Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
In Memoriam > George Weideman – Klein manifes vir ’n reisiger
2 Julie 1947 – 28 Augustus 2008


George Weideman – Klein manifes vir ’n reisiger
2 Julie 1947 – 28 Augustus 2008



Dorothea van Zyl - 2008-09-02

Ons staan op vertrek: oor die swart suile
van hierdie eerste stasie, ons vertrekpunt,
ruis die vrolike afskeidslied.
Ons groet die donker aarde van ons jeug, en juig.
Ons waai vanuit die wit trein
na die stil gestaltes op die bewegende perron.
Die seremonie is verby (...)

Ek rig ’n ’n vasberade brief aan die aarde wat ek geken het:
ons gaan nou definitief nie terugkeer nie;
hierdie reis het van ons sigeuners gemaak.
Ons reis telkens na ’n nuwe vertrekpunt, verder,
met ’n kenbare lied vir hierdie repatriasie:
die heilige robynrooi stiltes van die woord
wat sing oor die blomme van die God waarvan ons gehoor het
en die fantasie van ’n duisend wit kastele
en die ekstase van ’n dun brug oneindige reis ...

*

Enkele dae terug het ons vriend George finaal vertrek – en in dié sin waar gemaak wat hy reeds in die eerste gedig van Klein manifes van ’n reisiger (1970) gesê het (hier bo aangehaal).

En ons stil gestaltes wat voorlopig agterbly, waai vir die wit trein wat met ons swerwersvriend vertrek het op sy oneindige reis, met hoop op fantasie en ekstase en blomme van God noudat hy die dun brug oor is. Jy het net te kort kom kuier, George.

Ons sal ons minsame en beskeie vriend en kollega mis, en is jammer die laaste afstand wat hy met die “ou skedonk genaamd aarde” afgelê het, was so moeisaam en slopend. Tog het sy gees onblusbaar gebly en was hy tot bykans op die laaste besig met die woord.

Ek het George veral beter leer ken die kere wat hy saamgery het met my en Wium, of saamgegaan het met my na Stellenbosch. Hy het altyd met groot vrymoedigheid gepraat oor sy siekte – nugter en realisties, maar nooit moedeloos en neerslagtig nie. En daar was altyd ’n lekker storie of twee.

Enkele flitse:

By elke Woordfees (buiten twee, toe hy verhinder is deur siekte) vanaf die eerste Nag van Passie het George sy ding kom doen – steeds kinderlik entoesiasties en opgewonde dat ons na hom sou wou kom luister! ’n Mens kon altyd op George reken. In 2001 het hy op ’n baie kort kennisgewing as openingskrywer opgetree in die plek van Breyten Breytenbach. Hy het by die onderskeie Woordfeeste uit eie werk gelees, skrywerswerkswinkels aangebied, aan die Storiestew en Filosofiekafee deelgeneem – altyd voluit. By die laaste Woordfees is hy spesiaal vereer met Doepa vir die droefte deur Helena Conradie, Annalise Wiid en Francois le Roux (Die Ha!Man). Hy was in die hospitaal, maar sy stem is gehoor en Celién was daar om hom te verteenwoordig.

In 2003 het ek sy nuwe kinderboek, Die geel komplot, bekendgestel; in 2007 het ons gaan kyk hoe lyk George se geboortehuis op Cradock. Dikwels het Wium en/of Braam de Vries gou gaan koffie drink saam met George en dan kom verslag doen. George was dus ’n konstante teenwoordigheid in ons lewens.

Hoewel ons saam met George se geliefde Celién en sy twee dogters Melita en Siobhan die groot leemte ervaar wat sy vertrek laat, vier ons terselfdertyd sy ryk en geskakeerde oeuvre wat nog lank sal voortbestaan. Volgens Jaap Steyn bestaan die George Weideman-versameling in die beleërde Nasionale Letterkundemuseum uit 69 foliogrootte bladsye – net soveel as dié van die Uitgewery Van Schaik!

Sy veelsydigheid blyk uit die genres wat hy suksesvol ontgin het: poësie, kortverhale, romans, toneel, radiodramas, ’n kookboek, ens. Onder die skuilnaam SE Lessing het George in 1999 selfs ’n rugby-speurverhaal geskryf, naamlik Gaping vir ’n moordenaar. Hy was ook verantwoordelik vir etlike vertalings.

Sy fyn aanslag en taalontginning het Hennie Aucamp al laat sê dat George eintlik ’n digter bly in alles wat hy aanpak – ook in sy kortverhale en romans. Daarvan getuig sy liefde vir woorde, soos hy dit self uitdruk:

'n Woord het nie net 'n semantiese waarde nie; in elke taal het dit soms iets magies, iets kleurvols, iets wat vars en onuitspreeklik soet is. Waarom mag net ander tale spog oor en put uit hul opgaardam van woorde? Kom, laat ons 'n slag al die sluise ooptrek!

En sluise het George beslis op talle maniere oopgetrek. Variasie en verskeidenheid is vanuit die staanspoor kenmerkend – nie alleen van sy lewe nie, maar ook van sy werk. Dit blyk uit die volgende klein bestekopname:

As kind het sy gesin meermale getrek, en hy het aan drie universiteite gestudeer en op verskeie plekke onderwys gegee voordat hy Afrikaans gedoseer het aan die Universiteit van Namibië en by die Skiereilandse Technikon.

