![]() |
Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012) This is the LitNet archive (2006–2012) |
||||
|
Leandré Hanekom - 2008-09-01 George Weideman het een dag by ’n Skrywersgilde Beraad, toe ek gekla het oor my oë wat na akute hartversaking so moeg en dof raak as ek te lank sit en skryf, sy dikraambril met die dik lense afgehaal, sy eie oë gevryf en stilweg vertel van sy sig wat so vinnig besig is om te verswak, en hoe dit blykbaar ’n skrywersding is wat meeste van ons maar een of ander tyd tref. Toe het hy sy bril weer opgesit, effens geglimlag, en half ironies gesê: “Maar ons moenie kla oor ons oë nie” ”Hoekom nie?” het ek gevra. ”Want as jou oë nie meer die las van skrywer en digter wees kan dra nie, as die wêreld vir jou begin donker word, dan kry jou innerlike visie die kans om oor te kom neem, en dan, dit sal jy nog uitvind, word mens ’n beter skrywer en digter as ooit. ”Hoekom?” het ek weer gevra. ”Want dan kan jy oor die lig én die donkerte skryf, en die waarheid oor al twee vertel, want jy was self daar,” het hy gesê en effens geglimlag terwyl ons stadig vorentoe geskuif het in die tou in die kafeteria, twee skrywers wat al twee reeds in ons harte geweet het van die lig wat besig is om te kwyn en die donkerte wat gaan kom. George, jy is reeds volwaardig in die Lig, maar ek sê nog, saam met die digter, as ek so struggle om te bly leef, na verdere hartversaking en beroerte, “Do not go gently into that good night. Rage, rage against the dying of the light!” Leandré Hanekom
|