PJ Haasbroek - 2008-06-23
Ek antwoord graag op Anton van Niekerk se betoog teen die herinstelling van die doodstraf in Suid-Afrika.
Hy verkies klaarblyklik om die vraagstuk uit ʼn etiese hoek te benader. Dit is sy goeie reg, maar hy moet sy uitgangspunt verduidelik, want uiteraard val die vraag wat hy wil beantwoord in die terrein van die regsfilosofie.
Al drie sy argumente is bekend; dit word herhaaldelik in debatte oor die doodstraf aangevoer. Eerstens beweer Van Niekerk dat die doodstraf nie “werklike geweldsmisdadigers” of moordenaars “wesenlik” afskrik nie.
Dit is waar dat psigopatiese geweldenaars nie afgeskrik kan word nie.
Die belangriker vraag is egter of die doodstraf ander potensiële moordenaars sal afskrik. Ek vermoed dat die meeste moorde in Suid-Afrika deur mense gepleeg word wat beslis die moontlikheid van ʼn doodstraf sal oorweeg in die beslegting van geskille, die uitlewing van hul drifte, en já, die beplanning van hul misdade.
Die geleentheidskoste van ʼn doodstraf is eenvoudig hoër as enige tydelike voordeel wat deur ʼn moord bekom kan word. Waarom anders sou moordenaars so hartroerend pleit vir begenadiging?
Tweedens vertel Van Niekerk ons dat die doodstraf “beswaarlik versoenbaar” is met demokrasie, op enkele “interessante” uitsonderings na. Hy sê egter niks oor die verskille tussen méér en minder suksesvolle demokrasieë nie.
Die werklike vraag gaan oor die meganismes wat ʼn meerderheidsregering het om die veiligheid van sy onderdane te verseker. Dit behoef geen betoog nie dat die hoë vlak van geweldsmisdaad in Suid-Afrika gedeeltelik verband hou met die tekortkominge van ons huidige demokraties-verkose regering. ʼn Regering wat klaarblyklik net sy belofte van ʼn beter lewe vir die misdadigers in ons gemeenskap gestand doen.
Derdens neem Van Niekerk stelling in op ʼn moralistiese hoogland waar hy trots die beskawingsvaandel omhoog hou. Hieronder deklameer hy die vereistes wat beskawing aan ons medelye, deernis, menslikheid, moraliteit en geestelike weerbaarheid stel. En dan trek hy met sy grootste kanon op die herinstellers los: selfs onder die ergste provokasie behoort ons nie so waansinnig soos die geweldenaar op te tree nie.
Hier gebruik Van Niekerk die begrip “waansin” verkeerdelik veralgemenend. Soos hierbo betoog, is min moordenaars waansinnig, en dus ontoerekeningsvatbaar.
Hierbenewens hang hy met sy stelling ʼn onregverdige vraagteken oor “provokasie.” Beteken dit dat ʼn mens – moraliteitsonthalwe – ook nie ʼn reg op selfverweer het nie?
PJ Haasbroek