Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > Afrikaans > Miniseminare > Geen nut vir krokodiltrane nie

Geen nut vir krokodiltrane nie


Izak de Vries - 2006-11-01

PW Botha is dood, lig Kobus Bester my vanoggend in op Monitor en speel summier ’n pasklaar huldeblyk aan die Groot Krokodil.

En raai? Daar is ek aangedaan! Ek het regtig gedink ek gaan bly wees as ek die dag hoor die Vinger is dood, en nou is ek nie. Ek kan nie sê ek sit en tjank hier voor my skootrekenaar nie, maar ... ek is nie opgewonde nie.

Hoekom nie? Dis die vraag wat ek aan myself probeer stel.

Ek dink dis dalk omdat ek moet erken ’n deel van my verlede is dood.

My pa was ’n groot Nasionalis. My oupa Izak was ’n groot Nasionalis. Hulle het die party deur dik en dun bygestaan.

So, rebel wat ek graag wou wees, kan ek nie ontken dat die Party deel was van my psige nie. En PW was die gesig wat ek aan die Party gekoppel het.

PW se verkiesing tot hoofleier was ’n fantastiese oomblik in ons huis. My pa was ’n groot PW-man, en Die Burger het vooraf groot banieropskrifte gedra met baie bespiegelings en drie foto’s van moontlike nuwe NP-leiers. PW was een van hulle.

My pa was op daardie stadium die saakgelastigde van die NG Kerk in De Doorns. Ons het in so ’n regop huisie langs die kerk gebly. Die mense het soheentoe gestroom, kom gesels, gekoukus, geraai en weer vertrek. Toe kom die aankondiging en my pa se man het gewen.

“PW is ’n man van die volk,” het my pa gespog en sy rugbyspelerborskas uitgestoot. “Ek sal nie verbaas wees as sy motor eendag hier stilhou en hy kom inloer vir koffie nie!”

PW het nooit kom koffie drink nie, en toe Andries Treurnicht uitstap, was my pa effens verbouereerd. Treurnicht was immers ’n dominee en ook, volgens my pa, ’n man van die volk.

Tog het rede geseëvier in die De Vries-huis en die Party se kant is gekies. “PW weet wat hy doen,” was my pa se allerantwoord.

Ek het PW by twee geleenthede in lewende lywe gesien. Die eerste keer was tydens ’n skoolbesoek aan die parlement. Die Oom NP wat in ons kiesafdeling was, het ons genooi. Ons het ’n tydjie gekyk hoe mense vreeslik baie praat in die Volksraad en toe het die Oom NP vir ons elkeen ’n Coke gegee. Terwyl ons die Coke gedrink het, het almal skielik stil geword. Die atmosfeer was gewyd, want die Eerste Minister het in ons rigting aangestap gekom. Hy was druk in gesprek met iemand en het nie werklik tyd gehad om na ons te kyk nie, maar ons het hom GESIEN! Ons babbelbekkies was stil terwyl ons die Coke heen en weer gerol het om ons tonge.

Die ander keer was tydens ’n toespraak in Pietermaritzburg. Dit moes waarskynlik in 1983 gewees het, maar my geheue speel ook nie meer saam nie. Ek dink die Party het hom geroep om seker te maak dat Natal "JA" stem vir die referendum.

PW was verbysterend. Hy het die gehoor – ons – aan sy voete gehad. Hy het korte mette gemaak met die hekelaars; sy fris ondersteuners het die tannies met hulle swart serpies uitgegooi dat jy net bene sien skop. Dit was ’n aand om te onthou. Ek het op ’n stadium so opgewonde geraak dat ek my vuis in die lug gesteek het, net om vinnig vertel te word dis eintlik net kommuniste wat dit doen.

En nou is PW dood.

Net gisteraand nog kom Elma by die huis van ’n TAC-vergadering af en vertel hoe Pieter-Dirk Uys, as PW, met ’n handpop, as Thabo, ’n dialoog gevoer het vir die TAC-ondersteuners:

PW: “Wat is jou geheim?”

Thabo: “Ek ignoreer hulle, dan gaan hulle weg.”

Ek kon nie help om daaraan te dink toe ek hoor van PW se dood nie. Ignoreer, dit het PW nooit. Dwars, hardnekkig en hardhandig optree, dit het hy altyd. Voet neersit en doen waarin hy glo, dit het PW gedoen.

Ek dink PW moes waarskynlik oor Suid-Afrika gevoel het soos Frankenstein oor sy monster. Dit was PW wat die ontugwet afgeskaf het. Dit was PW wat die paswette laat gaan het en die vakbonde vrygestel het. Dit was PW wat, met sy eie dwars logika, besluit het om bruin mense en Indiërs ook stemreg te gee. Tog was dit die einste PW wat, tydens die Rubicon-toespraak, vir die internasionale kameras gegluur het en hulle vertel het dat hy sal weier om die wit minderheid uit te verkoop. Dit was ook PW wat gal afgegaan het toe Allan Hendrickse sy enorme baaibroek aangetrek het en ’n bietjie op ’n koue dag gaan swem het.

Elma vertel dat Pieter-Dirk Uys, in sy PW-persona, vir Thabo, die handpop, vra: “Maar hoe? Ek kon dit nooit regkry nie.”

Thabo: “Maklik. Hulle verdwyn eenvoudig vir een.”

PW: “Ja, maar met my het dit nie gewerk nie. Ons kon hulle nie ignoreer nie en ons kon hulle nie eens in die see jaag nie.”

Thabo: “Dis omdat jy die strande wit verklaar het, idioot.”

En nou is PW dood.

Thabo, die Groot Kommunis, is meer kapitalisties as Barend du Plessis; Manto is veel meer hopeloos as Rina Venter.

Pieter-Dirk Uys is gelukkig nog met ons, want dit help nie om krokodiltrane te huil nie.

Daar is steeds plakkerhutte langs die N2, net soos in PW se dae.

 

<< Terug na reaksies op PW Botha se afsterwe <<