Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
> ’n Milkshake vir Ronnie

’n Milkshake vir Ronnie


Christine Barkhuizen-Le Roux - 2006-10-25

Vir Ronnie het ek seker altesaam twaalf, of op die meeste vyftien, keer in my lewe gesien – insluitend die kere wat ons mekaar by ’n Woordfees of ’n Kunstefees in die verbygaan “hallo” gesê het.

Ronnie was ’n “geleerde” man, soos gewone mense praat van iemand met ’n graad of twee. Maar oor sy grade en sy geleerdheid wil ek nie praat nie. Ronnie was juis ’n groot man ten spyte van sy grade en sy slimgeit. En dit is wat ek van hom die meeste waardeer het: Ronnie het ’n mens gebly. Nie dat ek sê geleerdheid is ’n slegte ding nie – maar as geleerdheid jou wegneem van dit waarmee jy grootgeword het, as jy jou wortels verraai of verloor, as jy blasé raak, as niks jou meer plesier verskaf nie omdat jy eintlik te “hoog” is daarvoor, dan het jy jouself verloor.

Ek het Ronnie leer ken by ’n voorleesaand op Stellenbosch. My vriend John van Reenen – groot John, die diskusgooier – het my gebel en gesê, jong, Ronnie reël sulke poësie-aande waar digters voorlees, en daar is ook geleentheid vir digters van die vloer af – ongepubliseerde digters. My slimme vriendin Cobie Cilliers, skrywer van kortverhale, het gesê: Kom ons maak ’n boekie met ’n paar van jou gedigte daarin, dan neem jy dit saam en dan deel jy dit sommer uit – ’n mens weet nooit wat gebeur nie.

Die aand self was nie watwonders nie. Ek het nie die gevoel gekry dat wat ek gelees het, enigiemand geraak het nie. Ek het wel vir Ronnie ontmoet, die vriendelike man met die oë wat toegeskreef het wanneer hy lag. Elke voorleser wat nog nie gepubliseer het nie, het die kans gekry om één gedig te lees. Ek het ’n kort gedig, “roudiens”, wat later in dimensie verskyn het, gelees. John van Reenen het die boekies met die paar gedigte onder die aanwesiges uitgedeel, en Ronnie het ook een gekry. Maar ek het huis toe gekom met die gevoel van “Ag, wat, nou is dit ook verby, en my gedig was so kort dat dit sekerlik op niemand indruk gemaak het nie” – daar was ook studente wat gelees het, en een van hulle het ’n gedig gelees wat ’n hele Paasnaweek lank was ...

Twee maande daarna, nadat ek my kinders by die koshuis op Riversdal gaan aflaai het, kom ek by die huis en my man sê: “Ronnie Belcher het gebel; hy soek jou – jy moet hom terugbel.” Ek het dit gedoen sonder om enigsins opgewonde te raak, want ek het teen daardie tyd al harde lesse geleer oor mense, uitgewers, ander digters en lesers wat hulle nie aan die poësie steur nie; veral glad nie belangstel daarin om te kyk na die werk van nóg ’n ou (boer)vroutjie – soos Ronnie later gesê het om my siel uit te trek – wat nou ook gedigte wil skryf nie. Dus, ek het gebel, maar sonder om ooit te dink dat Ronnie dalk dink daar steek iets in my werk.

Wat hy my oor die telefoon gevra het, was: “Het jy nóg van hierdie gedigte?” Ek het gesê ja, ek het, en hy het gesê, “Stuur dit vir my.” Ek het gesê ek sal dit pos. “Nee,” het hy gesê, “faks dit, dis baie gouer.”

Die faksmasjien (wat ons nou nog het) het Noag gebruik om die buitewêreld te laat weet hy sit op Ararat, en dit het ure geneem om die omtrent 60 gedigte deurgestuur te kry. Maar ek het nie verwag dat hy dit ernstig sou opneem nie. In hierdie lewe is daar min mense wat ander sommer help – daar is uitsonderings, en ek het agterna met nog sulkes te doen gekry – maar dit is nie ’n algemene ding nie. Veral nie met iets soos die poësie nie.

In elk geval, ek en Cobie is intussen uitgenooi deur Marzanne le Roux van der Boon (ek het toevallig – nee, ek glo nie aan toeval nie, regtig nie – langs haar beland by een van Barrie Hough se skrywes wat as ’n toneelstuk opgevoer is by die KKNK) om na die Afrikaanse Skrywersvereniging (ASV) se jaarvergadering te kom in die Kaap.

Ek het vir Cobie gesê: “Kom ons gaan – hulle sal seker nou maar dink ons is ‘plebs’ van die platteland, maar kom ons gaan in elk geval.”  Weg is ons, en ons het lekker gaan eet die aand, en groot pret gehad in die Kaap, waar ons Barrydalers so min kom.

