Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Artikels | Features > Gedagtes oor die verskille tussen gedigte en lirieke

Gedagtes oor die verskille tussen gedigte en lirieke


Bernard Odendaal - 2008-06-11

As letterkundedosent wat baie met gedigte werk, maar ook ’n bietjie lirieke skryf en vertaal, is ek geprikkel deur die bespreking wat u aanmoedig oor of daar verskille bestaan tussen poësie en liriekkuns of nie. Die verhouding tussen woord en melodie in liedkuns moet betrek word by die nadenke hieroor, soos u tereg impliseer.

Hennie Aucamp, soos ook wyle Stephan Bouwer, het natuurlik jare gelede al insiggewende Afrikaanse opstelle oor hierdie kwessies geskryf. In die afgelope somer se uitgawe van Boeke-Insig wy Danie Marais ook ’n artikel aan die saak.

Laat ek deels aansluit by Marais as hy skryf dat daar nie eintlik wesenlike verskille tussen gedigte en lirieke is nie, ten minste nie wat die waarde of gehalte, en in ’n groot mate ook die aard, daarvan betref nie. Die verskille tussen hulle – en hierdie verskille is maar vaag of aan die vervaag – het waarskynlik te doen met hulle funksie(s), dit wil sê met die aanbiedingswyse en die doel waarvoor hulle geskryf word.

Waarde is iets wat toegeken word, byvoorbeeld deur toonaangewende mense in ’n bepaalde kultuurveld. Dit hang baie af van watter beskouings op bepaalde tydstippe oorheers.

Dertig, veertig jaar gelede kon Afrikaanse musiek (veral die lirieke) nie op dieselfde skaal van aansien en belangstelling geweeg word as die poësie van, sê, ’n D.J. Opperman of ’n Antjie Krog nie. Vandag lyk dit iewat anders. ’n Hele paar liriekskrywers se werk is al in bundels uitgegee. En Danie Marais maak ’n sterk saak daarvoor uit dat meer as net die enkele lirieke wat tans daarin staan, in toekomstige uitgawes van Groot verseboek opgeneem behoort te word.

Gehalte is natuurlik ’n ingewikkelde en omstrede aangeleentheid. Maar kwaliteit is geen geldige maatstaf om lirieke van gedigte te onderskei nie. Vrot en briljant is osse wat in albei krale rondstaan.

Verskil die aard van liriek- en digkuns?

Dis miskien goed om weer daaraan te dink dat die vroegste poësie in die meeste kulture dikwels juis geskryf of uitgedink is om gesing (of voorgedra) te word. Met ander woorde, gedigte is aanvanklik dikwels onder meer as “lirieke” gekonsipieer. En soos onder meer Sibylle Moser in ’n onlangse artikel in die tydskrif Poetics uitwys, is daar vandag, weens die groeiende beskikbaarheid van ’n verskeidenheid media wat dikwels gekombineerd ingespan word, wêreldwyd ’n opbloei in die voordra en sing van digkuns te bespeur.

Ook hier by ons: dink maar net aan die werk van Gert Vlok Nel, Toast Coetzer, Riku Lätti, Herman van den Berg en Laurinda Hofmeyr in meer onlangse jare.

Dit is die dominansie van die gedrukte media sedert die uitvinding van die boekdrukkuns wat ons ’n paar eeue lank, en veral tydens die grootste deel van die twintigste eeu, wou laat glo dat “ware” poësie léés vereis. Meer nog: stípleeswerk. (Miskien ook met ’n bietjie klem op die woorddeel -wérk!)

Gewoonlik word twee bepalende, eintlik beperkende, faktore genoem as daar oor lirieke gepraat word.

Eerstens word dit amper as ’n vereiste gestel dat lirieke vaster van vorm moet wees, dit wil sê nie so vry as wat gedigte dikwels is nie, om by die reëlmatige (ritmiese en herhalende) aard van musiek te pas. Hoe onseker so ’n vasstelling is, bewys die tekste wat die genoemde Gert Vlok Nel, Toast Coetzer en Laurinda Hofmeyr, maar ook byvoorbeeld Lize Beekman, skryf of kies om te toonset.