In die Kaap het hy uiteindelik ’n vaster rusplek vir sy voet kom vind, maar die rondswerwery – en iets van sy sigeunergees - het neerslag gevind in boeke soos die uitstekende skelmroman Draaijakkals.

Ook sy liefde vir die landelike, die aardse en die taalpitkos van die kontrei kan teruggevoer word tot sy jeug op die platteland. So vind Joan Hambidge dat Weideman “die vergete wêreld van sy jeug vir ons weergee: daar waar stories in die mond van gewone mense lê”.

George was van vroegs af reeds skrywer: op dertien is sy eerste stukkie prosa in die skool se jaarblad gepubliseer én het hy begin met sy eie skoolkoerant. In standerd sewe het hy gedigte geskryf en in standerd nege sy eerste manuskrip uitgewer toe gestuur. Reeds as tweedejaarstudent is sy eerste digbundel gepubliseer.

Sedertdien eksperimenteer Weideman met woord en vorm. Braam de Vries wys daarop dat min mense besef hoeveel soorte kortverhale George byvoorbeeld al geskryf het: “die tradisionele vertelling en oorvertelling, die historiese ver­haal, die moordstorie, die ­reisverhaal, die grie­selverhaal, die spook­storie, om ’n paar te noem”.

Ses digbundels het verskyn - van Hondegaloppie in 1966 tot ’n Staning onder sterre in 1997, afgerond met die bloemlesing Pella lê ’n kruistog ver in 1998. In 2006 ontvang George Weideman ’n Akkertoekenning by die Versindaba op Stellenbosch vir sy bevordering van die Afrikaanse poësie.

Van sy mees onlangse gedigte verskyn in sy kosboek, Verskombuis – ’n Kookboek met gedigte, geïllustreer deur Diek Grobler. Soos die bekoorlike slot van “Opstaankoffie" wat kos, die natuur en die liefde verenig:

ek proe die koffie op jou tong
en snuif anys en wilderoosmaryn
ek snuffel oor jou bokkiespoor
die nag se buitelyn vervaag ...

Vir sy kortverhaalbundels, Tuin van klip en vuur (1993), Die donker melk van daeraad (1994), Newelig (2006) en Bloujare se stories (2007), ontvang hy hoë lof.

Maar in die proses van skryf slaag hy ook daarin om sy jeugdige kern te behou. Sy talle jeug- en kinderverhale, soos Los my uit, paloekas! en Optog van die aftjoppers, het hom reeds drie keer die Sanlam-prys besorg en een keer die Scheepers-prys vir jeugliteratuur. Optog van die aftjoppers is ook deur die Kinderboekforum benoem as IBBY Ereboek vir die International Board on Books for Young People.

George is ook ’n pryswenner met sy ander werk: sy roman Die onderskepper (1997) het byvoorbeeld die tweede plek in die De Kat–romanwedstryd behaal en die WA Hofmeyer-prys is daarvoor toegeken. Draaijakkals is in 2000 met die ATKV- en M-Net-pryse bekroon.

Naas dramas (onder meer die gepubliseerde My plaas se naam is Vergenoeg) het hy pryse en ’n erepenning van die Akademie ontvang vir radiodramas soos Lig en Sand.

As vakman besin hy in sy eie boeke, maar ook in kritiese werk, meermale oor die hoe en die hoekom van skrywerstrategie. Een van die beste besprekings in ’n huldigingsbundel vir Abraham H de Vries was George se omvattende en deeglike studie van die clown-figuur in De Vries se werk.

Hy het daarby ’n geskiedenis as voorvegter teen onreg – in sowel die ou as die nuwe Suid-Afrika, soos sy inskryf teen onreg en misdaad getuig.

Geen wonder nie, in die lig van al dié verskeidenheid, dat ’n ATKV-tak in Kraaifontein George Weideman in 2007 as Afrikoon vereer het vir sy besondere bydrae tot Afrikaans en Suid-Afrika.

As een van die veelsydigste skrywers in Afrikaans sal hy veral vir sy woordvirtuositeit en kreatiewe vernuf onthou word – maar ook vir sy wonderbaarlike verskeidenheid aardse karakters en soms guitige humorsin.

Noudat sy sjarmante minsaamheid nie meer met ons is nie, bly die omvattendheid van sy skrywerstalent ’n getuigskrif vir ‘n ruim en wellewende gees.

Ten slotte nog ’n uittreksel uit Klein manifes van ’n reisiger (1970:16):

Luister: hierdie óú aarde ritsel onder ons voete
- asof iemand deur ’n ou boek blaai:
die eeue omblaai, jare, seisoene:
vergeelde blare soos herfsblare ...
Dit word tyd dat ons vertrek! (...)

Laat ons opvlieg voor die môre,
soos trekvoëls opvlieg na ’n sonland,
weg van hierdie kreupel hout en wildernis
waar ons woorde bros en weerloos is.


(Dorothea van Zyl het die stuk wat sy vir
Rapport geskryf het by geleentheid van George se sestigste verjaarsdag op 2 Julie 2007, deels by hierdie huldiging gebruik.)