Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
In Memoriam > ’n Droewe wind waai tussen die kokerbome
George Weideman (1947 - 2008)


’n Droewe wind waai tussen die kokerbome
George Weideman (1947 - 2008)


Johann Lodewyk Marais - 2008-09-10

Die veelsydige skrywer George Weideman het onlangs sy stryd teen kanker verloor. Die skrywer en letterkundige Johann Lodewyk Marais bring hulde aan hom.

Ek het George Weideman die eerste keer in 1984 op die beraad van die Afrikaanse Skrywersgilde in Gordonsbaai leer ken, en onthou goed hoe hy, ’n gereelde beraadganger wat hard teen die destydse sensuurwetgewing gestry het, kort-kort met sy eersteling, ’n babadogtertjie, op die arm gestaan of haar op die Van Riebeeck-hotel se stoep in ’n stootkarretjie rondgestoot het. Weideman, wat so meelewend met die Afrikaanse literatuur en skrywers was, het hom op daardie beraad nogal eenkant gehou: hy was baie geheg aan sy gesin, soos almal wat hom geken het, kan getuig.

Nadat hy in 1967 ’n BA-graad met Afrikaans-Nederlands en Duits as hoofvakke en in 1968 ’n Hoёr Onderwysdiploma aan die Universiteit van Pretoria behaal het, het Weideman in 1969 op Fraserburg gaan skoolhou, waar hy in dieselfde jaar sy toekomstige vrou, Celién (geb Nel), toe ’n leerling in standerd 9, ontmoet het.
In 1973 tree George en Celién op Kenhardt in die huwelik. Uit hulle huwelik is twee dogters, Melita (1983) en Siobhan (1988), gebore.

Maar dit is omdat Weideman so ’n toegewyde en suksesvolle skrywer was dat ’n mens jou daaroor kan verwonder dat hy soveel tyd aan sy gesin kon wy en sy boeke so dikwels aan hulle opgedra het. Skryf is ’n allenige besigheid en heel dikwels hou skrywers hulle eenkant en/of gaan in hulle eie wêreld op. Dit was nie met Weideman die geval nie, en dit was altyd lekker om te hoor hoe hy oor sy gesin vertel en hoe hy hulle bederf het.

Vir die meeste ander mense was Weideman in die eerste instansie die skrywer van (onder meer) ’n sewetal digbundels. Sy debuutbundel, Hondegaloppie (1966), het in sy tweede jaar op universiteit verskyn. In dié bundel en in As die son kliplangs spring (1969) is dit hoofsaaklik die droё Noord- en Noordwes-Kaap en aspekte van dié streke se taalgebruik wat ter sprake kom. Tematies bou die minder omvangryke, maar tegnies hegter Klein manifes van ’n reisiger (1970) op die eerste twee bundels voort.

Hierdie drie “kontreibundels” kan gelees word as Weideman se digterlike kartering en herdenking van sy jeugwêreld vol mense, diere, plante en gesteentes; en die sterk musikaliteit en klankrykheid van die gedigte dra tot die sinjalering van die oorwegend positiewe (en jeugdige) lewensuitkyk by.

Die eenheid, politieke gevoeligheid en satire in Hoera hoera die ysman (1970–1976) (1977) laat baie aandag op Weideman val. Dié bundel toon dat hy sy blik op die Suid-Afrikaanse werklikheid verruim het, al skryf hy nog steeds ook oor sy geliefde kontrei.

Met die elegiese Uit hierdie grys verblyf (1987) bereik hy ongetwyfeld ’n volwassenheid, trefsekerheid en afronding in die formele versvorm en die samestelling van sy bundel wat hom ’n besondere plek in die Afrikaanse poёsie besorg.

’n Staning onder sterre (1997) het heelwat wat aan die vorige bundels herinner: die gebruik van rym en tradisionele versvorme, die sterk vertel- of praattrant, die herskryf van (ander se) gedigte en gesprek met hulle, die sintuiglike bemoeienis met sy jeugwêreld en -herinneringe, gedigte oor familiefigure (soos Ouma Baai) en les bes, die liefde.

Die omvangryke Verskombuis: ’n Kookboek met gedigte (2006),met illustrasies deur Diek Grobler, bevat sowel gedigte as resepte wat oorwegend deur Weideman ontwikkel is. Nadat hy in 1997 genoodsaak is om weens ’n oogsiekte vroeg as dosent uit die diens van die Technikon Skiereiland (tans die Kaapse Skiereilandse Universiteit vir Tegnologie) te tree, was hy dikwels die kok in die huis.