Tweedens word aanbeveel, tydens werkwinkels en slypskole, dat lirieke liefs dadelik verstaanbaar moet wees, onmiddellik toeganklik vir die toehoorder. Die luisteraar wat die lied oor die radio of die CD-speler hoor, of by ’n konsert daarna luister, het nie die geleentheid wat ’n gedigleser het om onmiddellik terug te blaai en die teks te herlees totdat hy of sy die betekenis daarvan onder die knie het nie. So word geredeneer.

Hedendaagse tegnologie maak dit egter moontlik om oor en oor na dieselfde CD- of DVD-snit te luister en/of te kyk, en lirieke is al sedert die era van die viniel-langspeelplaat vir die lees beskikbaar gestel op omslae en in ingeslote boekies. Ook hierdie argument gaan dus dikwels nie rêrig op nie.

Maklik, moeilik; toeganklik, ontoeganklik. Hang sulke kenmerke nie maar eintlik af van lesers of luisteraars se kennis van die interpreteerbare tekens of sleutels ("kodes"genoem in die tekenleer) wat nodig is om betekenisse uit tekste te diep nie?

’n Mens moet in gedagte hou dat twee stelle kenmerke, of twee soorte prosodiese boustene, poësie herkenbaar maak. Die een soort is ouditief van aard (al is dit net met die geestesoor “hoorbaar”), soos klank- en ritmiese aspekte, wat onder meer metriese en rympatrone kan vorm. Die ander is met die oog waar te neem: vers-, strofe- en gedigbou; die kontoere wat die gedrukte letters teen die agtergrond van die (meestal wit) bladsy vorm; ensovoorts.

Moderne gedigtekste word meestal in die eerste plek geskryf om op papier te verskyn; om gelees te word. Die leser moet dus, net soos die digter, weet dat as ’t ware alles op daardie stuk papier betekenisdraend is of kan wees: klanke en klankherhalingspatrone; ritme en metrum; woordkeuse- en woordboupatrone; letterlike én moontlik figuurlike woordbetekenisse; sinsbou, versbou, gedigbou; noem maar op. Selfs die lettertipes wat gebruik word én die wit tussen en rondom die woorde is interpreteerbaar (of kan dit wees).

As gedigte getoonset word, word die visuele prosodiese aspekte ingeboet by die uitvoering daarvan (tensy die luisteraar die teks voor oë het). Maar daar kom aan die ander kant heelwat by, naamlik musiekkodes. Laasgenoemde behels interpreteerbare aspekte soos musiekstyle, toonaarde, instrumentbesettings, en dergelike – dinge waaroor ek nie sinvol kan skryf nie, omdat ek helaas geen musiekopleiding gehad het nie.

Lirieke word in die eerste plek geskryf om gesing of uitgevoer te word. In daardie omgewing staan musiekkodes gewoonlik sentraal. Wat die poëtiese kodes betref, sal ’n mens kan aanneem dat eintlik net die hoorbare aspekte, die ritme en die klank, ter sprake is.

Ook hier behoort die moderne tegnologiese ontwikkelings egter nie uit die oog verloor te word nie. Liriekskrywers (en die uitgewers van CD’s en DVD’s) sou met vrug in gedagte kon hou dat die sorgsame aanbod van gedrukte lirieke op CD-boekies en dergelike verrykend op die belewing van die liedere kan inwerk.

Nóg komplekser word die saak as in ag geneem word dat hele nuwe stelle visuele kodes, byvoorbeeld ontleen aan die dans-, film- en selfs beeldende kunste, bykomend betrek word wanneer dit om musiekvideo’s of skouspelagtige konsertaanbiedings gaan. Van die gespesialiseerde en selektiewe interpretasieprosesse by die lees van gedrukte poësie is daar gevorder tot ’n onderdompeling in ’n oorvloedige kodeverskeidenheid. In ’n goeie aanbieding sal al hierdie stelle kodes meewerk om ’n verhewigde estetiese ervaring mee te bring. (“Groot lawaai, weinig wol” is ’n ou Afrikaanse gesegde wat egter die groot meerderheid van sulke pogings raak beskryf.)

