Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Skryfsake | Writing matters > Afrikaans > VraNet: Fanus Vivier vra Gilbert Gibson

VraNet: Fanus Vivier vra Gilbert Gibson


Gilbert Gibson - 2006-10-31
Gilbert Gibson beantwoord Fanus Vivier se vrae omtrent die skryfproses


 Deelnemer
  Veteraan
Fanus Vivier neem deel aan die Sanlam/LitNet prosa aanlynskryfskool, SkryfNet XI. Gilbert Gibson.
  1. Is dit moontlik vir ‘n Afrikaanse skrywer om slegs iemand te wees wat (toevallig) in Afrikaans skryf en daarin slaag om bloot “nomenklatories” (soos in ‘n beskrywingsisteem) met woorde om te gaan, of is daar altyd ‘n noodwendige vereenselwiging met of beïnvloeding deur kultuurhistoriese en ideologiese (insluitende godsdienstige) “kragte”?

    Vir die skrywer is die taal die ontoevallige “tool”.

    Die taal is die meganisme tot, die substraat onder, die gereedskap vir die skryfproses. En dit wat in die skryfproses vertel word, die produk, word uiteraard en noodwendig gekleur deur die psigososiale agtergrond van die skrywer en die skrywer se omgewing, soos stof aan die voete wat ‘n mens nooit kan afwas nie. Die stof, en nie noodwendig die taal nie, word dus die lens van die skrywer, en is baie afhanklik van die kragte waarvan die vraesteller praat.

    Dit geld natuurlik vir enige skrywer in enige taal: die verband tussen die taal en die ideologie of filosofie of psigogeskiedenis daaragter is in die skeppende proses, soos die verband tussen taktiek en strategie: strategie bring die vyand na die slagveld; taktiek oorwin hom.

    Soos die vraesteller suggereer, is taal in die skryfproses meestal nomenklatories, maw onderworpe aan ‘n stel vaste reëls waarvolgens name wetenskaplik en ordelik aan voorwerpe (of gevoelens, of idees, of wat ook al) toegeken word.

    Taal en historiese agtergrond is in die kreatiewe proses nie altyd óf noodwendig dus verwant aan mekaar nie.

     

  2. In aansluiting hierby: Kan Afrikaanse literatuur homself loswring uit die historiese verstrengeldheid van politiek, geloof, rassestruwelinge en historiese skuldkomplekse ten einde weer toepaslikheid in die artistiese uitdrukking van ‘n ontwakende kultuur te vind?

    Sou dit nodig wees? Is ‘n taal nie maar ook die gevolglike medium van hoër funksie wat beide die (ek neem aan) “skandelike” en die “goeie” insluit nie, baie soos die vel ‘n litteken dra jare nadat die bottelstuk die bobeen oopgesny het? ‘n Mens besef tog dat 20ste-eeuse Engelse letterkunde nie los staan van konsentrasiekampe nie, dat Amerikaanse stemme altyd iets kaats oor die besluit dat Native Americans (wat ‘n ironiese term) vanaf 31 Januarie 1876 gedwing is om in reservate te bly.

    Taal is (hoewel emosioneel belaai) slegs ‘n stel/stelsel seine en simbole wat inligting kodeer en dekodeer. Die formele taal waarin die kuns gepleeg word (hier ter saak Afrikaans), gee egter wel aandag aan die historiese evolusie agter die taal, en aan die interne struktuur van die taal (die grammatika), en aan die geografiese oorsprong van die taal.

    Die taal is so toepaslik soos die boodskap daarbinne, in die neutedop.

     

  3. Kan dit wat in Afrikaans geskryf word, enigsins “globaliseer” soos in die geval van, onder andere, Spaanse skrywers soos Marquez en Coelho?

    Ten minste is Afrikaans die beste taal ter wêreld vir vloek, en (soos Arthur Clarke dit stel in 2001: Odyssey Three) “selfs onskuldige gesprek kan skadelik wees vir toevallige toehoorders.”