Wanneer Weideman in 1983 met die kortverhale in Tuin van klip en vuur as prosaskrywer debuteer, voeg hy nuwe dimensies tot sy oeuvre toe. Sy taalvermoë, kennis van taalvariёteite en bedrewenheid met vormgewing, wat reeds in sy digbundels opgeval het, word goed in hierdie kort kunsvorm benut. Die verskeidenheid verhaalmateriaal is selfs groter in die 1994-bundel, Die donker melk van daeraad: Oustories en nuwe stories (1994). Die derde bundel kortverhale, Newelig: Stories loop nie padsaam nie (2007), bevat uiteenlopende verhale waarin dit opval dat Weideman ’n meester van die woord is – dit getuig van ’n skrywer wat sy ambag deeglik bemeester het en vir wie besinning oor die skrywerskap van wesenlike belang is. ’n Vierde bundel, Bloujare se stories,verskyn ook in 2007. Hierdie “kontreiverhale” (eintlik lag- en liegstories in die trant van Baron von Münchhausen) kom hoofsaaklik uit die Karoo, die Noord-Kaap en Namibië.

Weideman noem die eerste van sy twee volwasse romans Die onderskepper of Die dorp wat op ’n posseёl pas (1997). Dit is die verhaal van Arend Visser, die posmeester van die klein dorpie Salpeterputs. In die ambisieuse en omvangryke Draaijakkals: Oftewel die ongelooflike eerste jeug van Nicolaas Alettus Lazarus – stofpoepertjie, tusseninner en aartskalant van die Onderveld (1999), wat tussen 1913 en 1939 afspeel,sluit Weideman met sy beweeglike antiheld en amper-dwerg Nicolaas Alettus Lazarus (alias onder meer Vossie) by die tradisie van die skelm- of pikareske roman van Miguel de Cervantes aan.

Maar daar was ook vier jeugverhale. My gunsteling is Los my uit, paloekas! (1992) waarin hy in virtuose taalgebruik met verskillende tydperke en omstandighede omgaan. Die verhaal betrek die sosiokulturele en -politieke konteks van die laat 1950’s en vroeë 1960’s, en outobiografiese ondertone is duidelik herkenbaar in byvoorbeeld die hoofpersonasie Archie Appelgryn wat sy vader moet help plantjies smous.

Naas die jeugverhale en kinderboeke was daar ook Weideman se dramas en radioverhale. Sy betrokkenheid by onder meer die radiodrama toon dat hy groot waarde aan intelligente vermaak vir die publiek geheg en in die tradisie van NP van Wyk Louw en Chris Barnard in hierdie genre voortgewerk het.

Weideman was ’n besonder veelsydige skrywer. Abraham H de Vries het by geleentheid gesê hy is “by verre die veelsydigste skrywer in Afrikaans en ’n onderskatte akademikus. André P Brink het baie geskryf, maar hy het nie digbundels gepubliseer nie.”

Weideman het weliswaar oor die afgelope dekade en ’n half talle pryse en toekennings vir sy prosa en dramas ontvang, maar die belangrike debuut- en ander pryse wat deur die kanoniseerders van die Afrikaanse literatuur toegeken word, was hom nie beskore nie. Hy is trouens nooit as digter bekroon nie, hoewel dit die genre is waarin hy gedebuteer en waarskynlik sy sterkste bydrae gelewer het.

Soos genoem, het die Noord- en Noordwes-Kaap van die begin af ’n rol in Weideman se werk gespeel, en met sy uitbeelding van die mense, fauna, flora, gesteentes en talle ander fasette van hierdie droë dele van die land het hy as ’t ware hierdie streke se geheue geword. Met die “volkse” taalgebruik in sy werk het hy die ryk geskakeerdheid van ’n alternatiewe Afrikaans lewend help hou en die kreatiewe moontlikhede daarvan duidelik geïllustreer.

Weideman, wat gedurende die polities onstuimige 1980’s in Windhoek, Namibiё, Afrikaans gedoseer het, het kort voor dié land sy onafhanklikheid verkry het, saam met sy gesin in Bellville gaan woon. Nadat hy in April 2005, tydens ’n reis in Kroasië, só ernstig siek geword het dat hy en Celién die reis moes kortknip, is ’n bloedsiekte by hom gediagnoseer. (Dit was, terloops, dieselfde siekte waaraan my vader jare gelede oorlede is.)

Weideman het by geleentheid gesê: “[Ek] begin skryf soggens vieruur se kant; ek kan nie in die dag skryf nie.” Op Donderdag 28 Augustus 2008 was dit vieruur die oggend toe hy die stryd teen kanker in ’n Kaapse hospitaal verloor het. Hy was net 61 jaar oud en “in die fleur van sy lewe”, soos die oumense sou gesê het. In die Noord-Kaap en Namibiё het daar sekerlik ’n koue wind tussen die kokerbome gewaai.

Die Afrikaanse landskap sal armer wees sonder George Weideman, maar daar staan op dié landskap baie bakens waarvoor ons hom nog lank dankbaar sal wees.

  • Johann Lodewyk Marais en Theresa Papenfus het verlede jaar ’n huldigingspublikasie, ’n Hondegaloppie vir George Weideman (Ensovoort, 11(1), 2007), saamgestel waaraan 29 skrywers en letterkundiges meegewerk het.