Moser voer in die genoemde Poetics-artikel aan dat ’n komplekse wisselwerking tussen individuele begripsvormings- en kommunikasieprosesse dan plaasvind. Die individuele begripsvorming behels kognisieprosesse op die vlakke van waarneming, konsepvorming, emosionele én somatiese belewing. (Dink in laasgenoemde verband aan hoe die adrenalien kan pomp by ’n rock-konsert. Of aan hoe ’n wonderlike melodielyn ’n mens hoendervleis kan besorg.)

Kommunikasie hier verwys na hoe sosiale en kulturele kennisoordrag deur sanguitvoerings geskied (deur woorde, musiek, dans, beelde, die gedrag van sowel die kunstenaars as die gehoor), sodat betekenis- en ook identiteitsvorming kan geskied. (“Suksesvolle omgewingsvasstelling” of “kognitiewe beliggaming” noem Moser dit selfs.)

In so ’n vloed van kodes wat oor die luisteraar spoel, is die woorde van die lied maar net één van die bronne, en is die betreklike belang daarvan kleiner. (Moser skryf dat baie mense getuig dat hulle by die geniet van sanguitvoerings nie eintlik na die lirieke luister nie.)

In elk geval is die belang daarvan dan kleiner as byvoorbeeld in chansons of luisterliedjies, waar die woorde gewoonlik net so swaar weeg as die melodie. Vandaar dat lirieke wat in sulke liedsoorte gebruik word, meermale sterker digterlike eienskappe vertoon as, sê maar, rock-lirieke.

Maar ook weer nie noodwendig nie.

Bernard Odendaal
Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans
Universiteit van die Vrystaat

Ns. Hier onder verskyn ’n liriek geskryf deur Franz Josef Degenhardt, een van die sogenaamde Duitse Liedermacher van die afgelope vyf dekades. Die Liedermacher het baie gedoen om die Duitsers se vertroue in hulle volksliedkuns te herstel na die misbruik daarvan deur die Nazi’s voor en tydens die Tweede Wêreldoorlog (soos in die meegaande lied geïmpliseer word). Die Liedermacher-beweging is eintlik ’n selfs nog interessanter ekwivalent van die Musiek-en-liriek- en die Voëlvrybewegings van vroeër hier by ons. Ek het “Die alten Lieder” van Degenhardt vertaal met die oog op ’n Afrikaanse kabaret oor die Liedermacher wat vir 2009 beplan word, met Herman van den Berg as sanger.

Die alten Lieder

Wo sind eure Lieder,
eure alten Lieder?
fragen die aus andren Ländern,
wenn man um Kamine sitzt,
mattgetanzt und leergesprochen
und das high-life-Spiel ausschwitzt.

Ja, wo sind die Lieder,
unsre alten Lieder?
Nicht für'n Heller oder Batzen
mag Feinsliebchen barfuß ziehn,
und kein schriller Schrei nach Norden
will aus einer Kehle fliehn.

Tot sind unsre Lieder,
unsre alten Lieder.
Lehrer haben sie zerbissen,
Kurzbehoste sie verklampft.
Braune Horden totgeschrien,
Stiefel in den Dreck gestampft.

Wo sind unsre Lieder,
unsre alten Lieder?

Die mooi ou Lieder

Waar is julle Lieder,
julle Duitse Lieder?
So vra vreemdelinge somtyds
waar ons rus by kaggelgloed,
moeg gedans en –fuif en –flikflooi,
al die high life uitgewoed.

Ja, waar ís ons Lieder,
al die mooi ou Lieder?
Vir g’n geld ter wêreld meer nie
word die kaalvoetdae begeer,
en g’n keel wil nou meer tril nie
met die wysies van weleer.

Dood is al ons Lieder,
Al die mooi ou Lieder.
Onderwys het dit verbrysel,
kortbroektroepies dit vervals.
Bruin kolonnes dit geskree-sing,
stewels dit vertrap tot mars.

Waar is ons ou Lieder,
al die mooi ou Lieder?