Ellen Botha - 2008-09-08
Die gedenkdiens vir skrywer-digter George Weideman op 'n grys Lentedag was soos iets uit die aarde self; 'n wêreld waarin sy Namakwalandse madeliefies hom op sy laaste ondermaanse reis vergesel het. Saam met 'n kerk vol familie, vriende, letterkundiges, geleerdes en ons gewone mense met wie hy in sy lewe paaie gekruis het.
Die grootste indruk wat jy sou kry, was een van 'n oorweldigende gevoel van liefde en waardering vir hierdie nederige maar baie spesiale mens.
Geen dodemars, geen orrelmusiek, geen trek-sang deur die gemeente nie.
Geen doodskis nie.
Tóg was sy teenwoordigheid tasbaar: in die amper opgewekte "veld-musiek" voordat die diens begin het, in die blomme en struike een-een verpak in bruin kardoese langs die kerkbanke, in sy gedigte en toonsettings daarvan. En veral in die opregte hart-woorde van elke spreker wat hom kom groet het.
Dis presies hoe hy dit sou wou hê, sonder enige tierlantyntjies.
Ná die diens is 'n Irish wake in die kerksaal gehou. Sy wens was dat almal teenwoordig 'n glasie rooiwyn op hom drink en 'n blom saamneem huis toe.
In-der-daad sý doepa vir óns droefte.
Só het hierdie gentle man ons vir oulaas stil-stil gegroet, maar met 'n skatkis vol nagelate woorde wat steeds vreugde sal bring.
Ellen Botha