ANC". Die koerante het daardie trippie die Watervalberaad genoem, asook die Vierstertranedal. Dit was 'n viersterhotel en dit was by die Victoria-waterval. Dit is moontlik dat van die dienspligtiges en guerrillavegters wat mekaar by die waterval oor die rand van 'n whiskyglas beskou het, mekaar kort tevore nog op 'n afstand oor 'n AK47 en 'n F1 aangekyk het. Dit is ook so dat ons gehuil het. Een van ons het trouens die oggend met ons vertrek so gehuil dat sy haar tas in die hotel vergeet het. Die vyand moes ons van agter af injaag met die tas. Op die lughawe het 'n stem oor die luidspreker gesê: "Comrades in the struggle will now board at Gate 3." Ek het my comrade-skap nie aan politieke insig te danke gehad nie, maar aan menslike oorwegings, iets wat vroeg in my lewe by my ingeskerp is deur my ouers - eenvoudige boere, nie gesofistikeerde politici nie. Ek wou vrede hê. Ek wou nie meedoen, en ek het nie meegedoen, aan enige vorm van geweld nie, waaroor Steve Tshwete my kwalik geneem en my gesê het ek verstaan nie oorlog is die enigste manier nie. Ek het nie verstaan nie. Ek wil dit ook nie vandag verstaan nie. Huis toe het ons uiteraard weer oor die Suid-Afrikaanse grens gevlieg. By my terugkeer het 'n familielid vir my laat weet - deur 'n ander familielid - ek sit nie weer my voet in sy huis nie. Die oorlog het nie net aan die Grens gewoed nie. Ver noord van daardie Suid-Afrikaanse grens was 'n plek waarvan ons later eers sou verneem. Camp Quatro. 'n Basis waarin mense wat verdink is van spioenasie op die uitgeweke guerrillamagte onderwerp is aan ondervragingsmetodes wat goed vergelyk het met die metodes wat Suid-Afrikaanse Veiligheidspolisie daardie tyd op Vlakplaas aangewend het. Ernstige grensliteratuur het hoofsaaklik standpunt teen die Suid-Afrikaanse regering ingeneem. Populêre sketse was hoofsaaklik regeringsgesind en in humoristiese trant. Feitelike geskrifte oor die Grensoorlog is bitter skaars. Terugskouend lyk dit my ook daar het baie meer Afrikaanse letterkunde, populêre literatuur en historiese beskouings oor die Anglo-Boereoorlog as oor die Grensoorlog ná 1990 verskyn en die meeste Afrikaanse geskrifte oor die Anglo-Boereoorlog neem sterk standpunt in vir die Boererepublieke. Die baie Anglo-Boereoorlog-geskrifte kan seker toegeskryf word aan die feit dat 1990 saamgeval het met die honderdjarige herdenking van die Anglo-Boereoorlog - maar die Anglo-Boereoorlog het toe al 101 jaar gelede begin, nie 100 jaar gelede nie. Mens moet ook onthou dat minder skrywers oor die Grensoorlog kon skryf omdat net manskrywers aktief deel was van die Grensoorlog - maar vroueskrywers was as landsburgers tóg deel van die Grensoorlog. Mans- én vroueskrywers moes navorsing doen oor die Anglo-Boereoorlog om daaroor te skryf; die Grensoorlog was, daarteenoor, toe al dekades lank 'n TV-skerm en 'n koerantvoorblad ver. Dit kan wees dat skrywers onbewustelik bo-oor die Grensoorlog na die Anglo-Boereoorlog toe geskryf het. En dít kan die geval wees omdat Afrikaanse skrywers met die Anglo-Boereoorlog kon identifiseer omdat dit 'n verstaanbaarder oorlog as die Grensoorlog was. Hierdie Anglo-Boereoorlog-literatuur was ook veelkantiger. Hoewel dit hoofsaaklik pro-Boer was, het heelwat daarvan ook begrip getoon vir die vyand sowel as die joiners en die hendsoppers. Die Grensoorlog se hendsoppers en joiners was onder andere die wit comrades wat aangetree het vir die Watervalberaad. Hulle, ons, het nie soos die Anglo-Boereoorlog se joiners en hendsoppers plase en regeringsposte en diskrete bedrae geld ná die oorlog gekry nie. Ons het ons poste in Afrikaans-departemente verloor; die middeljarige wit mans onder ons het watter pos ook al verloor. En geweld het ná die Grensoorlog na 'n ander terrein verskuif. Op hierdie trant kan ek voortgaan, maar dis onnodig: julle weet daarvan en van meer. Dalk is Grensoorlogskrywers wat joiners en hendsoppers was, verleë oor ons aandeel in 'n stryd wat toe nie tot vrede gelei het nie. Maar dit kan ook wees dat hierdie skrywers dieper insig in oorlog oor die algemeen begin kry. Daarmee bedoel ek nie dat ons nou literatuur kan verwag wat standpunt teen die huidige regering inneem nie - dit gebeur immers reeds. Ek hoop op iets anders: literatuur wat getuig van kennis van mekaar, nie net meelewing met mekaar nie. Dalk gaan skrywers nou in die geskiedenis van die Grensoorlog en die Anglo-Boereoorlog en in die geweld van ons tyd stof vind waaruit hulle probeer uitvind hoe mense se koppe werk. Want dit is waar oorlog begin, by mense se koppe wat verskillend werk, lank voor hulle politici of militariste of terrs of hendsoppers of skrywers word. << Terug na Afrikaanse skrywers en die struggle <<
|