Intussen het Ronnie die vorige week weer huis toe gebel, gevra of ek nog gedigte het, en gesê hy vind daar is baie goeie goed. Ek het nie eens geweet wie Ronnie werklik was nie – so in die loop van die tyd het ek uitgevind hy was ’n professor in Afrikaans by Natal, en ook in Bophuthatswana, maar het ook op baie ander plekke klasgegee. Ronnie was nie iemand wat op een plek kon stilsit nie, so het ek later agtergekom. Hoe ook, tydens die telefoongesprek het ek vir hom genoem dat ek en Cobie na die ASV-vergadering toe gaan, en gevra of hy ook gaan. Nee, het hy gesê, hy moet Bredasdorp toe, hy sal nie daar wees nie.

Die oggend van die vergadering is ek en Cobie met die plaasbakkie (waarmee ons nog die vorige aand ’n pap wiel  ook gekry het!) Pinelands toe na die Huis der Nederlanden. Ek het nog nooit in Pinelands gery nie, en Cobie, wat vroeër in die Kaap gewerk het, moes navigeer – hier links, daar regs, draai om, ons is nou verkeerd ens. Maar ons het daar uitgekom.

Ons het eers gaan koffie drink by ’n restaurantjie in die winkelsentrum aan die oorkant. Terwyl ons ’n toebroodjie eet en koffie drink, het daar ook ’n belangrike man gesit en lees in sy dokumente – jy kon sommer sien aan sy houding en sy klere en die uitdrukking op sy gesig dat hy “iemand” was. Hy was die spreker by die ASV-vergadering, het ons later  besef. Nog ’n ander bekende politikus was daar in al sy belangrikheid, en hy het ook ’n spreekbeurt gehad.

Daar was darem gewone mense ook – blankes en bruin mense wat aspirantskrywers was – maar ook iemand soos Elias Nel, wat reeds ’n gevestigde en goeie skrywer was teen daardie tyd (2000). Van hom en sy vrou het ek dadelik baie gehou.

In elk geval, toe die hoofspreker nog aan die “(s)preek” was, gaan die deur aan die agterkant van die saaltjie oop, en Ronnie kom ingestap. Deksels! dink ek, hy het dan gesê hy kan nie kom nie. Maar goed, sy planne het seker maar verander.

In sy hand het hy ’n bruin papiersak gehad, soos iemand wat op pad was om êrens ’n skof handewerk te gaan doen en sy toebroodjies daarin saamgeneem het. Hy het in die agterste ry gaan sit, en ook geluister na wat die belangrike sprekers te sê het. Of dalk het dit hom verveel – agterna gesien dink ek nogal so, maar toe het ek hom nog glad nie geken nie.

Die vergadering was in twee tydsgrepe verdeel: die eerste deel is afgestaan aan al die toesprake en ook administratiewe goed soos om ’n nuwe voorsitter te kies, ens. Toe was dit teetyd, waarna van die mense teenwoordig ook van hulle skryfsels kon voorlees. Vooraf het ek vir Marzanne, of Sasha, soos ek haar later leer ken het, ook een van die vasgekramde boekies gestuur wat ek die aand op Stellenbosch uitgedeel het. Sy het gesê ek moet ook in voorleestyd van die gedigte lees, want sy dink dit is die moeite werd.

Toe die vergadering verdaag vir die teepouse, het Ronnie na my toe gekom en gesê ek moet by hom kom sit en tee drink, want hy wil met my praat. Dit was die tweede keer dat ek hom gesien het, en ek was tóg bly dat hy skynbaar oor my gedigte met my wou praat. Toe ons met die teekoppies by ’n tafeltjie gaan sit, het hy drie teelepels suiker ingegooi - “net so drietjies,” het hy gesê as hy tee of koffie gedrink het – dit wil sê as daar nie iets anders as koffie of tee beskikbaar was nie.

Hy het gevra of ek van my gedigte die dag daar het. Ek het gesê ja, ek het, want Marzanne het gesê ek moet iets lees, en toe vir hom gevra: “Maar wat dink jy? Dink jy ek moet lees, of nie?” Sy antwoord was: “Ja, ek dink definitief so, en ek sal jou ’n baie goeie rede gee hoekom ek dit sê – want jou eerste bundel is vandag gepubliseer ...”  Hy het die papiersak wat langs hom op die vloer gestaan het, opgetel en ’n stuk of agt proewe van die bundel dimensie uitgehaal.

Wat kan ek meer sê? Hier was iemand wat in my geglo het – en wat iets daaraan GEDOEN het.

Ek het huis toe gebel en vir my man en kinders vertel. Niemand kon dit glo nie. Ook ek nie. Dié aand het ek en Cobie by Marzanne en Bob van der Boon oorgeslaap, en Bob het ’n bottel vonkelwyn oopgemaak. Ronnie was nie daar nie; hy was toe lankal weer op pad na êrens anders.