    Die globalisering van Afrikaans staan in dieselfde dilemma as kleiner besighede ver van groot inkoopsentrums af: ‘n rillende tekort aan voete, voete, en voete. Bo alles kort Afrikaans lesers, en vertalers, en geld.

    Interessant om daarop te let dat byvoorbeeld Arabies, Bengaals, Chinees, Tseggies, Fins, Hebreeus, Hongaars, Portugees en Serbies almal al as vertaalde taal en literatuur Nobelpryse gewen het (almal sowat een persent, met primêr Engelse werke sowat 25 persent van die toekennings vanaf 1901 tot en met 2005). Marques se moedertaal, Spaans, het toevallig al tien wenners opgelewer. Coelho het al 86 miljoen boeke verkoop, en is in 56 tale vertaal, en hy skryf in Portugees.

    Dalk kort iemand in Afrikaans net ‘n spreekwoordelike “lucky break”: enige tyd sou name soos Brink, Krog, Muller, Van Heerden, Meyer en dalk selfs Vivier tree vir tree kan saamstap op ‘n paar internasionale arenas.

     

  4. Dink jy Coetzee of Gordimer sou die Nobel-prys gewen het as hulle werk vertalings was van wat aanvanklik in Afrikaans was? (Dit sluit aan by die vraag of literêre erkenning suiwer gaan om erkenning van goeie letterkunde en of dit ook ideologies beïnvloed word.)

    Literêre erkenning weerspieël ook (maar nie uitsluitlik nie) in verkope en in pryse. En beide is gefaalde metings van waarheid en literêre meriete. Die Nobel-prys maak dus nie regtig saak nie. Maar ek dink nee – Coetzee en Gordimer sou as Afrikaans-skrywers nie die Nobel gekry het nie.

    Literêre erkenning word sekerlik ideologies beïnvloed: Auden se seksuele oriëntasie, en sy aanmerkings oor dieselfde van Dag Hammersjöld, het hom waarskynlik op die minste die Nobel-prys gekos.

     

  5. Die meeste waardevolle klassieke literêre werke het marginale of geen ekonomiese sukses beleef nie. (“It is a well known fact that works which are currently regarded as monumental received little attention and even less returns at the time when they where produced. Further it is also worth mentioning that most of the great artists received their financial support of various patrons and were never at the mercy of economic imperatives … only creative ones”.) Hoe lewensvatbaar is die Afrikaanse literêre output, en is daar skrywers wat sal aanhou skryf omdat hulle glo dat hulle werk en die boodskap wat dit dra, monumentale status kan bereik, of worstel ons steeds met die historiese minderwaardigheidskompleks omdat ons skryf in ‘n oorlewingstaal?

    Die lewensvatbaarheid van die Afrikaanse literêre output is afhanklik van die skrywer én die leser.

    ‘n Paar skrywers sal, na my nederige mening, in Afrikaans aanhou skryf tot die laaste druppel bloed/ink. Hulle sal aanhou skryf omdat die woord hulle substraat is, omdat Afrikaans hulle (toevallige) medium is, maar veral omdat hulle moet, omdat die skryf in die vesel, in die grein sit. Maak die monumentale status saak? Kyk vir Eugène Marais: net sowat 50 bekende verse, maar tien van daardie reëls is "Winternag". En hulle sal net worstel met die kuns, soos kunstenaars deur eeue worstel met die kuns, sonder ag op agtergrond of minderwaardigheid of die stand van die taal ...

    Dat ‘n taal as spreektaal kan uitsterf, staan gewis: daarom dat dit hartseer is om te dink dat die taal die pad van uitsterf kan gaan, soos Antjie Krog waarsku in Country of my Skull (1998:99): “It has been stated openly that Afrikaans is the price that Afrikaners will have to pay for Apartheid.” In Suid-Afrika kan Afrikaans die pad kan gaan van Ngu (in 2003 slegs sowat tien sprekers – Crawhall 2003), of Xiri (in 2000 sowat 87 sprekers – WCA 2003), of eindig soos Korana of Seroa – beide reeds dood ...)

 

 

<< Terug na Sanlam VraNet <<

 << Besoek die Sanlam/LitNet Aanlynskryfskole <<