Ek het nie gehou van die voorblaaie wat hy daar gehad het nie, en ek het hom later gebel en gevra of ek my eie voorblad kon gee – ’n skildery van ’n vrou wie se gesig in verskillende vlakke geskilder is – wat myns insiens goed gepas het by die titel dimensie. Die titel was eintlik ’n op-die-ingewing-van-die-oomblik-besluit, want Cobie het gedink daardie klein boekies wat ek op Stellenbosch sou uitdeel, moes darem ook ’n titel hê, en ek het so vinnig-vinnig besluit ek haal die titel uit die gedig “waterskeiding”. Ronnie het die bundel toe hy die Saterdagoggend daar aankom met die bruin kardoes, reeds laat registreer onder die titeldimensie, ISBN en al. Maar ek het in elk geval gehou van die titel, dit was gelaai met veel meer as een betekenis.

Agterna het ek gedink Ronnie moes dalk nie ál die gedigte in daardie bundel opgeneem het nie – party was nie goed genoeg nie – maar tog was ek nooit, nooit spyt oor die totaal onkonvensionele manier waarop my eerste boek uitgegee is nie. En dat dit juis deur hóm, deur sy uitgewery Suiderkollege, uitgegee is nie. Ons het intussen die voorblad laat maak, en ek het hom een oggend in die Neelsie op Stellenbosch ontmoet vir koffie (ten minste, ék het koffie gedrink) om daaroor te praat.

Met die bekendstelling van die bundel op Barrydale was hy, Braam de Vries, Hans du Plessis en Doks Briers ook daar. Ek het meer as bevoorreg gevoel. Toe Ronnie die aand sy toesprakie lewer, het hy gesê: “Christine, onthou, ’n digter moet álles kan doen, dis nie iemand wat êrens in ’n kamertjie sit en skryf nie. ’n Mens moet lééf om te kan skryf – en jy moet jou man se sokkies ook stop (!!). Moenie dink jy moet ophou om ‘gewone’ goed te doen nie.” Vir Bertus het hy voor in sy bundel My hart sing sewe moppies geskryf: “’n Man wat kan sê ‘dit het so ’n handjievol gereën’, is óók ’n digter.”

Oor al Ronnie se kwaliteite, en hoe hy grootgeword het (hy het swaargekry, dit weet ek), wil ek nie uitwei nie – daar is mense wat hom baie beter geken het as ek. Wel weet ek dat die Griekse woord aretê van toepassing was op hom – die term is deur die Grieke gebruik wanneer hulle gepraat het van die ideaal (veral op sportgebied in hulle geval) dat ’n mens in meer as een ding uitblink. Vir die Grieke was dit nie die hoogste of die grootste dat 'n persoon die wêreldrekord hou vir sê maar hoogspring nie, maar die een wat die mééste items góéd kon doen, hý was die beste. Hierdie term het ek die eerste keer teëgekom in Braam de Vries se boek Afspraak met eergister, sy reisjoernaal oor sy besoek aan Griekeland. En Ronnie was een van die veelsydigste mense wat ek ooit ontmoet het. Hy het op sy dag vir WP rugby gespeel, later Afrikaans gedoseer, huise gebou, wyn gemaak (die wyn was nie so lekker nie, maar nogtans), gedig, stories vertel ...

Behalwe hom ken ek nog net twee sulke mense wat eintlik alles kan doen, maar dit is nie oor hulle wat ek skryf nie. Ek skryf oor Ronnie, wat met sy oë toegeknyp van die lekkerte om nege-uur in die oggend ’n pienk milkshake gedrink het, wanneer ander mense stigtelik met koppies koffie sit.

Liewe Ronnie – dankie dat ek jou kon ken. Jy het onbedorwe deur die lewe gegaan, sonder dat jou slimheid en jou vaardigheid (in soveel opsigte) na jou kop toe gegaan het. En jy het, waar die meeste ander mense net práát, gedóén. Jy het mense, ook vir my, gehelp om ’n voet in die deur te kry in die skryfwêreld (wat meesal wreed en ontoeganklik is vir iemand wat nog buite staan).

Jy was ook nie net die grapjas wat baie mense gedink het jy was nie. Iemand wat die volgende gedig kon skryf, het dalk soms moes skuil agter die lag:

 

Voël

Met gras en waaisand half bedek
lê muf en benerig ’n voël
met stywe bene en wydoop bek.

Die vlerke wat eers hoog en blink
gestyg het in die môreson
lê sonder vere en effens stink

en waar ’n vloed van sange was
is alles stil, is alles dood
onder die waaisand en die gras.

O moenie dat jou hande beef
want alles wat die dood afsny
moet jy laat leef.

Haal dan jou sakmes uit
en sny ’n hol, wit beentjie uit sy bors
en maak daarmee ’n fluit.

Ons  sal fluite maak vir jou, Ronnie. En vanoggend stuur ek vir jou ’n pienk milkshake vir brekfis.

Sondagoggend 22 Oktober 2006

Christine